Eina Oubaas!

DSCF5407

Nee, dis nie Chopper wat so lamenteer na ‘n operasie om ‘n geskeurde kruisligament te heg nie, dis oubaas se beursie wat so weemoedig ululeer. Oubaas is platsak en die beursie is platter as ‘n basaarpannekoek. Ek wil liefs nie vertel wat daai operasie gekos het nie, julle mag dalk dink ek is ‘n ryk man.

Goeie nuus is dat Chopper weer amper op vier bene is, trap nog so nou en dan ligvoets met die seer voet in die lug. En dit alles oor hy so ‘n aktiewe brak is, moet alewig spring.Dit was altyd vir my oulik en ek het die bokspringery aangemoedig, nou weet ek van beter.

Die ou man en die duif

 

Gistermiddag, so skuins voor afskoptyd, balf die honde agter in die erf, ‘n opgewonde blaf, een wat roep vir ondersoek. Toe ek buite op die stoep staan, sit die telefoondraad vol duiwe, wagtend vir die kos wat ek elke middag strooi. Die volgende oomblik is daar ‘n klapgeluid en die duiwe vlieg verskrik weg, behalwe een wat tuimelend neerfladder. Ek moet spring om hom te red voor die honde toeslaan. My hande is vol rooi klewerige bloed, los vere, die duif wanhopig om weg te kom. Dan besef ek , een of ander doos het die duif met ‘n windbuks geskiet. Ek is seker die skoot het van die erf skuins agter gekom, maar toe ek oor die muur loer sien ek niks. Die duif se vlerk is af, die koeëltjie in sy lyf in. Ek het nie kon dink dat ‘n duif so baie kan bloei nie. Ek sit die duif in een van Vroukie se vele ornamentele voëlkoutjies, sit hom in die garage met kos en water. As hy wil dood sal dit ten minste op sy eie wees, sonder dat hy katkos word . Vanoggend leef hy nog, sit in die koutjie en kyk my verwytend en bang aan. Jy wil my lewe steel, sê sy oë. Sal sy vlerk aangroei? Sal die koeëlwond toegroei? Sal die wond ontsteek en die weefsel verrot?

Draai sy nek om, sê my buurman, sy vlerkbeentjies is versplinter, dit sal nie aangroei nie, hy het pyn, hy ly.

Fok Buurman, dis my duif,een van die wat my smiddae kom roep vir kos, een van die wat mak hier voor my voete wei.

Ek sal dit vir jou doen, Lewies. Die duif sal nie regkom nie.

Ek moet in elk geval more ‘n draai by die veearts maak, sal hoor wat hy sê.

Ironies, ek bly in Birdlaan, die skoot het uit Mossielaan gekom. Bird, Mossie, bosduif.

Die bliksem.

 

Oor Lewies, Salomo en die dinge van ‘n vrou

 

Lewies sit en lees ‘n boek, getiteld Die 13e Kaart, pennevrug van Madeleine Rust. Dis ‘n bloeddorstige moordverhaal waarin die bloed Ou Testamenties vloei, nie sedert die slag tussen die Amelekiete en dieTransvestiete het die bloed so vrylik gestroom nie. Daar’s ‘n lyk op elke bladsy, grusaam vankant gemaak. Kortstondig dwaal Lewies se aandag en hy is vaagweg verwonderd oor die feit dat die blogger wat die boek aan hom bekend gestel het ook ‘n liefdevolle ouma is wat in tere troeteltaal briewe aan haar kleindogter skryf. Die yin en die yang van die vroulike psige laat hom Babels verward.

Nietemin, terwyl Lewies so sit en lees en wonder, sê Vroukie eensklaps:

“Lewies!”sê sy.

“Ja Vroukie, wassit?” antwoord Lewies en kyk ietwat gesteurd op terwyl hy hom met moeite wegskeur van die spanning wat nou high voltage bereik, daar is nog ‘n lyk op die punt om te word.

“Het jy jou hare geknip?”

“Ja” antwoord Lewies in sy skik, “ek het dit sef gedoen, DIY”

“Nou hoekom vra jy my nie om te help nie, ek doen dit tog altyd vir jou?”

“Nee, ek wou nie pla nie, toe probeer ek maar. Hoe lyk dit, nie te sleg nie, huh?”

Vroukie kyk na Lewies. Sy kyk stip na hom. Daar is iets in haar oog, maar dit is nie ‘n twienkel nie. Dit lyk eerder na ‘n kry-ek-nou-lag-vir-jou glinstering.

“Wassit Vroukie? Sien jy iets snaaks? Is daar ‘n hap?”

“Het jy ‘n spieël gebruik? Of was dit ‘n blind cut?”

“Moenie spot nie. Wat is fout?”

“Jinne Lewies, hier is ‘n hap van omtrent twee vinger breed, jou bles is nou amper twee keer so goot as wat dit was!” Weer daai glinstering, wat nou dreig om ‘n smaail te word.

Lewies vryf oor sy kop. Wragtag, hier waar altyd nog ‘n paar hare was is nou net stoppels.

“Lyk dit kak Vroukie? Sal die mense vir my lag? Kan jy iets doen om dit weg te steek?”

“Ja, ek kan Mercuruchrome daaroor verf dan lyk dit soos ‘n operasiewond, jy weet, frontal lobotomy”

“Fok Vroukie, moenie ‘n gat van my maak nie!”

Daai glinstering is nou ‘n full blown smaail wat huiwer op die randjie van openlik lag.

“Lewies, dis nie ek wat ‘n gat van jou maak nie!”

“Weet jy, Vroukie, as ek nou Salomo was het ek sommer nog ‘n vrou gevat” sê Lewies vies.

Vroukie vat Lewies se gesig in haar hande. Sy druk sy wange tussen haar palms dat sy mond pruil soos ‘n Krismiskalkoen se poephol. Dan sê sy so koetsjie-koetsjie “En watter vrou sal jy vat, Deborah of Sippora, of dalk Amphora?”

Ja’k selfs ou Salomo het verbyster gestaan oor die dinge van ‘n vrou.

 

 

 

 

 

 

 

Iets om oor huis toe te skryf.

 

Gedorie! Daar doen Danie dit! Terwyl ek in Hartenbos luilekker luier op ‘n welverdiende wegbreek uit my uitmergelende emeritaat bestaan, boekstaaf hy ons ontmoeting en die lekker kuier. Amper het dit nie gebeur nie, ons sou reeds met die dag van die ontmoeting weg gewees het, maar die gure koue front wat ewe skielik hier in die Kaap aangekom het, het ons genoop om die vakansie met ‘n paar dae uit te stel.

Dit was my eerste ontmoeting met ‘n Paraguyaan , mens sou dit nie sê nie want ou Danie lyk nes ‘n Vrystaatse Boerklong daar uit Smithfield se wêreld. En met daardie einste eienskappe wat van ’n boer ‘n Boer maak. Kyk, om jou goedjies hier in Suid-Afrika op te pak en jou hartsgrond vaarwel toe te roep op soek na ‘n beter, veiliger bestaan vir jou en jou geliefdes in ‘n vreemde land met ‘n vreemde taal en vreemde kultuur waar alles vir jou onbekend is en om dan met geloof, vertroue in jouself en harde werk jou visie waar te maak sit nie in elke ou se broek nie. Vir seker nie in myne nie. Ek kan onthou hoe ek daar in die begin toe ek Danie, doerie tyd Latino, se blog begin lees het altyd verwonderd was dat ‘n mens so ver in die vreemde kan gaan en gelukkig en suksesvol kan wees.

Die vrou des huises waar ons gekuier het, Danie se suster, het ons getrakteer met ‘n  beesstert, so uit die Boerekombuis,  terwyl die man des huises ‘n parmantige rooietjie geskink het, een wat kan saampraat in hoë gestoeltes. Ons spys en samesyn was geseënd en ons kon lekker gesels en luister na Danie se vertellinge oor sy lewe daar doer.

In sy blog-inskrywing oor die ontmoeting sê Danie terloops dat hoe ons bymekaar uitgekom het weer stof vir ‘n ander storie is. Dit het kortliks so gebeur:  Toe ek nou destyds op my blog vertel van ons verhuising Hermanus toe, het Danie laat weet dat sy suster en swaer in Vermont bly, hier om die draai van Hermanus af, en ons aangemoedig om met hulle kontak te maak, en so het hy hulle ook van ons vertel. In daardie dae toe ek nog taamlik ontredderd was na die trekkery en ietwat ontgogel oor die omvang van die selfopgelegde taak om ‘n haard van hierdie verwaarloosde huis en tuin te maak, het hulle ons kom besoek en so het ‘n vriendskap ontkiem.

Dit was inderdaad ‘n voorreg om Danie in lewende lywe te ontmoet en saam te kuier.

Hasta la proxima Danie!

Hier is die twee bloggers. Kyk maar of julle kan uitfgure wie is wie. Daar is geen pryse op die spel nie!

DSCN5816