Sommer strooi en ander verstrooisels

Taai man, taai. Taaier as ‘n Firestone All Terrain taaier. Dis nou die Beef Potjiekos vleis wat ek hier by Food Lovers’ Market gekoop het. Die twee werfhonde Pamela en Chopper het ruim oorskiet gekry, en nou sit hulle met sulke hangbekke, sweerlik verstuite kakebeen. Maar ek moes die groter prentjie gesien het, daai vleis was teen R59, 99 per kilo netjies uitgestal in die rak langs die getrimde fillet teen meer as R200, 00 per kilo. Dan moet jy mos nou weet jy koop bedenklike kwaliteit. Maar goodness, met die feesseisoen op hande is die vleispryse besig om die hemel in te skiet. Vroukie sê ons moet die Krismisete kreatief herbeplan, die tradisionele vleisbraai gaan nie werk nie . Bid jou aan, R200, 00 per kilo, sommer netso, sonder blik of bloos. Ek kan goed onthou toenterjare, in MY dae, soos die ou ooms in die familie altyd gesê het, het rump steak R3, 00 per kilo gekos daar by Cigler se slaghuis in Bethlehem waar ons ons getroude samesyn begin het. As ons nou rerig uitspattig wou wees koop ons fillet teen R3, 30. Vroukie had so ‘n lekker resep waar jy die fillet steak in skywe sny en dit in rooiwyn laat marineer. Dan braai jy dit in botter. Eenvoudig, selfs ek kon dit met sukses voorberei, en baie lekker. Dan bly daar nog rooiwyn oor vir die drink. Ons woonstelhuur was R35, 00 per maand, toe word dit onverwags opgeskuif na R36, 00. Dit kon ons darem bekostig, ek het immers R300, 00 per maand verdien en Vroukie R150, 00.

Kyk, die dierelewe hier in Hermanus in is vreemd vir my. Slakke ken ek, maar die variëteit wat ons hier aantref verstom my. Hulle is reusagtig groot, jy kan hulle hoor as hulle oor die gras seil, seil, nie kruip nie. En hulle vreet soos ‘n swerm sprinkane nie kan dink om te doen nie. Vandag het jy blomme, more is daar net gate. En die spinnekoppe! Ek word nou die nag wakker van so ‘n benoudigheid op my bors, dag dis ‘n dreigende hartaanval, toe is dit al die tyd ’n spinnekop wat op my bors kom nesskop. Toe ek hom verjaag voel ek hoe sy voete op my trap. En ek het nogal onder ‘n kombers gele^.

Nou die dag loop ek met die honde in die begraafplaas. Daar gewaar ek ‘n slang wat oor een van die grafte seil. ‘n Knewel. Hy seil oor ‘n dubbelgraf, sy kopkant is al oor die graf toe is die stertkant nog nie eens op die graf nie.Ek het groter vir die bleddie slang geskrik as wat ek vir ‘n spook sou skrik.

Ek het darem ‘n oplossing vir honde se vernietigende gatgrawery gekry. Ek kry toe mos hierdie blink ingewing: ek plant Venus Flytraps in die beddings, en as die honde dit in die beddings waag dan byt die blomme hulle! Snags hoor jy net honde tjank soos daai Flytraps hul tande inslaan. Maar g’n gegrawery meer nie.

Tja’k, so leer mens die trieks van die lewe.

Advertisements