My swye die afgelope tyd is te danke aan die feit dat ek en Vroukie ‘n week lank in Ballito gaan kuier het. Dit was aanvanklik bedoel as ‘n kuier saam met Swaerkie en Skoonsus, sou ‘n verrassing vir Skoonsus gewees het, ons sou mekaar “toevallig “ êrens by ‘n restaurant raakgeloop het. Maar toe word Swaerkie gediagnoseer met kolonkanker en hy word inderhaas geopereer. Die vakansieverblyf en vlugkaartjies was reeds betaal en ek en Vroukie besluit toe om maar alleen te gaan. So op die nippertjie dink ons daaraan om vriende uit Klerksdorp te nooi om saam te gaan, en sowaar, daar werk dit uit. Teen daardie tyd is Swaerkie reeds geopereer en sy prognose lyk goed, dus kon ons lekker kuier sonder erge bekommernis oor hom.
In ons afwesigheid het ons aan die huis laat werk, die laaste finale afronding van restoureerwerk wat begin het toe ons die huis in 2012 gekoop het. Op daardie stadium het ons nie daaraan gedink om die plafon in die sitkamer te vervang nie, en aangesien dit so ‘n morsige werk is was ons ook nie lus om te doen nadat ons ingetrek het nie. Dit het dus sin gemaak om die werk te laat doen terwyl ons weg was. Alles het goed uitgewerk, die nuwe plafon is geskiem soos hulle sê en gesonke liggies is ingesit. Baie liggies, seker heeltemal te veel. Ons het ons laat lei deur Mnr Google wat die wyse raad kwytgeraak het: eerder te veel as te min. Nou lyk dit soos ‘n planetarium as die liggies aageskakel is, kompleet met die Groot Beer en die Klein Hond de lot. As Eskom hiervan te hore kom het hulle nog ‘n verskoning vir die duisternis wat onverwags oor ons toesak. Gelukkig het ons ‘n dompskakelaar, verdompskakelaar? ag, verdomp, ‘n dimmer switch man, ingesit om die fel lig te tem. Daarmee saam het ons ook die vloer laat skuur en vernis , nog ‘n ontwrigtende aktiwiteit, wat ook meegebring het dat daar nie veel moontlikheid was om voor die rekenaar te sit nie. Die bouer het bietjie meer afgebyt as wat hy kon kou en die joppie het lank gedraal—eers gister op die heilige Sabbat is die finale werk gedoen. En nou is ek uiteindelik weer op die lug.
Ek is ook nou deur so storie maar ek moes maar soet bly en al die stof inasem. Party mense is ook gelukkiger as ander;-)
Dis een helske gemors. Jy is baie baaf!
Dan kan ek maar sê: Welkom tuis!
Ons plekkie benodig ook ‘n bietjie restorasie werk, dit sou wonderlik gewees het as ons op vakansie kon gaan en terugkeur nadat alles gedoen is. Maar ons loop vas elke keer teen skelms. Ons gaan maar liewers probeer trek na ‘n ander plek want niemand doen betroubare werk meer nie.
Dis ‘n groot ontwrigting om tuis te wees as daar aan en in die huis gewerk word–mens voel ook maar onrustig oor die vreemde werkers op die werf. Ons bouer werk nou al amper twee jaar aan allerhande joppies hier by ons (die huis was taamlik verwaarloos toe ons gekoop het) en teen die tyd vertrou ons hom en sy werkers.
Klink lekker… net daardie liggies het ek besluit is nie vir oumense nie … die ontwikkelaars hier reken mense van ouderdom lees nie meer nie
hulle dag sal ook kom!
Ons het ook hierdie afgelope jaar baie verbeterings aangebring.Soms wou ek my polse stomp afkou!
Ek was so lank blog afwesig, maar dis so lekker om weer van jou en jou vroukie te lees!