Mylpaal 43

Op hierdie dag en datum in die jaar 1973 staan ek uitgedos en opgetof in ‘n suit en tie, a la mode du temps, daar op die rooi mat voor die kansel van die NG Kerk Kroonheuwel, in my geboortedorp Kroonstad, wagtend op my bruid to be om met die lang gang aangestap te kom sodat ons plegtig in die heilige eg verbind kan word. En toe die orrelis die pype ooptrek en Mendelsohn se Troumars deur die gewyde gewelf weergalm, kom Vroukie  aangesweef na my toe, met die allermooiste glimlag op haar gelaat, en  haar pa met ‘n swak verdoeselde frons van bekommernis  op sy voorkop. Toe vergeet ek skoon van bewebroek en my hart mis ‘n slag soos ‘n sleg getunde Cortina. Die mooiste oomblik van gans my lewe. Saam het ons die lewenspad begin, en nou, hier by die drie en veertigste mylpaal, is ons geseend om nog steeds hand aan hand te loop, die toekoms tegemoet.

Dankie Vroukie, vir al jou liefde en verdraagsaamheid. Saam met jou is die lewe ‘n lied, en vir seker nie  ‘n elevator music bleeksiel geteem nie! Rock on!

Die pes wat in die dag wandel

Fo…fol…follie…nee wag, fo…fok…fokkie, ja, dis hy! Fokkulere ekseem, dis wat ek het. Deur die dag bekruip en in die nag bespring soos deur ‘n Bybelse pes. Jollie jeuk se moses. My vel is skubberig soos ‘n krokodil met sonbrand s’n, dikker as Zuma s’n.  Die dermatoloog s^e  “Moenie worry nie, dit kon erger gewees het, Herpes Zoster.” En dis nie ‘n karakter uit die nuwe Star Wars film nie, nee, hy is ook bekend as Gordelroos. Dis nou ‘n outjie daai met wie ek nie wil sukkel nie. ‘n Boksie salf en 10 pilletjies, en Bob is jou oom! Baai baai fo…fok…ag fokkit, daai een!