Hippokrates is jy nog hier?

Dis wat ek wonder as ek terugdink aan ons dogter wat nou die dag ‘n knoppie op haar bo-lip ontdek. Eerste gedagte is dat dit ‘n koorsblaar is. Maar die apteker se salf help nie en die groeiseltjie word groter en lastiger. Dus dokter toe. Nee, erken hy, hy kan nie die groeisel diagnoseer nie maar “dit lyk nie goed nie, dit sal chirurgies verwyder moet word, diep.”  Hy verwys haar na ‘n  plastiese chirurg om die groeiseltjie met wortel en tak te verwyder. Dan sal dit getoets word om die aard daarvan vas te stel. Die plastiese chirurg is dit eens met die GP, die saak lyk nie goed nie. Dringende en aggresiewe optrede is noodsaaklik.  Twee operasies word in die vooruitsig gestel, eerstens word die groeisel verwyder, en dan word die wondletsel herstel met ‘n veloorplanting. Intussen is ek en Vroukie nogal ontsteld. Ons praat nie met mekaar daaroor nie, maar kort-kort laat val een van ons ‘n opmerking wat ons bekommernis verraai.  Sy, ons dogter, besluit om voor die operasie eers by ‘n dermatoloog uit te kom.   Met mooipraat kry sy ‘n indruk-afspraak.  Sommer so oor sy lessenaar diagnoseer hy ‘n vrat en bevestig sy diagnose met ‘n deeglike ondersoek. Die vrat word oppervlakkig verwyder vir laboratorium toetse en verder gevriesbrand. Sy moet oor twee weke gaan vir ‘n opvolg ondersoek en moontlike verdere vriesbrand.

Nou wonder ek, moes die GP haar nie in die eerste plek na ‘n dermatoloog verwys het nie, in plaas van ‘n plastiese chirurg? Is laasgenoemde bevoeg om in hierdie geval ‘n diagnose te maak? Bestaan daar dalk iets soos mediese netwerkbemarking waar ‘n pasient van een dokter na ‘n ander verwys word en een prosedure na die ander gevolg word bloot om finansiele redes, maw om die mediese fonds vir eie gewin te melk? Ek het altyd sulke siniese sienings verwerp, maar na hierdie insident en ander soortgelyke voorvalle waarvan ek bewus is en waar mense wat terminaal siek is nog steeds aan lewensgevaarlike operasies onderwerp word  weet ek nie.

Hippokrates of hipokrisie?

16 thoughts on “Hippokrates is jy nog hier?”

  1. Ek moet ongelukkig met jou saamstem. My dogter het dieselfde probleem gehad – klein vratjie op die tong en die GP wou haar inboek in hulle privaatkliniek vir verwydering. Wat sou dit gekos het, wonder ek? Die dokter by die staatshospitaal in Port Shepstone het dit ‘n maand gelede gevriesbrand – sonder betaling.

      1. Ek moet sê ek verlang ook na die dae toe die huisdokter nog ‘n goeie vriend en ‘n simpatieke oor was. Maar toe was daar nog regte bankbestuurders ook en as jy vir Telkom gebel het, het ‘n regte mens geantwoord. Tsk.

    1. Hulle sny daai pond vleis sommer net so uit. ‘n Vriendin van my ma is op 78 jarige ouderdom geopereer vir ‘n aneurisme.Sy het nie die operasie oorleef nie. Was so ‘n operasie op haar ouderdom werklik nodig? Sy kon seker weier, maar sy het haar laat lei deur die “dokter”.

  2. Hierdie sinnetjie, Ons praat nie met mekaar daaroor nie, maar kort-kort laat val een van ons ‘n opmerking wat ons bekommernis verraai., het ek nogals die laadte tyd ook beleef.

  3. “What if I told you your own medical profession holds back cures,
    refuses to approve alternative medicines and procedures because they threaten the very structure of the “healing” profession?” – Conversations with God book 1

    Sien die spesialis oor issues in sy gebied, glo ek. Gaan direk na die kenner toe.

    Daar is vreeslike stories onder die dokters en hulle personeel oor hoe sekere dokters ander se pasiënte steel en opereer vir elke bakatel – onnodiglik.

  4. Laat mens wonder… waar is die gewete in die lewe heen as die mediese klomp nou al saamstaan om te konkel?
    Ek hoop julle dogter is verby die slaggatjie in die lewe se pad! 😉

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s