Jy vra hoe was my jaar
Zuma Zupta en Brexit het jou moer gestrip
Roer daarby Eskom Telkom en SABC
En die Bokke for good measure
Wel, ek kon my kinders omhels
My kleinkinders teen my vasdruk
My vrou se warmte voel in die klein ure van die nag
My spore le in die sand langs die see
In die berge van Fernkloof
Op die klippiestrand van Agulhas
Ek kon elke dag met my honde stap
Die duiwe voer in die jaart
Hoor hoe hulle roep “Sit ‘n bietjie soontoe! Sit ‘n bietjie soontoe!”
Ek het twaalf volmane belewe, een nogal ‘n supermoon
Ek het voor ‘n kaggelvuur teen die Swart Suidoos geskuil
Gekyk hoe die winterreen teen die ruite trane maak
Ek het met ou vriende gekuier, vriende van ver
Ek het met nuwe vriende ’n glasie geklink
En met wildvreemdes op straat praatjies gemaak
Ek het die fynbos sien blom, die canolalande by Caledon
Ek het die branders gesien breek in springgety
En die wolke oor die see by Walkerbaai
Nee wat, dit was ‘n goeie jaar.
Mooi netjies opgesom – al die dinge wat saak maak in die lewe. Ek hoop 2017 gaan vir julle net so ryk wees aan wonderlike ervaringe.
Ons was gespaar van lelike goete die jaar en kon die klein dingetjies, wat eintlik saakmaak in die ou lewe, raaksien en geniet.
Hoe bevooorreg is ons ni om langs d see te bly ni! Vanoggend het my manvwurms gepomo op Struisbaai se strand en nou is ons op pad na die skip op Agulhas. Ek hoop 2017 is ook mooi jaar vir jou
Ek moes lank spartel en spook en swoeg voor ons hier in Hermanus kon kom nesskop, maar dit was die moeite werd!
Grinnik… jy word digter van formaat!
Die muse het ontwaak!
Ons aamvaar so baie dinge as vanselfsprekend en kla so gou dat als sleg is. Intussen gaan dit eintlik nog vrek goed met ons almal. Dankie vir hierdie perspektief. Mooiste 2017 vir jou en familie.
Dankie! Dieselfde vir jou en die mense vir wie jy lief is.
Geseënd jy maak my skaam.
Ons het baie om voor dankbaar te wees, ne!
Voorwaar!