Die wee van die liefde is duister. Die liefde hoop alles, glo alles, verdra alles. In die euforie van die liefde word beloftes gemaak, “Ek sal alles vir jou doen.” Totdat die beloftes beproef word.
So sit ek en Vroukie gister daar op Kaapstadse lughawe en wag vir my tante om doer ver uit die Noorde aan te kom vir ‘n twee weke lange kuier by ons. Ons het vroeer koffie gedrink en ‘n geurige broodjie geeet en om die asem te verfris vir die soengroetslag kou ons aan ‘n kougom. Myne is later net ‘n smaaklose stuk iets in my mond. Tyd om daarvan ontslae te raak. Die naaste vullishouer staan daar doer ver. Ek oorweeg dit ernstig om die stuk kougom ongemerk onder die stoel te plak, maar nes ek my vingers in my mond het voel dit vir my asof die leerskare wat daar in die aankomsaal sit en wag se oe op my gevestig is, so asof almal soos een man sal opspring as ek dit sou durf waag om so van die kougom ontslae te raak en hul vingers na my wys en luidkeels uitroep “Its him ! Its him! Its the chewing gum sticker!”
Ek loer na Vroukie en sien dat haar kake bewegingloos is. Wat het sy met die kougom gemaak? “Wat het jy met die kougom gemaak?” “Ingesluk”, antwoord sy. Nou kyk, vir kougominsluk is ek vrekbang. Kleintyd al het my ma my ernstig gewaarsku dat dit sal lei tot knoop-in-die-derm, ‘n allevreeslikste toestand, veral as die knoop stywer getrek word. Gedagtig aan die belofte “Ek sal alles vir jou doen” vra ek dus vir Vroukie of sy myne ook sal insluk, asseblief.
Sy se niks, maar haar kyk spreek boekdele, sommer baie bladsye vol vetgedrukte skrif met baie uitroeptekens en ander skriftekens soos # en *.
Toe sluk ek maar. En tot dusver nog geen knoop-in-die-derm nie.