Waarvoor is ek bang.

Ek skrik nie vir slange, spinnekoppe en spoke nie. Maar vir ‘n lewendige vis, en spesifiek ‘n baber, is ek skytbang, met permissie gese.  Toe ek nog daar doer in Klerksdorp in Noord-wes gebly het, het ek die volgende angswekkende ervaring gehad wat my vir ewig in ‘n koue sweet laat uitslaan as ek weer daaraan dink. So ampers was ek bokveld toe. So het ek destyds oor die skrikwekkende gebeure berig:

Baberspan is net hier om die draai van die dorp waar ek bly. As dit nou die jaar lekker gereën het, is dit ‘n lushof daar onder die wilgerbome. En groot visse wat daar loop, baber, karp,geelvis. Dis voorwaar ‘n vistermansparadys. So besluit ek toe een Saterdag ‘n tydjie gelede om te gaan lyn natmaak. Ek is vroeg-vroeg by die huis weg, met al die visvanggereedskap , ‘n padkossie en ‘n ietsie vir die keel, as die sonnetjie begin steek.

 

Ek kry toe ook ‘n gawe plekkie daar teen die water. Terwyl ek my daar tuis maak vir die dag se visvang, sien ek  ‘n paddatjie wat tussen die modderige gras spring. Lewendige aas, dink ek en haak die paddatjie aan die hoek. Ek het skaars ingegooi, of ‘n vis vat die hoek. Ek kan sommer voel dis ‘n grote die.

 

Ek stoei die kant toe en daai kant toe, maar die vis steek vas, kop tussen die knieë, en dan vat hy weer die lyn en seil deur die water dat die branderskuim so spat. Dis eers so skuins voor skemer toe ek voel sy kragte verslap, en eindelik katrol ek hom in na die oewer.  Dis ‘n yslike baber, soos ek nog nooit gesien het nie. Sy snorbaarde is soos dik soos my duim en langer as my arm. Hulle hang soos slurpe om sy bek. Ek steek my hand uit om die vis uit te trek, en die volgende oomblik slaan hy sy tentakels om my lyf en pluk my nader terwyl sy bek hier voor my oopgaap soos ‘n myntonnel op nege skag. Ek spook en spartel, maar verniet, duim vir duim trek hy my nader, totdat hy my kop bietjie vir bietjie in sy bek insuig. Dis stikdonker daarbinne, en ‘n stank soos uit die donker diepte van die dood slaan soos ‘n slymerige warm moeraswalm in my gesig op. Dit ruik asof die oorskot van die dood self daar in die duisternis nes gemaak het. Ek haal my flits uit my gatsak en lig in die donkerte in.  Hier voor in die flou lig van die flits sien ek die tamaai buikholte van die vis. Sy ribbebene span soos marmerpilare in die gewelf van ‘n Gotiese katedraal. Sy vlesige ingewande hang soos stalagtiete in die Kangogrot.  Hier voor my hang sy mangels, so groot soos die klok van ‘n sendingkerk, met klepel en al. Ek gryp dit vas en dan  klink dit meteens asof die koster die klok aan die tou beet kry en dit wild en wakker begin lui Dit  dreun  en dawer dat hoor en sien vergaan. Die baber se grate vibreer op maat van die gebeier van die klok en dan klink dit asof die orrelis agter die orrel inskuif  en die stoppe een vir een ooptrek.. Gewyde hallelujamusiek styg uit die vis se ingewande op terwyl die fyner visgrate ritmies in perkussie saam vibreer. Die argitektuur van die vis se ingewandsvolume is ‘n akoestiese perfeksie waarin al die klanke in harmonie saam jubel.

 

Die onverwagse irritasie op sy mangels veroorsaak skielik ‘n hewige niesbui en slungels slym en snot trek soos papgekookte macaroni by my verby terwyl een weergalmende niessametrekking na die ander deur die baber se liggaam ruk. Soos Jona van her  beland ek op my rug op die oewer van die kuil. Ek sukkel orent, net betyds om te sien  hoe daai padda wat ek as aas gebruik het, op ‘n amegtige niesgolf deur die lug aangevlieg kom. Hy gryp vas aan die een horing van my Bloubul hoedjie en swaai soos ‘n paaldanseres  al in die rondte voordat hy op die gras hier voor my voete val. Met ‘n paar mankerige spronge verdwyn hy in die gras. Die baber klap met sy stert op die water en sink dan in die dieptes weg. Ek kyk om my rond. Daar is geen ander siel te sien nie, niemand om hierdie ongelooflike verhaal van die groot vis wat weggekom het te staaf nie.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

 

Advertisements

24 thoughts on “Waarvoor is ek bang.”

  1. Die hoed Lewies! Jy moes die bloubul hoed op die vis se kop gesit het. Almal weet enige selfrespekterende Baber skaam hom dood om met bloubul klere in die openbaar te verskyn.

  2. Ek kom ook daar van Klerksdorp se wêreld af, onthou ons het so damhuis gehad. My pa het my net 1 oggend saam op die roeiboot gevat, daarna nooit weer nie. Hy het so 10kg geelvis gevang en die ding het onder die bankie gespring waar ek gesit en gil het. Pa het my summier teruggeroei wal toe. Phew.
    Ek glo elke word van jou storie, daai babers is groter as bote by Baberspan

  3. Klink vir my die akoestiese perfeksie aangewend moet word in musiek ouditoriums. Ek is seker ter wille van die welluidende klanke sal die eienaars van diamante ek perelhalsnoere die reuk verduur. Gooi dan ook ‘n paar bass in en jy het die perfekte beat.

  4. Ek mag nou weer kommentaar lewer (was mos in die spambox-tronk) en wou net gou inloer om te sê hoeveel ek hierdie storie geniet het. Wat ‘n ervaring! – en ek glo elke woord hoor?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s