My superpowers

My superpower het niks te doen met transformasie na een of ander wonderfiguur met surrealistiese kragte nie. Nee wat, dis ‘n plein en doodgewone verskynsel, nl die vermoe om ‘n berg skottelgoed skadeloos te stel. Jip, ek en Vroukie het nie ‘n skottelgoedwasmasjien nie, skottelgoedwas is ons manier van bond. So het ek deur die jare ‘n meester van skottelgoedwas geword, Swart Beld Eerste Dan, kan jy maar se, of drie Michelin sterre. So maak ek:

Ek benader ‘n hoop skottelgoed met ‘n militêre strategie so oud soos die Romeinse Imperium, Divide et impera, verdeel en heers. Eers word die wynglase (Hene Vroukie, het ons gisteraand Nagmaal bedien?) en die koffiebekers eenkant gesit, (weer met ‘n uitroep van verbasing: Hene Vroukie, hier is dan meer bekers as al die mense wat ons ken tesaam!).  Dan word die graad twee besoedeling geidentifiseer, messe, vurke, lepels, teelepeltjies, koekvurkies (koekvurkies?!) klein bordjies, papbordjies, groot borde en die plethora van plestiek bakkertjies en kakkertjies wat ongemerk en ongenooid in die wasbak opeindig. Nou vir die groot kanonne, die toestelle wat ek gebruik het om vanoggend se brekfis voor te berei en allerlei ander vetterige en aangebrande potte, panne, en kastrolle wat hier vergader is. Verder is dit easy peasy. Sorg dat daar musiek op die draadloos is, lekker musiek, dooilike musiek werk nie. Op die oomblik is Eric Clapton en BB King se Ridin’ with the King koek in die hoek. O ja, darem ‘n glasie rooiwyn ook, sommer plonk, hierdie is ‘n nederige joppie en verg nie embellishment nie.

 

Dan takel ek die spulletjie met warm water, ‘n sponsie en Sunlight liquid, definitief nie ‘n goedkoop plaasvervanger nie. By die potte en panne moet ek egter meer aggresief te werk gaan  Vervang die musiek met Rodger Waters se Pros and Cons of Hitch Hiking, draai die volume effens hoër, gooi die glas weer vol, tot die meniskus rooi soos die sonsopkoms vir jou oor die glas se rand loer, en skrop freneties met staalwol en ander hulpmiddels. Gooi Vim by, Handy Andy, spuit hardnekkige aanpaksels met Zeb, beitel die heel tawwes met ‘n skroewedraaier af. In enkele gevalle van totale mislukking moet die kooktoestel  maar as verlore beskou word en afgeskryf word. Dit is egter die laaste opsie en mens kan eers twee, drie dae later bepaal of die pot of pan reddeloos verlore is of nie as die swembadsuur wat jy ten einde raad daarin gegooi het, of die aanpaksel of die erd of albei weggevreet het. Pasop egter  vir die swembadsuur, soms reageer dit hewig en volatiel met die aanpaksel, na gelang van die koolstofgehalte daarvan. Die rookwolk wat gevorm word kan ‘n amegtige hoesbui en branderige en tranende oë tot gevolg hê. (Het julle geweet ‘n Hart aluminium poaching pan kos deesdae R130, 00 by Pick’ n Pay?)

Raait. Dan afdroog. Dis nogal lekker as daar ‘n skoon en droë afdroogdoek byderhand is. Ek het egter al geleer dat daai fensie soort met die rooi tjeks soos Yassir Arafat se kopdoek nie werk nie. Hulle word slym-snotterig soos ‘n Pep Stores sakdoek en kan maklik breekskade tot gevolg hê. (Weet julle hoe duur is ‘n gewone wit bord deesdae by @ Home?) Die panne en potte en hout brood- en snyborde sit ek in die son by die agterdeur om lekker droog te word.  Terwyl ek afdroog pak en sommer weg ook, en tjop-tjop, en voor jy kan sê “Vukenmes” is die spulletjie opgeruim. As die finale coup de grace vee ek die wasbak uit, maak dit mooi droog en hier kiep-kiep daar kiep-kiep met die vadoek oor die kombuiskas.  Heel ten laaste vee ek die glas- en bordskerwe op en voila!! Aan die kant! Reg vir more se skottelgoed.

(Ek het hierdie lank gelede gepos op destydse Litnet)

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

20 thoughts on “My superpowers”

  1. Lewies, hier styg my bewondering vir jou nou met rasse skrede! Só moet ñ man mos skottelgoed was! Klink effe soos dit soms in my kombuis gaan, maar dan is dit ek wat die opwaswerk doen, en die musiek is Sprinbok Hits uit toeka se tyd. En ñ Merlotjie.

  2. Jitte dis nou oulik, diè skottelgoedwassery. Ek moet ‘n oog gaan gooi, want gewoonlik vermy ek die kombuis soos die pes. My dogter kook baie lekker en my man raak ballisties as hy ‘n vuil teelepel gewaar, so tussen die twee van hulle deur kan ek skoert en iets anders gaan doen.

  3. Ek sien, voel en hoor die prentjie duidelik. As dit n ou skryfsel is, het jy die pryse verhoog of is dit vandag se pryse? Wanneer was jy die skottelgoed? Soggens met n wyntjie of saans met n wyntjie? Ek vra maar. Super is jy beslis!

      1. So gedink want op oomblik is R10 $1 werd wat hier niks is nie! Toemaar die berg moet party dae hier ook hoog wees voordat dit gewas word. Ongelukkig het ek nie n helpie nie.Moet maar self inspring- ook nie skottelgoedwasser nie.

  4. Nou toe, hoop daai boude wikkel ook so bietjie saam die musiekies, of is dit van te veel wikkel dat die skerwe aan die einde weg gegooi moet word. Vra maar net😱.
    Lekker geskryf en ek stem vir Sunlight liqued.

Leave a reply to Lewies Mymer Cancel reply