Le jou eier: Jy leef net een keer

Ek weet nou   nie of ek die uitdaging verkeerd verstaan nie, maar lyk my die ondertoon daarvan is dat dit rip roaring stuff moet wees, nie iets soos as ek tog nog net een keer by my ouma op die plaas kan kuier en Sondag haar wonderlike souskluitjies kan eet nie. Nee, iets met oktaan, rocket oktaan . Nou die van julle wat my bloginskrywings lees sal seker verwag daar gaan stomende seksbegeertes uit my pen kom. Iets soos:

Lewies sit met Art through the Ages op sy skoot. Die boek is oop by illustrasies van die werke van Gauguin, die geil vroue van Thahiti verre land. Lewies se ohe (kan mos nie diakritiese tekens maak nie) knip so van onder af soos ‘n werfhoender s’n. ‘n Kwylerigheidjie loop by sy mondhoek uit as hy ‘n lui en loom ‘n droomwereld ingaan.  In sy droom sit hy by ‘n topless bar op ‘n onontdekte Suidsee- eiland.  Beeldskone eilandvroue draai om hom. Hulle is so mooi daai vroue van Gauguin lyk soos chars. Op hierdie eiland glo die vroue dat veelvuldige seks hulle hul skoonheid sal laat behou soos die jare aanstap. Om te verseker dat die mans kan byhou (en op hou) het hulle ‘n wonder-elikser ontwikkel wat hulle Krakotoa noem. Figure maar self uit hoekom.

Ja, dit is nou wat julle dink ek sal skryf. Maar eintlik is my begeerte om net weer ‘n nag van  wilde en vurige en ongebreidelde en no holds barred en, wel ek dink julle kry die prentjie , seks te he met ‘n jong poppie van so sestig jaar.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

 

 

 

Le jou eier: As ek maar liewer nie…

Ja ja, ek weet daai uitdaging is nou al verby sy sell by date en van die rakke verwyder. Weer reenerig en koud hier in die Overberg, nou krap ek maar in vergange se skrywes en kom op die een af. Ok, hier gaat hy:

O DIE PYNGEDAGTE

Dis jou skuld Bacchus

Dat ek vandag

In die kak is.

 

Wrang, o wrang die vrugte van die wingerd, en bitter, ja bitterder as gal die wroeging van spyt en selfverwyt, en beskamend die verleentheid van roekelose oordaad. O! Dat ek my stem verhef het teen Vroukie! ‘n Skandelike smetvlek! O! Wou dat Zeus my eerder bliksem met ‘n skitterskig vanaf Olympus, of dat ek weggeraap word na die droewige Hades van  die weggeraaptes, of dat ek die swart buitenste duisternis ingewerp word, om vir ewig eensaam deur die Ewige te wentel saam met Sojoesj Ses,  eer ek my stem verhef het teen Vroukie!

En toe doen ek wat ek dink ‘n man moet doen as hy in die kak is. Ek sit my beste voet voor. Ek vra hartlik en inniglik ekskuus. Ek maak oggendkoffie en lewer dit af. Ek maak brekfis, weliswaar net muesli en jogurt en melk, maar darem. Ek haal ewe farmaseuties haar vitamiene tablette vir die dag uit, sommer ‘n dubbeldosis, en ook allerhande profilaktiese medikasies. Ek sit ‘n skoon glas met water daar neer vir die drinkslag. Ek maak die bed op, alleen. Ek vou haar pajamas netjies op en bêre dit onder haar kopkussing. Ek sit tandepasta op haar tandeborsel. Ek borsel nie my tande met haar borsel nie. Ek tel die tydskrifte in die toilet op. Ek vee die toiletbak se rand af en laat die deksel sak. Ek haal die leë toiletrolletjie af en sit ‘n nuwe een in. Ek tel my klere van die vloer af op en gooi dit in die wasmandjie. Ek sit die wasmandjie se deksel terug.  Ek maak die garage se deur oop. Ek sit haar laptop in die kattebak. Ek probeer haar koebaai soen. Die aand skink ek vir haar ‘n glasie van my ses jaar en ‘n maand oue KWV, daai wat ek verlede jaar as 5 jaar oue KWV vir my verjaarsdag gekry het. Met vier stukkies ys en ‘n katspoegie water. Ek weerstaan wyslik die versoeking om vir my ‘n dubbel te gooi.

Sy sit in die woonkamer voor die TV toe ek dit afgee. Sy sit op my plek. Sy swaai die remote soos ‘n septer. ”Bring vir my ‘n stukkie sjokolade, “ sê sy.  Sonder asseblief. “Twee blokkies”. Sy kyk vir my. “Tjik Tjik” tjik sy soos daai merrie in die Toyota advertensie. Chopper kyk op van waar hy op die matjie voor die TV lê. Hy trek sy stert, wat gewoonlik soos ‘n  windpomp waai in die noordewind, tussen sy bene in. Sy ore hang soos verlepte pampoenblare in ‘n hittegolf. Hy sluip soos ‘n amoeba by die deur uit. Pamela spring regop, haar ore gespits. Sy kyk my reg in die oë. Ek sweer daar is ‘n smaail op haar brakgesig. Chicks stick together.  “En dan kom sit jy hier by my en kyk TV, “ vervolg Vroukie. “Maar Vroukie, dis dan Pasella. Jy weet ek kan nie daai idiotiese gegrinnik van die aanbieders hanteer nie”

“Ek weet,” sê sy. “Kom sit” Ek gaan sit. Op haar plek. Pamela slaan met ‘n tevrede plof neer. Chopper loer versigteig om die kosyn.

Slapenstyd vra ek, “Vroukie, is jy nog kwaad vir my? Ek weet ek het my soos ‘n otter gedra maar jy kan seker nie altyd vir my kwaad bly nie.”

“Nee Lewies, ek is nie meer vir jou kwaad nie .”

“Nou waarom martel jy my met Pasella?”

“Want ek kan.”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Buurmanskap

Dit was vandag maar koud en reenerig hier in onse kontrei en ek het die meeste van die dag in die garage en in die huis deurgebring. In die garage doenig met goeters wat gebreek het en wat nou na my aandag daaraan reddeloos oopgefok. In die huis met meer intelektueel stimulerende aktiwiteite soos FB,blogs, lees en fliek. Die mal broers Coen se Hail Caesar.  Maar toe breek die son deur en ek dwaal in die tuin rond en maak jag op die slakke wat die nattigheid tussen die plante geniet. Ek kry dit nie oor my hart om die godskepseltjies dood te maak nie en dus gooi ek hulle oor die muur na buurman Pieter se erf. Maar vandag is die slakke so lig die effense windjie waai die doppies sommer weer terug. Nadat ek die slakdoppies deeglik bekyk het kom ek tot die konkluisie dat die slakke so lig is van maerte en uitgeteerdheid. Na diepe bepeinsing besef ek hy gooi die slakke natuurlik weer terug in my tuin, en so met die heen en weer gooiery bring die arme slakke soveel tyd in die lug deur dat hulle nie kans kry om te vreet nie!

Le jou eier: Spookstorie

‘n Klompie jaar gelede was daar ‘n Blitsfiksie kompetisie op Litnet Blogs: skryf ‘n riller in minder as 100 woorde. ek het ‘n paar pogings ingedien–hierdie was een van hulle, helaas nie suksesvol nie. ‘n Ander probeerslag het tweede prys gekry, ‘n stapeltjie boeke, as ek reg onthou.

 

Donkermaan

“Sy was maar twintig. Hy het haar hier, onder die stinkhoutboom, verwurg. Die dag voor haar troue. Jaloers omdat hy haar nie kon kry nie”.

 

Donkermaan. Die hond tjank-blaf bang.  Glimmend sweef die lykswa nader, versier met troulinte en balonne, niemand agter die stuur. ‘n Jong vrou in bruidsgewaad doem wasig onder die stinkhoutboom op. Die lykswa se deur gaan oop, ‘n skraal, bleek hand ontbied haar.

Sy kyk om, kyk my pleitend aan, ‘n oneindige hartseer in haar oë. Die hand wink ongeduldig. Sy klim in. Die lykswa glip weg. Die hond tjank, hare gerys, druipstert.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

Le jou eier: As ek maar liewer nie…

As ek maar liewer nie besluit het om Pamela die werfhond daardie laatmiddag vir ‘n stappie te neem nie, sou ek nie nou hier moerse litteken op my voorkop gehad het nie. Bart Simpson troos nou wel “Chicks dig scars”maar op my ouderdom is dit nou skrale troos. Dit het so gebeur:

LEWIES, PAMELA, ANTIE BYBIE EN CHUCK NORRIS

 

Pamela die werfhond flikflooi gisteraand vir ‘n spelery en ek besluit om haar vir ‘n stappie deur die buurt te vat sodat sy die bome kan lees. Sy het as ‘n rondloper hond hier by ons aangekom, erg verwilderd, en ek kon haar nooit oorreed om aan ‘n leiband te loop nie.

Sy hardloop en hol en snuffel en snuif met oorgawe, maar toe ons amper tuis is besluit sy om haar merk duidelik op Buurman Nols se gras te maak. Net toe kom sy skoonma, Antie Bybie van Jaarsveld, by die voordeur uit met ‘n skinkbord vol krummels wat sy vir die voëltjies strooi. Toe sy vir Pamela sien swaai sy die skinkbord verwoed en gil “Voert, sie jy, voertsek! Vir wat kak jy op ons lawn!”

“Hallo Antie Bybie”, groet ek beleefd en lig my Blou bul hoedjie respekvol.

“Ja dag Lewies” Sy klink nie bly om my te sien nie.

“Kuier Antie-hulle bietjie by Nols en Klein Bybie?”

“Hoe lykit vir jou, Lewies. As ons hier is dan kuier ons mos. Maar laat ek …”

“Ek is seker Nols en Klein Bybie is bly…”

“ … jou nou mooi vertel, jou hond…”

“…om Antie te sien…”

“…kak hier op ons lawn en wie gaan dit optel?”

 

Ek sien deur die skreef in die gordyn vir Nols wat onseker na buite kyk. Dan trek hy die gordyne vinnig toe.

Antie Bybie kom staan hier voor my, teen my. Sy plant haar voete in die afgetrapte nagemaakte oranje Crocs wydsbeen. Sy het ‘n voorskoot aan met ‘n Vierkleur motief. Die woorde “Ek vati kaki” is daarop uitgeborduur. Haar degerige arms is ferm in haar sye gevuis. Die skinkbord hang aan haar regterhand.

“Maar Antie Bybie, dis mos maar net…”

“Maar net wat Lewies? ‘n Hoop honnedrolle in ons jaart!”

“Dis reg, Mammie, sê hom! Sê hom” Klein Bybie het ongemerk haar verskyning gemaak. Haar gesig is keurig ingekleur, gepaint by numbers. Haar rooi gekleurde hare lyk soos ‘n varsgespinde spookasem. Haar een hand is op haar heup en die ander hou ‘n siegret fyntjies vas, haar pols opwaarts gebuig.

“Ant Bybie, my hond is op Pedigree…”

“Ek gee nie om of jou hond perrigree is of nie, hy skyt op ons lawn! Lyk in elk geval vir my na ‘n basterbrak uit die skrêpjaart!”

“Nee, Ant Bybie!! Ek meen ek gee my hond Pedigree hondekos, daai wat hulle op TV wys. Dit verteer goed en dan is die hond se maagwerkings droog en reukloos. “

“Moel hom, Ouma” Klein Bybie se seuntjie algemeen bekend as Piston het nou ook hier aangesluit. Hy het ‘n swart T shirkie aan met die leuse: “Chuck Norris se moer. Ek is ‘n boer” Sy mullet kuifie staan penorent van opwinding. Agter hom sien ek die gordyne weer op ‘n skrefie oopgaan. Nols en Oom Berend van Jaarsveld loer versigtig daar deur.

“Wil jy my nou kom staan en vertel daar is perrigree honnekak en baster honnekak? Lyk ek vir jou of ek onder ‘n kalkoen uitgebroei is?” Antie Bybie se stem raak hoog en haar gesig word rooi.

“Dis reg, Mammie, sê hom, sê hom!!” Klein Bybie teug diep aan die siegret.

“Moel hom, Ouma!”

“Ant Bybie, ek wil net vir jou bewys dat my hond se stront bio-degradeerbaar is, more is daar niks!”

“Tel daai stront nou op, dan is daar sommer nou niks.”

Ek buk en tel een van die honde drolle op.

“Voel hier, Antie Bybie, voel net hier. Pas gepasseer en reeds kurkdroog.” Ek hou die stuk hondemis uit na haar toe. “Toe voel net!” moedig ek haar aan.

Antie Bybie retireer ‘n entjie.

“Maar is jy nou bedonnerd…”

“En g’n slegte reuk nie, Antie Bybie. Ruik net hier!”

Ek steek my hand uit en hou die hondedrol onder haar neus. Agter Ant Bybie word die gordyn vinnig toegepluk.

“Moel hom Ouma!”

 

Die dokter by ongevalle sê die steke kan oor twee weke uitkom. Sy sê dis die skerp rand van die skinbord wat die diep sny en kwaai bloeding veroorsaak het.

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).