MAJESTUOSO TEMPESTUOSO, OF TE WEL DIE WIND KOM VAN BINNE

Toe Dawid haar fyn handjies in sy forse manshande neem, weet sy hier kom moeilikheid. Haar hart bokspring in haar keel soos paddas op pad na die fontein na die lentereën, haar hart klop soos ‘n hamermeul op die dorsvloer.

“Dawid…nee, ek kan nie nou nie” prewel sy onthuts, haar woorde leunagtig teenoor die emosie wat soos beskuitdeeg in haar binneste opwel, en sy besef: die ongemak wat sy nou ervaar is as gevolg van daai tweede porsie boontjiesop. Maar hoe kon sy dit van die hand wys, stomend, oorrompelend geurig op hierdie koue wintersdag.

“Speel vir my op die klavier. Laat jou lieflike vingers soos somer swaeltjies dartel oor die klawers, maak liefde met my in goddelike musiek, laat my vermurwe in die hemelse note.” Sy stem is skor, rasperig soos skuurpapier.

Sy trek haar hande teensinnig terug. “Dawid, ek moet eers…”

“Nee,” val hy haar bruusk in die rede. “Jy moet niks anders as om my hart weg te voer met die wonderlike vaardigheid van jou vingers, ek meen nou op die klavier” voeg hy haastig by.

“Dawid, maar ek..” haar stemmetjie is klein, klein en benoud soos die van ‘n jong onderwyseres op haar eerste werksdag, net voor langpouse. “Niks g’n gemaar nie, as musiek die voedsel van die liefde is, gee my nog, gee my tot ek oorversadig is”. Sy stem is dramaties, sonoor, lieflik en sterk op haar oor. Sy voel ‘n krieweling in haar. Sy GPS die posisie van die krieweling, senter in die afdalende kolon.

In haar nood besluit sy om ‘n kragtige stuk musiek aan te durf, Aus der sturm und drang der Alpinose hochland, gekomponeer deur die briljante Duitse musiek genie Adolf von Kartoffelen . Musiekaanbieders op RSG vertaal dit as” ‘n Uiters hewige storm in die landelike gebied van die Alpe.”

Toe sy die eerste klawers ligweg betas, voel sy hoe die drukking in haar kolon dramaties toeneem. Sy skuifel benoud rond op die klavierstoeltjie en jaag die tempo aan na molto andante. Maar hoe meer molto sy speel hoe meer andante word die nood. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, haar hande flits soos spieëlbeelde in die son, die klawers dawer freneties, spring soos ‘n quad bike teen die steilte van die magtige cresecendo, molto tempestuoso, tanto molto tempestuoso, tantissimo molto tempestuoso, die sweet slaan op haar aanvallige voorhoof uit, haar Salon Fraai Vroutjie perm hang verlep en slierterig oor haar gesig, haar hande dartel en buitel soos ‘n kudde springbokke in die lenteveld. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, en dan, na wat na ‘n ewigheid voel, sien sy die oomblik van verligting voor haar soos Moses van ouds die beloofde land klaar en helder aanskou het vanaf die piek van berg Sion, die zenith van die crescendo, die absolute magiese klimaktiese stonde van die virtuose musiekstuk: majestuoso tempestuoso, wat die klank van die uitlating van die kolongasse sal kamoefleer, haar oomblik van redding! Steeds baie fyntjies en vroulik verslap sy die sluitspiere, reguleer die ontlading behendig. ‘n Glimlag ontplooi op haar gelaat, en die musiek tempo neem gaandeweg af, dralend soos stappers teen die helling van die heide.

“Brava! Bravissima”! Dawid se stem is jubilant. “Wonderlik! Wonderskoon! Wunderbar!!

“Dawid, ek moet eers…”

“Nee, nee! Speel dit weer. Wat is die naam van die selestiale musiek ?”

“ Dit het ‘n lang Duitse naam, maar in Afrikaans staan dit bekend as “Die Storm”, maar nou moet ek eers…”

“Speel, speel, gee my mildelike oorvloed! Maar los net daai gedeelte waar die weerlig die lewwetrie raakslaan!”

Advertisements

7 thoughts on “MAJESTUOSO TEMPESTUOSO, OF TE WEL DIE WIND KOM VAN BINNE”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s