FREDDERIEK DIE ELEKTRIEK KRIEK

Close, but no cigar, is die essensie van die rejection slip wat ek vandag ontvang van een van ons bekende Afrikaanse uitgewers aan wie ek die manuskrip voorgele het. Ryk gaan ek nie ryk word uit my skrifsels nie.

Ek deel dit dus hier met die lesers wat hulself dalk hier op my werf bevind. Dalk is daar erens ‘n kind of kleinkind wat dit vermaaklik sal vind.

Here goes. Onthou daar is kopiereg op ne!
.
FREDDERIEK DIE ELEKTRIEK KRIEK
.

Louis Botha
Februarie 2019


Aan die einde van die straat, daar eenkant amper in die veld, staan ‘n ou-ou huis waarin niemand woon nie. Groot eikebome skuur met hul takke oor die huis se dak. Langs die paadjie na die huis groei lang gras en bossies. Teen die voorhekkie hang ‘n bordjie skeef met die woorde “Te Koop” daarop.

Daar woon geen mense in die huis nie, maar dit bied woonplek aan ‘n menigte krieke. In die aand wanneer dit begin donker word, begin die krieke hul voorste vlerkies saamvryf om kriekmusiek te maak. In elke kamer van die huis is daar ‘n kriekkonsert aan die gang. Elke kriek probeer mooier musiek as die ander maak. Eers as die son opkom raak hulle stil. “Tjiek tjiek tjieeek” klink dit die hele nag deur.

Fredderiek wil baie graag saam met die ander krieke musiek maak, maar al probeer hy ook hoe hard hy kan net nie die regte noot kry nie. Eers het die ander krieke vir hom gelag omdat hy so sukkel, maar later het hulle kwaad geword en gekla dat hy die mooi musiek wat hulle maak bederf.

“Jy speel vals!” skreeu hulle vir hom. “Dis ‘Tjiek tjiek tjieeek!’, nie ‘Tjang tjang tjaaang!’ nie!”
“Jy kan luister as ons musiek maak, maar jy speel nie meer saam nie”, sê Theodorus vir hom.

Fredderiek se skouers hang toe hy na sy wegkruipplekkie toe gaan. Een van die elektriese muurproppe hang skeef in die muur en hy woel deur die skrefie na die oop stukkie in die muur agter die prop. Daar tussen die elektriese drade kruip hy weg. Dis nie gevaarlik nie want die huis se krag is afgeskakel omdat daar niemand woon nie.

Een oggend stop daar ‘n kar voor die hekkie. ‘n Man en ‘n vrou klim uit. “Meneer”, sê sy, “hierdie huis is ‘n absolute winskoop. “

Dit is ‘n eiendomsagent en iemand wat belangstel om die huis te koop.

“Dis bietjie donker hier binne as gevolg van die hoë bome”, sê sy. “Wag net ‘n oomblik, laat ek gou die krag aanskakel dan wys ek vir jou hierdie wonderlike huis”.

Sy stap na die skakelbord en “Klaks!” skakel sy die krag aan. 
Dadelik trek die elektriese stroom deur Fredderiek daar waar hy in sy skuilplekkie tussen die elektriese drade lê. Sy bene skop styf en helder ligte flits soos weerlig voor sy oë. Vonke spat by sy voelhorings uit. Rillings hardloop deur sy lyf. Hy bewe en ritteltit so groot as wat hy is. Sy hart bons in sy borskas. Net toe hy dink hy gaan nou braai skop die krag skielik af en hy spartel sukkel-sukkel by die opening uit buitekant toe
.
“O gits” sê die agentevrou. “Wat kan nou fout wees?” en sy skakel die krag weer aan.

“A, dis beter” sê sy toe al die ligte aangaan. “Kom “, sê sy , “Kom ek gaan wys jou hoe lyk die huis”.

Fredderiek se lyf is seer en sy kop voel soos ‘n ballon wat te styf opgeblaas is. Sy oë het heeltemal uit hul kaste uitgespring en swaai hier voor sy bors aan lang bloederige senings rond. Dan sien hy dan die vloer, dan die dak, dan die mure. Hy gryp sy oë en druk dit terug in sy kop. Maar hy druk dit agterstevoor in en nou kyk sy oë binne in sy kop in! En daar sien hy miljoene klein gekleurde liggies binne in sy kop. Die liggies skitter en flikker in elke kleur van die reënboog, en ook in kleure wat nog nie eens bekend is nie. Kleure soos ioor, neorg, srep en kneip. Hy gryp sy oë en draai hulle om sodat hulle buite toe kyk en druk hulle weer in sy leë oogkaste in. Hy probeer opstaan maar sy bene kraak en vou onder hom in en hy val bewusteloos neer, reg voor die spieël wat teen die gangmuur gemonteer is.

Dit as al donker toe die krieke se musiek hom wakker maak. Hy staan kraak-kraak op en sien homself in die spieël. Sy vlerke is effens gebrand maar verder lyk hy ongedeerd. Hy vryf sy vlerke teen mekaar om die kriekmusiek te maak en dan gebeur ‘n wonderlike ding! Wanneer die eerste note van die musiek weerklink, begin sy hele lyf te skitter in al die kleure wat hy in sy brein gesien het! Sy voelhorings pols die pragtige onbekende kleure op maat van die musiek. En die musiek is nie meer die vals “Tjang tjang tjaaang!’ nie!” en ook nie die ander krieke se “Tjiek tjiek tjieeek”nie, maar ‘n luide “Kie-tjang!! Kie- tjang!!”

Fredderiek spring opgwonde na die kamer waar die ander krieke musiek maak. “Luister julle!” roep hy, “luister na die mooi musiek wat ek maak!” Die ander krieke kyk gesteurd om. “Alweer jy met jou vals musiek” sê Theodorus. “Bly stil of gaan weg!”

“Nee, nee!” roep Fredderiek. “Hoor net hier!”, en ”Kie-tjang!! Kie-tjang!!” weerklink sy musiek.
Die ander krieke druk hul ore toe en gil “Dis nie kriekmusiek nie!! Bly stil! Bly stil! Ons musiek klink nie so nie!” 
“Gaan weg Fredderiek! Gaan weg! Gaan kry vir jou ander blyplek. As jy nie kriekmusiek soos ons maak nie hoort jy nie hier nie. Weg is jy!” sê Theodorus kwaai.

Fredderiek se voelhorings sak en hang oor sy bors. Hy draai treurig om en sluip druipstert by die huis uit. 
In die straat gaan sit hy onder ‘n kar wat daar geparkeer is en stryk sy vlerke.

“Kie-tjang!! Kie—tjang!!” kom die mooiste geluid uit wat hy al ooit gehoor het. En dadelik gaan die kar se alarm aan “Pieheeep! Pieheep!”
“Jislaaik!” dink Fredderiek opgewonde “Is dit my musiek wat die kar se alarm laat aangaan?!”
Hy spring tot op die sypaadjie en stryk weer sy vlerke.
“Pep pep pep” gaan ‘n alarm in een van die winkels aan.
Fredderiek is nou baie opgewonde. Hy hardloop spring-spring op die sypaadjie en sover hy gaan maak hy sy wonderlike musiek, en soos hy hardloop, gaan die alarms van die karre en die winkels en huise aan. Dis ‘n verskriklike lawaai in die straat en die mense stroom uit hul huise om te sien wat gaan aan.

“Dis die aliens” skreeu ‘n seuntjie bang toe hy Fredderiek se liggies sien.
“Ja ja!!” roep ‘n man uit. “Dis die aliens! Die aliens het gekom!”
“Die aliens is hier! Die aliens is hier!“ skreeu die mense en vlug angsbevange in die straat af.

Fredderiek skrik toe die mense so begin hardloop . Daar onder in die straat sien hy ‘n groot gebou en hy besluit om daar te gaan wegkruip. Voor die ingang van die gebou stryk hy weer sy vlerke en weer kom die wonderlike klank na vore. Hy is so in sy skik dat hy aanhou musiek maak. “Kie-tjang! Kie-tjang!” weerklink dit.

Dan hoor hy iemand agter hom praat: “Wow! Awesome!” en iemand anders sê “Cool dude!” 
Toe hy omkyk staan daar twee krieke.
“My naam is Bernoldus. Niemand noem my egter so nie. Sê sommer Nollus. En hierdie is Cool Dude”.

“Ek is Fredderiek. Aangename kennis Nollus en Cool Dude”.
“Cool dude” sê Cool Dude.

“Jy maak awesome musiek” sê Nollus. “Kom saam met ons. Ons gaan musiek maak in hierdie gebou. Dis die dorp se ou stadsaal. Dit word nie meer gebruik nie. Hier woon baie krieke en elke aand maak ons musiek”

Die drie krieke gaan by die agterdeur van die stadsaal in en kom op die verhoog agter die gordyn uit. 
Nollus loer om die gordyn. “Die skare is hier”, sê hy en stap uit op die verhoog. Die kriekskare juig en klap hande. Nollus beduie dat hulle moet stilbly.

“Hoezit! Hoezit! Vanaand het ons ‘n spesiale gaskunstenaar hier. Fredderiek! Kom Fredderiek! Kom maak lawaai!”
Fredderiek kom uit op die verhoog. Hy staan stokstil toe hy die baie krieke sien. Sê nou hulle hou nie van sy musiek nie en hulle jaag hom weg soos Theodorus? Die krieke begin ongeduldig vroetel.

“Toe nou, Fredderiek, maak lawaai! “por Nollus hom aan.
Fredderiek skep moed. “Ek gaan musiek maak, mooi musiek! En as julle nie daarvan hou nie kan julle gaan doppies blaas!” dink hy by homself.

Dan stryk hy sy vlerke. “Kie-tjang!! Kie-tjang!”kom die mooi kriekmusiek. Die skare is eers tjoepstil, maar dan bars hulle uit in dawerende applous.

“Awesome” skree hulle. ”Amazing!”

In die voorste ry sit Oom Taalbul Kriek. Hy haat die Engelse woorde wat die jongklomp gebruik.

“Manjifiek! Skitterend! Skouspelagtig! Verruklik!” skree hy.

Fredderiek is in sy noppies. Hy speel al hoe harder en vinniger, en skielilk begin sy vlerke weer skitter met die fynste liggies. Dit lyk of hy met glinsterende vonkelspikkels bestrooi is. Sy voelhorings flikker soos disco ligte. Nou raak die skare mal. Hulle skree en klap hande en stryk hul vlerke.

Fredderiek begin dans. Eers skop hy sy een been in die lug in, dan die ander been, al op die maat van die musiek. Gou begin die krieke hom navolg, en dis nie lank nie of die hele saal bewe soos die krieke dans. Hulle spring op en af en ruk en rol en toi-toi en tiekiedraai Al hoe vinniger en al hoe wilder. Skielik onthou Fredderiek die woorde van ‘n liedjie wat hy eenkeer gehoor het en hy begin sing op die maat van sy musiek: “We will we will rock you!” Die kriekskare word rasend en begin saam sing. Die meeste ken nie die woorde nie en sing sommer “Wie wie wie se rok! O wie se rok!”

Fredderiek is later doodmoeg, maar nes hy wil ophou, dreunsing die skare “Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek!”

Nollus en Cool Dude neem later oor sodat Fredderiek kan rus. Na ‘n rukkie val hy weer in. So hou dit die heelnag aan totdat die son opkom. Teen daardie tyd is al die krieke pootuit gedans en geskree en eindelik loop die musiekpartytjjie dood.

“Kom Fredderiek” sê Nollus. “Kom ons gaan wys jou waar jy kos en water kan kry. Hier is baie slaapplek. Gaan rus goed uit dan maak ons more weer so”.

So ver as wat Fredderiek met Nollus en Cool Dude stap, juig die krieke hom toe.

“Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek!
Dis ‘n baie gelukkige Fredderiek wat later aan die slaap raak. 
Kort-kort hoor hy in sy drome “Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek” Dan glimlag hy tevrede en sak dieper in die droomwêreld in.

Advertisements