Category Archives: Uncategorized

FREDDERIEK DIE ELEKTRIEK KRIEK

Close, but no cigar, is die essensie van die rejection slip wat ek vandag ontvang van een van ons bekende Afrikaanse uitgewers aan wie ek die manuskrip voorgele het. Ryk gaan ek nie ryk word uit my skrifsels nie.

Ek deel dit dus hier met die lesers wat hulself dalk hier op my werf bevind. Dalk is daar erens ‘n kind of kleinkind wat dit vermaaklik sal vind.

Here goes. Onthou daar is kopiereg op ne!
.
FREDDERIEK DIE ELEKTRIEK KRIEK
.

Louis Botha
Februarie 2019


Aan die einde van die straat, daar eenkant amper in die veld, staan ‘n ou-ou huis waarin niemand woon nie. Groot eikebome skuur met hul takke oor die huis se dak. Langs die paadjie na die huis groei lang gras en bossies. Teen die voorhekkie hang ‘n bordjie skeef met die woorde “Te Koop” daarop.

Daar woon geen mense in die huis nie, maar dit bied woonplek aan ‘n menigte krieke. In die aand wanneer dit begin donker word, begin die krieke hul voorste vlerkies saamvryf om kriekmusiek te maak. In elke kamer van die huis is daar ‘n kriekkonsert aan die gang. Elke kriek probeer mooier musiek as die ander maak. Eers as die son opkom raak hulle stil. “Tjiek tjiek tjieeek” klink dit die hele nag deur.

Fredderiek wil baie graag saam met die ander krieke musiek maak, maar al probeer hy ook hoe hard hy kan net nie die regte noot kry nie. Eers het die ander krieke vir hom gelag omdat hy so sukkel, maar later het hulle kwaad geword en gekla dat hy die mooi musiek wat hulle maak bederf.

“Jy speel vals!” skreeu hulle vir hom. “Dis ‘Tjiek tjiek tjieeek!’, nie ‘Tjang tjang tjaaang!’ nie!”
“Jy kan luister as ons musiek maak, maar jy speel nie meer saam nie”, sê Theodorus vir hom.

Fredderiek se skouers hang toe hy na sy wegkruipplekkie toe gaan. Een van die elektriese muurproppe hang skeef in die muur en hy woel deur die skrefie na die oop stukkie in die muur agter die prop. Daar tussen die elektriese drade kruip hy weg. Dis nie gevaarlik nie want die huis se krag is afgeskakel omdat daar niemand woon nie.

Een oggend stop daar ‘n kar voor die hekkie. ‘n Man en ‘n vrou klim uit. “Meneer”, sê sy, “hierdie huis is ‘n absolute winskoop. “

Dit is ‘n eiendomsagent en iemand wat belangstel om die huis te koop.

“Dis bietjie donker hier binne as gevolg van die hoë bome”, sê sy. “Wag net ‘n oomblik, laat ek gou die krag aanskakel dan wys ek vir jou hierdie wonderlike huis”.

Sy stap na die skakelbord en “Klaks!” skakel sy die krag aan. 
Dadelik trek die elektriese stroom deur Fredderiek daar waar hy in sy skuilplekkie tussen die elektriese drade lê. Sy bene skop styf en helder ligte flits soos weerlig voor sy oë. Vonke spat by sy voelhorings uit. Rillings hardloop deur sy lyf. Hy bewe en ritteltit so groot as wat hy is. Sy hart bons in sy borskas. Net toe hy dink hy gaan nou braai skop die krag skielik af en hy spartel sukkel-sukkel by die opening uit buitekant toe
.
“O gits” sê die agentevrou. “Wat kan nou fout wees?” en sy skakel die krag weer aan.

“A, dis beter” sê sy toe al die ligte aangaan. “Kom “, sê sy , “Kom ek gaan wys jou hoe lyk die huis”.

Fredderiek se lyf is seer en sy kop voel soos ‘n ballon wat te styf opgeblaas is. Sy oë het heeltemal uit hul kaste uitgespring en swaai hier voor sy bors aan lang bloederige senings rond. Dan sien hy dan die vloer, dan die dak, dan die mure. Hy gryp sy oë en druk dit terug in sy kop. Maar hy druk dit agterstevoor in en nou kyk sy oë binne in sy kop in! En daar sien hy miljoene klein gekleurde liggies binne in sy kop. Die liggies skitter en flikker in elke kleur van die reënboog, en ook in kleure wat nog nie eens bekend is nie. Kleure soos ioor, neorg, srep en kneip. Hy gryp sy oë en draai hulle om sodat hulle buite toe kyk en druk hulle weer in sy leë oogkaste in. Hy probeer opstaan maar sy bene kraak en vou onder hom in en hy val bewusteloos neer, reg voor die spieël wat teen die gangmuur gemonteer is.

Dit as al donker toe die krieke se musiek hom wakker maak. Hy staan kraak-kraak op en sien homself in die spieël. Sy vlerke is effens gebrand maar verder lyk hy ongedeerd. Hy vryf sy vlerke teen mekaar om die kriekmusiek te maak en dan gebeur ‘n wonderlike ding! Wanneer die eerste note van die musiek weerklink, begin sy hele lyf te skitter in al die kleure wat hy in sy brein gesien het! Sy voelhorings pols die pragtige onbekende kleure op maat van die musiek. En die musiek is nie meer die vals “Tjang tjang tjaaang!’ nie!” en ook nie die ander krieke se “Tjiek tjiek tjieeek”nie, maar ‘n luide “Kie-tjang!! Kie- tjang!!”

Fredderiek spring opgwonde na die kamer waar die ander krieke musiek maak. “Luister julle!” roep hy, “luister na die mooi musiek wat ek maak!” Die ander krieke kyk gesteurd om. “Alweer jy met jou vals musiek” sê Theodorus. “Bly stil of gaan weg!”

“Nee, nee!” roep Fredderiek. “Hoor net hier!”, en ”Kie-tjang!! Kie-tjang!!” weerklink sy musiek.
Die ander krieke druk hul ore toe en gil “Dis nie kriekmusiek nie!! Bly stil! Bly stil! Ons musiek klink nie so nie!” 
“Gaan weg Fredderiek! Gaan weg! Gaan kry vir jou ander blyplek. As jy nie kriekmusiek soos ons maak nie hoort jy nie hier nie. Weg is jy!” sê Theodorus kwaai.

Fredderiek se voelhorings sak en hang oor sy bors. Hy draai treurig om en sluip druipstert by die huis uit. 
In die straat gaan sit hy onder ‘n kar wat daar geparkeer is en stryk sy vlerke.

“Kie-tjang!! Kie—tjang!!” kom die mooiste geluid uit wat hy al ooit gehoor het. En dadelik gaan die kar se alarm aan “Pieheeep! Pieheep!”
“Jislaaik!” dink Fredderiek opgewonde “Is dit my musiek wat die kar se alarm laat aangaan?!”
Hy spring tot op die sypaadjie en stryk weer sy vlerke.
“Pep pep pep” gaan ‘n alarm in een van die winkels aan.
Fredderiek is nou baie opgewonde. Hy hardloop spring-spring op die sypaadjie en sover hy gaan maak hy sy wonderlike musiek, en soos hy hardloop, gaan die alarms van die karre en die winkels en huise aan. Dis ‘n verskriklike lawaai in die straat en die mense stroom uit hul huise om te sien wat gaan aan.

“Dis die aliens” skreeu ‘n seuntjie bang toe hy Fredderiek se liggies sien.
“Ja ja!!” roep ‘n man uit. “Dis die aliens! Die aliens het gekom!”
“Die aliens is hier! Die aliens is hier!“ skreeu die mense en vlug angsbevange in die straat af.

Fredderiek skrik toe die mense so begin hardloop . Daar onder in die straat sien hy ‘n groot gebou en hy besluit om daar te gaan wegkruip. Voor die ingang van die gebou stryk hy weer sy vlerke en weer kom die wonderlike klank na vore. Hy is so in sy skik dat hy aanhou musiek maak. “Kie-tjang! Kie-tjang!” weerklink dit.

Dan hoor hy iemand agter hom praat: “Wow! Awesome!” en iemand anders sê “Cool dude!” 
Toe hy omkyk staan daar twee krieke.
“My naam is Bernoldus. Niemand noem my egter so nie. Sê sommer Nollus. En hierdie is Cool Dude”.

“Ek is Fredderiek. Aangename kennis Nollus en Cool Dude”.
“Cool dude” sê Cool Dude.

“Jy maak awesome musiek” sê Nollus. “Kom saam met ons. Ons gaan musiek maak in hierdie gebou. Dis die dorp se ou stadsaal. Dit word nie meer gebruik nie. Hier woon baie krieke en elke aand maak ons musiek”

Die drie krieke gaan by die agterdeur van die stadsaal in en kom op die verhoog agter die gordyn uit. 
Nollus loer om die gordyn. “Die skare is hier”, sê hy en stap uit op die verhoog. Die kriekskare juig en klap hande. Nollus beduie dat hulle moet stilbly.

“Hoezit! Hoezit! Vanaand het ons ‘n spesiale gaskunstenaar hier. Fredderiek! Kom Fredderiek! Kom maak lawaai!”
Fredderiek kom uit op die verhoog. Hy staan stokstil toe hy die baie krieke sien. Sê nou hulle hou nie van sy musiek nie en hulle jaag hom weg soos Theodorus? Die krieke begin ongeduldig vroetel.

“Toe nou, Fredderiek, maak lawaai! “por Nollus hom aan.
Fredderiek skep moed. “Ek gaan musiek maak, mooi musiek! En as julle nie daarvan hou nie kan julle gaan doppies blaas!” dink hy by homself.

Dan stryk hy sy vlerke. “Kie-tjang!! Kie-tjang!”kom die mooi kriekmusiek. Die skare is eers tjoepstil, maar dan bars hulle uit in dawerende applous.

“Awesome” skree hulle. ”Amazing!”

In die voorste ry sit Oom Taalbul Kriek. Hy haat die Engelse woorde wat die jongklomp gebruik.

“Manjifiek! Skitterend! Skouspelagtig! Verruklik!” skree hy.

Fredderiek is in sy noppies. Hy speel al hoe harder en vinniger, en skielilk begin sy vlerke weer skitter met die fynste liggies. Dit lyk of hy met glinsterende vonkelspikkels bestrooi is. Sy voelhorings flikker soos disco ligte. Nou raak die skare mal. Hulle skree en klap hande en stryk hul vlerke.

Fredderiek begin dans. Eers skop hy sy een been in die lug in, dan die ander been, al op die maat van die musiek. Gou begin die krieke hom navolg, en dis nie lank nie of die hele saal bewe soos die krieke dans. Hulle spring op en af en ruk en rol en toi-toi en tiekiedraai Al hoe vinniger en al hoe wilder. Skielik onthou Fredderiek die woorde van ‘n liedjie wat hy eenkeer gehoor het en hy begin sing op die maat van sy musiek: “We will we will rock you!” Die kriekskare word rasend en begin saam sing. Die meeste ken nie die woorde nie en sing sommer “Wie wie wie se rok! O wie se rok!”

Fredderiek is later doodmoeg, maar nes hy wil ophou, dreunsing die skare “Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek!”

Nollus en Cool Dude neem later oor sodat Fredderiek kan rus. Na ‘n rukkie val hy weer in. So hou dit die heelnag aan totdat die son opkom. Teen daardie tyd is al die krieke pootuit gedans en geskree en eindelik loop die musiekpartytjjie dood.

“Kom Fredderiek” sê Nollus. “Kom ons gaan wys jou waar jy kos en water kan kry. Hier is baie slaapplek. Gaan rus goed uit dan maak ons more weer so”.

So ver as wat Fredderiek met Nollus en Cool Dude stap, juig die krieke hom toe.

“Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek!
Dis ‘n baie gelukkige Fredderiek wat later aan die slaap raak. 
Kort-kort hoor hy in sy drome “Fredderiek die Elektriek Kriek! Fredderiek die Elektriek Kriek” Dan glimlag hy tevrede en sak dieper in die droomwêreld in.

Advertisements

BREKFIS CHEZ LEWIES

‘n Monoloog

“Vroukie, hierdie koffie is darem bitter jong. Jy het seker weer die suiker met een van daai klein plat lepeltjies ingegooi. Jy moet liewer daai vet giflepel van my ouma gebruik. Hy meet net die regte hoeveelheid suiker af.  Drie teelepels, jy weet mos”

Slurp slurp slurp

“Jis Vroukie. Jy moet tog nie die eiers so hard bak nie. Ek sweer hulle sal hop as hulle op die grond val. Ek hou van die eiers lekker sag, nog loperig. Jy weet mos”

Kou kou kou.

“Hierdie Checkers brood is darem wragtag nie lekker nie. Jy moet dit bietjie langer laat toast. Dan smaak dit beter. En sommer die botter in die micro wave sit, net so tien sekondes , dan kan mens dit smeer. Hierdie botter is kliphard. Mens het ‘n troffel  nodig om dit te smeer.”

Sluk sluk sluk

“ Die marmalade is darem bitter jong.  Bitterder as gal. Ek kan dit nie oor my lippe kry nie. En die goed is so bleddie taai, my vingers sit eintlik aan mekaar vas.  Ag, lek asseblief my vingers af, hier is dan nie servette op die tafel nie”

#@  #@  #@

“Jinne Vroukie! Ek moet my vingers wáár  indruk?”

‘n Interaktiewe behandeling van enkele geriatriese degenerasie simptome, of te wel ‘n Paar trieks om die naderende ouderdom hok te slaan

Dit werk so:

Stel jou voor Lewies en sy genote in die eg, Vroukie, stap vanaf  die parkeerterrein na die mall. Hulle is so ‘n ent weg. Dan:

Vroukie “Lewies, trek in jou maag! Kyk hoe breed is jou hemp se strepe!  Jy lyk soos ‘n ou man met ‘n boeppens”

Lewies voldoen aan die versoek (Versoek?)

‘n Paar tree vorentoe.

“Lewies! Trek op jou broek! Kyk waar hang sy gat! Jy lyk soos ‘n ou man!”

Sonder kapittel of teepraat gee Lewies gehoor.

Nog ‘n paar tree vorentoe (Hulle is nou al amper in Checkers)

“Lewies!Moenie so met jou hande agter jou rug loop soos ‘n ou man nie!”

Weer eens maak Lewies so.

Binne Checkers.

“Lewies! Moenie so oor die trollie leun soos ‘n ou antie met ‘n rug probleem nie!”

Lewies stribbel nie tee nie. Na 46 jaar se getroude lewe weet hy wanneer teestribbeling futiel sal wees.

Maar Vroukie bekamp nie net die uiterlike simptome van die naderende senior jare wat Lewies bekruip nie. Sy tree ook voorbehoedend op teen innerlike aftakeling, om daai gaudeamus igitur gevoel wat die vlam van vergete jonkheid laat gloei, weer aan te blaas.

Hulle sit op die strand. Lewies maak of hy lees. Dan se Vroukie. “Lewies, kyk hier skuins agter jou . Daar le ‘n girlkie wat enige jong man se hart sal roer.”

Lewies stribbel nie tee nie. Gaudeamus igitur!

Asblik toe met jou, of tewel ‘n insident in blou, con majestuosa tempestuosa

Na aanleiding van die Le jou Eier -uitdaging plaas hierdie geskriffie van my wat al vantevore die lig gesien het.

Ek en Vroukie sit hier op die agterstoep, so geselsend oor die Oscar Show, wou aanvanklik nie kyk nie maar loer nou kort-kort, dis baie meer opwindend as die Protea-Chokers se no show. Vroukie sit op die trappie en doen iets aan haar voete, skrop, vyl en begin dan haar toonnaels verf. Dan sien ek dit. Blou. So asof sy die toonnael met ‘n hamer kon raakgeslaan het of dalk die slagoffer kon wees van ‘n kataklismiese besering aan diens, dis immers al tien tone wat betrokke is. ‘n Nadere bekyking bring aan die lig dat sy sowaar besig is om die toonnaels blou te verf, so asof sy ‘n Pikt is wat nou regmaak om die vyand aan te durf. Nee, kwit, dink ek by myselwers, Vroukie is nou besig om uit te haak. Sy oordoen hierdie forever young versugting nou heeltemal. Dis alles die Glam Guru se skuld. Sy is immers ‘n dame in haar senior wordende jare en as sulks moet sy mos ‘n waardige betaamlikheid handhaaf. Hierdie uitspattige bont naels is ‘n verspottigheid waarmee die jonger geslag hulle mee kan besig hou. Rooi, ‘n ouer dame se toonaels moet ‘n stemmige rooi wees om haar statige waardigheid te pas as die mater familias . Onnadenkend spreek ek hierdie gedagtes hardop uit, in wat genoem kan word “n Ligte mistykie”
Voukie sit so met haar een voet in haar hand, in die ander hand is die Cutex kwassie. Sy kyk vir my. Daar is nie ‘n twienkel in haar oog nie, maar wel ‘n baie duidelike boodskap, ‘n boodskap in hoofletters, in vetdruk. Sans serif. Die letters is HKGK. Sy sit my so en kyk. Dan staan sy op en vat my hand. “Kom saam” se sy. Sy lei my na ons slaapkamer toe. Uh huh, dalk het ek verkeerd gelees, dit was dalk tog ‘n twienkel. In die slaapkamer loop sy na my klerekas toe. Sy pluk die deur oop en skep ‘n klompie broeke uit die rak. (Dis definitief HKGK.)
“Wag nou Vroukie, wag nou. Wat maak jy?”
“Ek gaan jou Salvation Army klerekas uitgooi. Dis hoog tyd dat jy bietjie bykom en meer byderwetse klere dra. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie” Net so se sy.
“Fok Vroukie…
“Los die gefokkery Lewies, jy weet ek hou nie daarvan as jy so lelik praat nie”
“Ja maar jy kan mos nie my klere begin uitgooi nie. Daardie is my werksbroeke…”
“Jy werk mos nie meer nie. Jy kan bietjie meer ontspanne aantrek. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie. Kyk net hier, bruin broek, beige broek, navy broek, bruin broek, beige broek, navy broek so uit die oude doos. “
“Ja maar dis kwaliteit, ek het dit by Woollies gekoop, het my blerriewil R50 stuk gekos .”
“Kwaliteit” snork sy.”Die goed se gatte is blink gesit.”
Nou gryp sy my hemde.
“Kyk hier. Two tone Ventersdorp styl. Kry iets wat jou sal laat jonger lyk”
“Ja maar…”
“En kyk hier, hierdie onderbroeke van jou, die goed is verflenter. Jy sal koue vang as jy die goed dra.”
“Ja maar…”
Sy gooi dit op die hoop klere .
“Ek moet omsien na my belange” se sy.
Nou pluk sy my skoene uit die kas.
“Net nie my grys Grasshoppers nie!”
“Jy het die bleddie goed nog nooit gedra nie! Waarvoor bere jy dit?”
“Dalk kry ek dit eendag nodig, jy weet, as ek oud is en dalk probleme met liddorings het. Ek het dit vir ‘n bargain gekoop by Kara’s”
“Nou gaan koop vir jou iets wat jou minder oud laat lyk. ‘n Paar stapsandale sodat jy kan bybly as ons op die cliff path stap”
Fokkit. Net so se sy. Ek besluit om maar die vrede te bewaar. ‘n Huismoles in hierdie 24/7 situasie kan nogal pynlik wees.
“Kom Lewies.”
‘’Waarheen gaan ons.”
“Dorp toe. En bring jou beursie saam.”

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel hieronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=778471

Vir die reëls van die Lê-Jou-Eier uitdagings, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Rambo Rabie se laaste avontuur.

“Dit was amper! Bloemin amper” dink Rambo Rabie en begin weer aanstap na die kruin van die berg, maar nou baie versigtig en op sy hoede . Hy het wragtag nie krag vir nog ‘n magtige sprong nie.
Teen laatmiddag bereik hy die kruin. Hy staan op ‘n hoe krans, daaronder is die see. Al sy moeite en ontbering verniet. Geen teken van menslike bewoning op die eiland nie.
Wat Rambo nie weet nie is dat daar 72 uur gelede ‘n tektoniese plaatverskuiwing op die seebodem was, ongeveer 3 000 seemyl suid van waar hy nou staan. Sulke ondersese seismiese aktiwiteite het altyd tsunami’s ten gevolge, en terwyl Rambo teleurgesteld oor die see tuur is is dit ook nie hoe nie of daai tsunami –golf bereik die rotskrans waarop hy staan en slaan hom in die see in. Soos die golf terugtrek word hy die diep see ingesleur.

Op daardie oomblik kom ‘n massiewe walvis verby geswem. Die walvis sukkel self in die geweldige terugsleurstroom van die tsunami-golf en maak kort-kort sy bek groot oop om asem te skep. So sleep daai kragtige stroom vir Rambo binne in die walvis se bek in! Die water maal en woel en rol hom daarbinne rond, maar dan gaan die walvis se bek toe en Rambo bevind hom as’t ware in ‘n diep grot. Slungels drillerige vlees hang van die walvis se verhemelte af soos stalagtiete. Die fosfor in die seewater veroorsaak ‘n sagte, spookagtige gloed wat Rambo in staat stel om sy omgewing te verken. Yslike bene, wat lyk soos massiewe ribbebene, wit soos Italiaanse marmer, strek van onder die kakebeen tot bo teen die kop. Dit lyk soos die gewelf van ‘n Gotiese katedraal. Mens sou ‘n ondraaglike stank verwag, maar dit ruik heel aangenaam daarbinne, amper soos ‘n shusi bar. Rambo staan so kniediep in die water wat wemel van ‘n menigte klein skupvisgediertetjies. Onder op die vloer is ‘n laag skulpreste, koeelrond gemaal soos spoelklippies.

Rambo gaan sit op ‘n tandagtige uitsteeksel en bedink sy moontlikhede. Geen lig gaan vir hom op nie. Uit pure verveeldheid skiet hy met sy kettie van die spoelskulpe teen die ribbebene. ‘n Wonderskone klank verbaas hom toe die skulp die been tref. Sommer gou kom hy agter dat die toonhoogte van die klanke verband hou met die area waar die skulp die bene tref. As dit hoog teen die been is, kom ’n hoe klank na vore, en laag ‘n lae dieper klank. In die middel is dit ‘n suiwer middel C. Voordat jy kan se “Andante fortissimo” weergalm die soet klokkies van “La Campanella” in die akoestiese ruimte van die walvis se bek. En nou ontdek Rambo nog ‘n verbasende feit, hoe vinniger die ritme van die musiek, hoe vinniger swem die walvis! En skielik sien hy hoop: walvisse migreer hierdie tyd van die jaar na die Kaapse kus, as hy lank genoeg kan oorleef kan hy hitch hike tot in die Kaap! En net daar trek hy weg met die Minute Waltz en die walvis swem! Rambo speel al hoe vinniger, hy speel die Minute Waltz later in 59 sekondes!

Maar al die kettie-skietery en die dag se avonture begin nou hul tol eis. Hy het vanoggend laas geeet, daai popopoepappel, en hy smag na spys en drank. Sy opwinding taan en sy gemoed sak. “Is dit erens in die groter bestel van die oneindige kosmos en die ewig-uitdyende heelal so beskik dat ek die lewe sal verlaat as ‘n walvisdrol?”filosofeer hy mismoedig.

In sy sak het nog ‘n popopoepappel wat hy saam met die eerste een gepluk het om later te eet. Ten spyte van sy nare ervaring knaag die hongerpyne nou so erg dat hy dink: “Waddehel. So kom ek om so kom ek om!” en hy eet gulsig van die soet vrug. Hy vat sy kettie en begin weer mismoedig The Minute Waltz op die ribbebeen-xilofoon uit te skiet.

Dan voel hy hoe die gevreesde drukking in sy gedermte opbou. Al erger en erger word dit. Die nagevolge van daai eerste popopoepappel het sy spysverteringskanaal verrek, en die gasvolume bou nou op tot 5 kubieke meter met gepaardgaande drukking. Onvermydelik volg ‘n geweldige gasontlading en die drukking in die walvis styg so skielik die hoogte in dat dit sy bek oopsper, en daar skiet Rambo uit soos ‘n prop uit ‘n sjampanjebottel!

(Fok ek raak nou gatvol vir ou Rambo. Ek het lus en laat dooi hom net hier. ‘n Swaardvis kan sy hart deurboor of ‘n moerse inkvis kan hom diep onder die water intrek waar hy stuiptrekkend versuip.)
Rambo trek so 10, 15 m deur die lug en val met ‘n plons in die water. Om hom is dit pikswart donker. Aan die hemeltrans skitter die sterre en hy vind Orion in die hemelgewelf. Hy bereken dat hy erens in die suidelike halfrond is, maar die kennis help net mooi niks. Hy trap water en swem en trap water en swem weer tot die dag breek. Water net waar hy kyk, en nie ‘n druppel om te drink nie. G’n land in sig nie.

Dan sien hy doer ver ‘n warreling in die see. Die water skuim en spat en soos die gewoel nader kom maak hy die buitelende lywe uit van ‘n skool dolfyne. Hy slaak ‘n sug van verligting. Dolfyne is darem nie vleisvreters nie. Die volgende oomblik pyl twee dolfyne reg op hom af. Soos hulle naderkom sien hy yslike glimlagte op hul visgevreetjies. Vriendelike dolfyne! Dan steek die twee hul snoete onder sy arms in en swem met groot spoed vorentoe, die res van die skool op hul hakke. Kort-kort ruil die dolfyne om en dan skep twee ander hom weer. Teen die middag kan hy land uitmaak in die verte. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd skep Rambo weer moed en hy tuur angstig na die kuslyn daar ver op die einder.
Rambo kan later vaagweg geboue uitmaak, en hoe nader hulle aan die land kom hoe duideliker word dit. Dan, meteens, so helder soos daglig, daag dit by hom: Dis Hermanus! Waar die walvisse die tyd van die jaar in die baai kom kalf!
En voor jy kan se “Hermanuspietersfontein” laat die dolfyne hom los by die ou hawe. Hy gee elkeen van die dolfyne in die skool ‘n dankbare soen en streel hul snoete. (Dit vat lank, dit is ‘n goot skool dolfyne)
Toeriste in die hawegebied en by die talle restaurante daar storm opgewonde nader. In al wat ‘n taal is babbel hulle in Babelse verwarring. Kameras en selfone flits en klik en zir. Rambo word soos ‘n held skouerhoog uit die water gedra. Almal wil weet wat het gebeur.
“Lees my merkwaardige verhaal in volgende week se Huisgenoot” se hy. “Ek is nou moer toe, ek het nie krag om julle te vertel nie. Ek wil nou eers my vrou bel om te se dat ek veilig is”
Almal bied hul selfone aan en sommer gou hoor hy haar geliefde stem

 

”Hallo?” kom dit hartseer en verdrietig.

“Vrou” se Rambo Rabie”haal die steak en die tjops en die wors en die sosaties uit die deep feeze. Ek gaan nou braai.”

 

FIN.

 

Nog verdere avonture van Rambo Rabie

Rambo Rabie Episode Drie

Toe Rambo Rabie opstaan, voel hy wonderlik verfris. Sy vel tintel en sy senuweepunte voel of dit sulke vonkies skiet. Daai massiewe gasontlading het natuurlik sy organe gesuiwer van alle soorte liggaamsgifstowwe, ‘n enorme detox. Hy voel so gesond soos ‘n free range eier. Hy stap voort met vaste tred, doelgerig soos ‘n kruisvaarder op ‘n missie.
Die plantegroei word al hoe digter en hy moet as’t ware deur die takke en blare roei. Gou- gou is sy voorarms vol bloederige hale, maar hy laat hom nie daardeur van stryk bring nie. Nee, hy stryk vasbeslote aan. “Kom hel of hoogwater” dink hy, “ek gaan vorentoe” Hoe verder hy vorentoe beweeg, hoe stiller word dit. G’n meer apies wat “hieggie hagga” of Kalkoengedoentevogels wat “Kweaakoel” nie. Doodstil. Morsdoodstil. Net die geritsel van die blare soos hy dit wegdruk
Skielik gryp iets hom aan sy een voorarm vas toe hy die plantegroei uit sy pad du. Hy ruk sy arm terug, maar verniet. Hy gebruik sy ander hand om dit wat hom vashou los te maak. Maar daar sit die hand ook vas! Toe hy mooi kyk, sien hy dat hy in ‘n massiewe spinnerak vassit! Die spinnedrade is dik, so dik soos ‘n vroulike motoris in Gauteng se middelvinger, en so taai soos Sticks like Shit-gom. Hoe meer hy spartel hoe meer raak hy verstrengel in die taai, klewerige spinnerak. “Shit” se hy, “nou sit my turf!” So ‘n ent bokant hom merk hy ‘n beweging. Dis ‘n moerse spinnekop! So groot soos ‘n Foksterrier. (Net met agt voete). Die spinnekop loer agterdogtig na sy prooi, hy ken nie die soort vangs wat hy gemaak het nie en vertrou nie die vrede nie.
Rambo Rabie weet dit nie, maar sy eie oupagrootjie was ‘n insekkundige wat hierdie soort spinnekop ontdek het. Tot sy eer het die Smythsonian Archaeology, Palaeontology and Entomology Institute die spinnekop na hom vernoem: Arachnida Rabie Rabies. Vandaar die Rabie. Wat die spinnekop besonders maak is dat sy gif hondsdolheid in sy prooi veroorsaak. Vandaar die Rabies. Ook maar goed die spinnekop weet nie dat Rabie Senior sy voorvader gevang en vasgespeld het (met ‘n koevoet) aan ‘n houtbord waar sy uitgedorde kadawer nou in die Smythsonian Archaeology, Palaeontology and Entomology Institute se smoking room (Gentlemen Only) pryk nie. Want dan sou daai spinnekop karma geeis het!
Intussen spook en spartel Rambo vergeefs om uit die spinnerak los te kom. Die spinnekop kom nou stadig teen een van die silwer spinneweefsels afgegly. Voetjie-vir-voetjie. (Dit vat hom lank want daar is agt voete) Rambo kan nou die ongedierte se oe uitmaak, koud en kil, ontdaan van enige emosie of erbarming. Rambo is nou vasgewoel soos ‘n mummie in ‘n doodskleed. Hy kan skaars asemhaal, sy longe is platgedruk. Die spinnekop steek versigtig een voet uit na Rambo, voel-voel waar sy liggaam ontbloot is. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Dan met die ander voet. Tevrede dat die prooi vreetbaar is kom hy nader, maak sy angswekkende bek oop, Rambo sien die doodsknypers oopmaak, hy ruik die vrot reste van die spinnekop se vorige maal.

En dan, met een magtige sprong is hy los!

Lewies die onopmerklike

Ek vermoed ek het ‘n baie onmerkwaardige gelaat. Ek sal vandag kennis maak met iemand, blad skud, iets se soos “Aangename kennismaking Piet” vir Piet mooi vierkantig in die oe kyk (soos my poliesman pa my geleer het, net skelms maak nie oogkantak nie.)

Piet sal tien teen een antwoord “Bly te kenne, Lewies” en dalk iets byvoeg oor die weer wat vandag darem anderster is. Kyk hoe waai die Suidooster, dis mos Noordwester se tyd..
Ons paadjies skei en ons slaan ons onderskeie koerse in.

‘n Week later loop ek vir Piet weer raak, daar in die wynafdeling van Checkers. Hy het ‘n bottel Kanonkop in sy hand en kyk met smagting daarna. Dan sit hy dit met ‘n sug neer en sit ‘n bottel BC Cabernet in sy waentjie. Dis mos nou ‘n goeie aanknopingspunt vir gesels.

“Jis ou Piet,” se ek. “Die wyn is darem duur jong. Deesdae het ek my smaak ook maar afgeskraal”

Piet ruk orent, kyk my agterdogtig aan. Onthutsing vliet oor sy gesig, so asof hy vermoed sy identiteit is gekloon.
Ek verlos hom uit sy verbystering.

“Dis ek Lewies. Ons het verlede Saterdag by die boeremark ontmoet”

“O,” se hy met sigbare verligting. “Nou onthou ek. Verskoon tog, ek is nie goed om gesigte te onthou nie.”

“Jou bakkies sal ek nie sommer gou vergeet nie” wil ek vir hom se, maar ek se dit nie want my ma het my goeie maniere geleer. “Met daai lang tande van jou wat soos pitte in ‘n misoes-mieliestronk sit” wil ek byvoeg.

Die een voordeel van sulke onakgesentureerde fisionomiese kenmerke is dat ooggetuies sal sukkel om ‘n identikit van die uwe saam te stel as ek nou eendag in die gereg se visier kom.
‘n Man is egter maar ydel, en dis vir my elke keer ‘n teleurstelling as een van die vroulike geslag wat ek nie so lank gelede ontmoet het nie my so vinnig in die vergetelheid van haar geheue liasseer.

As my gesig dan so gou vergete word, moet ek die ontmoeting dalk meer merkwaardig maak deur dit te knoop aan ‘n opmerking wat diep in die geheue sal inets Iets soos: “Glad to know you Mary. Show me yer tits”