‘n Warm sopie vir koue bloed

Dis knap voor donker toe ek die Camry daar onder ‘n welige wilgerboom by die Groot Kuile intrek. Ek gooi eers so ‘n viervinger sopie en stap na die oewer.  Die water is blink en donker, soos gestolde glas in die smeltery, en kort-kort bars ‘n weerbarstige vis deur die oppervlak, en ek dink: “Hier moet vanaand visgevang word!”

Maar sommer na die eerste krap en skrop in my visboks weet ek ek het die aas by die huis gelos. Ek sluip tussen die lang gras op die wal van die kuil rond, op soek na enige lewendige ding waaarin ‘n vis sou belangstel.Skielik gewaar ek iets wat hier tussen my voete ritsel en vinnig raap ek dit op, dalk ‘n muis? Maar nee, dis ‘n slang! Ek skrik so groot ek kan nie die slang los nie en my hand knel al stywer om sy nek totdat sy bek in ‘n lang gaap oopgaan. Binne in sy bek is ‘n yslike padda. ” Dis mos visaas” dink ek en vinnig pluk ek die padda uit die slang se bek. Ek kry die slang egter jammer, eers verwurg ek hom amper en dan beroof ek hom nog van sy prooi, en as troos gooi ek so ‘n goeie skeut uit my glas in sy bek.

Mense, julle moes dit gesien het. Daai slang raak stil, doodstil. Toe lig hy sy kop en kyk na my. Sy slangogies blink behaaglik, en ‘n ligte trilling gaan deur sy lyf. Dit lyk of hy sterstof van sy lyf afskud, en dan word die trilling sterker, dis ‘n siddering wat deur sy lyf trek, van sy kop af tot by die punt van sy stert, en sover as die siddering gaan spring sy skubbe op totdat hy later soos ‘n oopgebarste dennebol lyk. Die skubbe glinster en glans in die maanskyn, hulle bibber in die aandlug soos die geroffel van tromme en tamboeryne op die maat van triomfantlike marsmusiek. My bek hang oop as ek besef dat die slang se koudbloedige binnekant vir die eerste keer sedert die Jurassiese tydperk hitte ervaar het. Terwyl ek stomgeslaan vir hom kyk, seil die slang daar weg, fier en vorstelik. As hy pote gehad het sou mens kon sê hy trippel trots soos ‘n Lippisaner op ‘n Vrystaatse landbouskou net na die eerste lentereën. Soos hy verdwyn in die riete flonker sy skubbe soos ‘n duisend chasing lights in ‘n Krismisboom.

Ek gooi ‘n volhand knerts en slaan dit weg terwyl ek dink:”More gaan daai bleddie slang ‘n moerse babbelaas hê.”

More: Nag langs die Groot Kuile

Koffiestop op pad na Ompadvoor

As dit goed gereën het is die Groot Kuile daar by Ompadvoor ‘n hengelaar se droom, en toe ek hoor die reën het behoorlik geval pak ek my visvanggoete en so ‘n botteltjie vir die aandskemer in my Camry en daar gaat ek. Ek pak g’n tent in nie, net so ‘n ses voet sinkplaat wat ek in die aand so skuins teen die Camry staanmaak vir skuling, net om die ergste dou af te keer.
Maar dis warm, die son steek behoorlik en so ‘n paar myl van Ompadvoor sien ek nee, maar die Camry kort water, en ek draai by die naaste plaashek in. Die boer en sy vrou hou nou aan ek moet eers koffie drink terwyl die Camry afkoel. Ons sit sommer daar op die stoeptrappie by die agterdeur. Dis so warm die boervrou skep sommer die kookwater uit die ressewor om die koffie te trek. Ek sit die warm blikbeker so eers in die een hand en dan in die ander. Na so ‘n ruk vat ek ‘n mondvol, maar die koffie is nog so warm dat ek nie weet waffer kant toe nie, ek kan nie sluk nie en ek kan nie spoeg nie. Ek rol daai mondvol koffie so vir tien minute in my mond rond voor ek dit regkry om te spoeg. Ek spoeg so ‘n blink streepsel koffie wat die boer se Foksterrier hier op sy blad tref daar waar hy onder die peperboom lê en slaap. Die hond spring met ‘n tjank op en hol tjou-tjou die rante in, so warm is daai koffie nog.

Maar ek moet ry, voordat die donker my vang.  Dis nog aanstoot na Ompadvoor en die Groot Kuile. Ek vertel more meer.

Die velle waai

Toe ek nou weer so mymer oor die dooie velle storie, kom ‘n ander storie by my op.
‘n Mooi jong boeremeisie daar uit Namakawaland se wêreld kry werk by die Criterion Hotel in die naaste stad as kamerbediende. Haar pligte sluit in die opmaak van die beddens ens. Die eerste oggend nadat sy diens aanvaar het neem die hoofkamerbediende haar onder hande om haar vertroud te maak met die werk. Hulle begin om saam-saam beddegoed van ‘n bed af te trek, en daar lê ‘n gebruikte kondoom tussen die lakens.Die arme meisie kyk geskok daarna. Die hoofdame sien haar verbasing en vra, “Doen julle dan nie sulke goed daar waar jy vandaan kom nie?’

“Ja” sê die meisie, “ons doen dit, maar nie so erg dat die velle waai nie!”

Passasier

Die inwendige ondersoek gister het baie goed afgeloop. Wat aanvanklik ‘n poliep kon gewees het was toe nie. Ek is baie dankbaar en baie verlig.

 Liz vertel van haar fobie oor vlieëkots wat soos stalagtiete van die ceiling op mens kan drup (fokken gross!)

Ek werk in ‘n openbare gebou waar daar gedurig ‘n kom en gaan van mense van alle soorte is–alledaagse mense, ook van daai ouens wie se persoonlike higiëne onder verdenking is. Ek het eenkeer gelees dat die gemiddelde mens 2 kg dooie vel in ‘n jaar afgooi, daai flentertjies mikroskopies skilfers wat wemel van myte en ander liederlike organismes. Nou is my teorie–as daar daagliks omtrent 100 mense in my werksplek instap en elkeen vertoef ‘n uur of wat daar, hoeveel ton vel en skilfers word nie oor ‘n jaar daar geshed nie, en hoeveel van daai skilfers word nie deur die aircon deur die hele gebou vesprei nie–dan is dit mos moontlik dat elkeen van ons wat daar werk oor ‘n tydperk maklik ‘n volwasse mens se gewig aan dooie vel ingeasem het! G’n wonder Sureslim werk nie vir my nie!

Op die troon

Soos ek in my inskrywing Piep en Poliep vertel moet ek more gaan vir ‘n gastroskopie en kolonoskopie. Die voorbereiding vir die prosedure behels die ledeging van die kolon, ‘n proses wat my vierkant op die troon hou–lyk my die keuse van my avatar/prentjie/ikon was baie profeties.  Een troos is dat ek Maandag se dinge by die werk side step, bleddie skrale troos. Ek face eerder ‘n volskaalse Donderdagse Maandag as hierdie oorlog. Die menslike liggaam is ‘n masjien, en so nou en dan moet daar seker maar onder die bonnet ingeloer word om te tjek of al die moere nog moer.

Uitsig op die lewe

Gister loop ek DM in die dorp raak–hy is die pa van ons seun se boesemvriend op skool.

“Dagsê DM,hoe gaan dit ou vriend”. Ons skud blad en en ek probeer ongesiens my hand vryf–ek het vergeet DM het ‘n ystergreep.

“Goed Lewies, baie goed. Ek moet net keer of dit gaan beter”

“En hoe gaan dit met DM Junior?”

ok Lewies, daai outjie maak ‘n kakhuis vol geld. Lyk my as jy op universiteit was ken jy die triek. As ek dit geweet het sou ek ook gegaan het, dan sou my eerste miljoen sommer baie gouer gekom het”

Nou ja, DM het seker al sy miljoen ‘n paar keer gemaak, maar die storie loop dat hy dit meer keer verloor het as wat hy dit gemaak het.

“Jy weet daai outjie is nou eers sewe en twintig en hy ry al klaar ‘n moerse Merc. Hy het hom mos ingekoop by Valinsymoer Konstruksie, jy weet daai ouens wat so bedrywig is met 2010. Hy kry moer baie geld, ‘n huis, petrol toelaag en ‘n onthaal toelaag waarmee hy die hele fokken Joburg kan treat. Nee, daai outjie het ge arrive”

DM se gesig is rooi van trots en opwinding en veertig jaar se brannas en Coke.

Ek wil hom vertel van Lewies Jnr wat elektroniese toerusting ontwerp, maar DM is fokkol geinteresseerd. Hy hoor my nie eens nie. Sy verhaal van sukses en groot geld stroom soos rioolafval in die Apiesrivier.

” En is hy en Estelle toe getroud? ” kry dit in toe hy vir ‘n oomblik asemskep.

Hy hyg na sy asem soos ‘n moeg hond.

“Nee, fok jong, daai girl was nie sy soort nie. jy weet haar pa was maar ‘n sukkelaar, hy’t mos jarre vir die munisipaliteit gewerk. Jy onthou mos sy was so fokken weird, kuns gedoen op skool en sulke snaakse klere gedra. Nee wat, sy sou nie by hom pas in sy loopbaan nie. Jy weet hy mix nou met die heel fokken rykes. “

” En waarmee is jy deesdae besig, DM?”

Hy hoes amborstig. Sy gesig word nog rooier en sy oê peul uit. Ek dog eers die man kry een of ander aanval, en net toe ek wonder wat de fok ek nou moet doen, trek hy sy asem met ‘n lang fluit in en stotter “Die fokken siegrets”

Hy kom weer op dreef en vertel vertroulik:

Ou maat, ek het ‘n contact op die myn. daar is fokken baie geld om te maak. Ek gaan juis nou die GM sien. as ek die deal deurhaak maak ek twee en fokken veertig miljoen, cash, en die ontvanger weet van fokkol. Maar wag, ek moet nou fokkof, hulle wag vir my.”

Die keer vermy ek sy uitgestrekte hand.

“Cheers, DM”

Hy draai om en klim steunend in ‘n verbleikte groen Uno. “My X5 is in vir sy eerste diens,” verduidelik hy, ” nou gee die garage my die kak om mee te ry”

Nou wonder ek, as dit so goed gaan, waarom was daar in verlede week se koerant ‘n geregtelike kennisgewing dat DM besoek van die balju gehad het?

Piep en poliep

 Was gister by die dokter vir ‘n middelvinger-ondersoek–mens sou nie sê daai klein mannetjie het so ‘n dik vinger nie. Die keer is daar egter geen thumbs up nie, hy sê hy voel ‘n poliep, so nou moet die hele poepstring van die norra tot by die nersderm ondersoek word. Die derms en maag moet eers skoongespoel word, lyk my ek gaan ‘n kakkerige naweek hê.

Van naweek gepraat–ongelooflik hoe die tyd verbygaan, soos skadudrome. Verlede jaar se krismiskaartjies is nog op die pelmet uitgestal en hier is dit alweer sulke tyd. Ek betaal nog af aan laasjaar se Krismisskuld, en reeds klingel die klokkies en blink die goetertjies en kakkertjies in die winkels. Soos Adam Small êrens skryf :

        Bethlehemster skitter elke jaar
        Helderder in die OK basaar

Deesdae is daar so ‘n bedeesde stemmigheid by ons familiekuiers  oor Kerstyd. Soveel minder mense, soveel al heengegaan. Die jonges het oud geword,die jonggetroudes van destyds is nou die oupa’s en ouma’s, suie versigtig aan ‘n bleek whisky, die dae van een bier na die ander, lag en strontpraat en skunnige grappies om die braaivleisvure daarmee heen. Dit kon my altyd  ergerlik afpis as die oumense so met  weemoedige ontnugtering kwytraak: “Ai die tyd vlieg darem deesdae” Nou is ek die een wat dit so aan my lyf voel. En tog, roekeloos wens mens die tyd verby, van Maandag tot Vrydag, van paydag tot paydag. Ek kry deesdae die Sondagaand blues al op Vrydag.

Ja fok, die tyd gaan verby, soos ‘n rivier in vloed, en dit huiwer nie en draai ook nie terug nie.

This WordPress.com site is the bee's knees