Tag Archives: Aftrede

In ‘n staat van Emeritaat

In ‘n staat van Emeritaat.

Nee kyk, hierdie staat van emeritaat groei op my soos muf op ou brood. My hartklop pols in ritme met Mantovani se Moon River, my bloeddruk is so af ek voel hom skaars. My brein se Alpha ritmes is amnioties kalm. Die psigiater het die dosis Fukitol halveer. Ek kom nou die dag agter dat ek nie meer my horlosie dra nie. Gevoelente is nou my horlosie. As ek voel dis nou tyd vir brekfis dan toast ek vir ons ‘n broodjie, as ek voel dis nou tyd vir ‘n koppie tee dan skink Vroukie hom al in ‘n krullerige koppietjie met pienk rosies, as ek voel dis nou tyd vir ‘n wyntjie dan maak ek so, en as daai ander gevoelente sigselwers presenteer, julle weet mos, daai een, dan worrie ek nie oor ‘n laatkommery by die werk nie. Sedert ons hier in Hermanus bly het ek nog nie ‘n middelvinger teen ‘n mede-padgebruiker gelig nie, en daai woord, wat is dit tog nou weer, nee fokkit, kannie onthou nie, maar daai woord het nog nie weer oor my lippe gekom nie. Ek kyk Pasella en Kwela en her-heruitsendings van Mollie en Wors en Orkney Snork Nie sonder om kort-kort te sê “Wat ‘n pot kak”. As dit so aangaan kyk ek een van die dae heruitsendings van TV 2 nuus met Riaan Cruywagen.  Ek skel nie meer op rugby skeidsregters nie.  Dit gaan so goed met my dat die Cheetahs ewe skielik een game na die ander wen. gen.

Is dit dalk iets in die water?

 

Advertisements

Die teerling is gewerp, die koeël is deur die kerk, die Rubicon is oorgesteek.

Ek het nou al ‘n paar keer vertel van my en Vroukie se voorneme om trans-Hex te emigreer en hoedat ons ‘n huis in Hermanus bekom het. Die nuutste verwikkelinge in die sage is dat ons huis hier in Klerksdorp verkoop is, wat volgens vriende en kollegas nogal gou gebeur het in hierdie tyd waar die eiensdommark pap is, soos die agente sê. Net nog ‘n aanduidding vir ons dat ons die regte besluit geneem het. Ons moes weliswaar R40 000, 00 in prys afkom, maar dis ‘n opoffering wat ons bereid is om te maak. Intussen het ek en Vroukie ons bedankings ingedien en my personeel het ‘n verbysterende afskeid vir my gereël. Ek was opreg aan die hart gegryp dat die klomp vir wie ek al om die hawerklap my moer gestrip het soveel moeite gedoen het om die geleentheid spesiaal en besonders te maak. Vroukie is ook genooi en het ‘n yslike bos blomme gekry.  Maar ek sal die klomp mis–hulle het my altyd met respek behandel en my in opregtheid “Ntate” genoem. Aan die einde van hierdie maand , op die 31 ste dag van die Desember in die jaar des  Onse Heere 2012, lê ek die tuig amptelik neer.My kantoor is so te sê gestrip van 34 jaar se opgegaarde dokumente, boeke, dagboeke van vorige jare (Hoekom opgegaar? Nee fok, die uwe weet ook nie!) en allerhande ander parafernalia. ‘n Paar laaste joppies wag nog om gedoen te word, en dan is dit Koebaai Meraai.  Intussen is ons hier by die huis aan die sorteer en uitgooi, die groot pakkery word in Januarie beplan, met moontlike trekdatum 21 Januarie. Praat van gemengde gevoelens om die huis en haard van 34 jaar te verlaat, maar die vooruitsig om as’t ware ‘n nuwe lewe in Hermanus te begin weeg baie sterker.