Tag Archives: Hermanus

Die invloedryke Lewies

Hoor ek nou die dag oor die nuus ek is skaars weg uit Noord-Wes of ‘n ondersoek na die administrasie van plaaslike regering bring aan die lig dat Noord – Wes die swakste vaar van alle munisipaliteite in SA,  en ek het skaars hier in Hermanus te lande gekom of die Wes-Kaap word aangewys as die provinsie waar die munisipaliteite die beste presteer. Wys jou nou net!

Advertisements

Die teerling is gewerp, die koeël is deur die kerk, die Rubicon is oorgesteek.

Ek het nou al ‘n paar keer vertel van my en Vroukie se voorneme om trans-Hex te emigreer en hoedat ons ‘n huis in Hermanus bekom het. Die nuutste verwikkelinge in die sage is dat ons huis hier in Klerksdorp verkoop is, wat volgens vriende en kollegas nogal gou gebeur het in hierdie tyd waar die eiensdommark pap is, soos die agente sê. Net nog ‘n aanduidding vir ons dat ons die regte besluit geneem het. Ons moes weliswaar R40 000, 00 in prys afkom, maar dis ‘n opoffering wat ons bereid is om te maak. Intussen het ek en Vroukie ons bedankings ingedien en my personeel het ‘n verbysterende afskeid vir my gereël. Ek was opreg aan die hart gegryp dat die klomp vir wie ek al om die hawerklap my moer gestrip het soveel moeite gedoen het om die geleentheid spesiaal en besonders te maak. Vroukie is ook genooi en het ‘n yslike bos blomme gekry.  Maar ek sal die klomp mis–hulle het my altyd met respek behandel en my in opregtheid “Ntate” genoem. Aan die einde van hierdie maand , op die 31 ste dag van die Desember in die jaar des  Onse Heere 2012, lê ek die tuig amptelik neer.My kantoor is so te sê gestrip van 34 jaar se opgegaarde dokumente, boeke, dagboeke van vorige jare (Hoekom opgegaar? Nee fok, die uwe weet ook nie!) en allerhande ander parafernalia. ‘n Paar laaste joppies wag nog om gedoen te word, en dan is dit Koebaai Meraai.  Intussen is ons hier by die huis aan die sorteer en uitgooi, die groot pakkery word in Januarie beplan, met moontlike trekdatum 21 Januarie. Praat van gemengde gevoelens om die huis en haard van 34 jaar te verlaat, maar die vooruitsig om as’t ware ‘n nuwe lewe in Hermanus te begin weeg baie sterker.