Tag Archives: Vroukie

Baas en Klaas

Lewies sit voor die venster en tuur uit na die berg wat befloers is in miswolke. Hy dank sy sterre dat hy in hierdie natuurskone omgewing te lande gekom het na jarelange verblyf in die droë Noord-Wes waar die Augustuswinde hierdie tyd van die jaar op hul felste gier. Hy dink terug aan die koeël deur die kerk wat sy voornemens om transhex te migreer ‘n voldonge feit gemaak het: ‘n kort maar goed geartikuleerde brief aan sy owerstes wat die kern boodskap “I quit” kripties geformuleer het. Daardie brief het magiese metamorfosiese kragte gehad: binne ‘n oomblik het Lewies van Baas tot Klaas getuimel, sy posbeskrywing as hoofman oor andere het eensklaps gedegenereer tot die van Kitchenboy en Gardenboy. Eish, sug Lewies terwyl hy wonder of hy sy beker bitter daiabetesvriendelike koffie moet drink of dump, die ruil was die moeite werd, dink nou net, jy kon nou in ‘n vergadering gesit het waar die plurale orale kultuur hoogty vier.

Nog besig met die mymeringe kom Vroukie die vertrek binne.

“Lewies” sê sy.

“Ja Vroukie, wassit?” vra Lewies agterdogtig. Wat voer Vroukie in die mou? Impliseer dit kitchenboy, gardenboy of nutsmanfunksies?

“In hierdie huishouding, tussen ek en jy, wie dink jy is die baas?”

Net so vra sy. Strikvraag.

“Bedoel jy nou wie dra die broek?”

“Nee, nie so erg nie. Maar wie gee leiding as die belangrikste besluite geneem moet word?”

“Nee jis, Vroukie. Ek dink dis eerder ‘n regering van eenheid waarin een party gelyk is aan die ander”

“Nee, jy moet sê wie is baas, want vandag is Baasdag en die baas moet bederf word”

Nou toe nou!

“In daai geval deps ek om baas te wees! Wat het jy in gedagte?”

“Hoe lyk dit met koffie by Anya’s Mum”

“Lyk reg vir my, Vroukie. Met suiker. En ‘n stukkie koek daarby?”

Daar blink ‘n twienkel in Vroukie se oog.

“Wanneer Lewies? Voor of na die koffie?”

Een banana koek, twee banana koek, drie!

Gister kry ek snuf in die neus, wil vaagweg bekend aandoen.

“Lewies!”

“Wassit Vroukie?”

“Het jy lus vir ‘n snytjie piesangbrood?”

So, dit was die snuf!

“Gedog ek ruik iets brand”

“Is darem nie so erg nie. Ek het die brood net te gou uit die pannetjie gehaal toe breek ‘n stukkie af”

“Maak nie saak nie. As mens nie koek gewoond is nie smaak enigie flop lekker”.

Woep!

“Eina fok Vroukie man!! Daai bleddie houtlepel slat bleddie seer!”

Woep! Woep!

 

As die hamer en die aambeeld en die stiebeuel nie meer so lekker tieng-tieng nie

Vanoggend stap Lewies en Vroukie dorplangs terug huis toe van hul daaglikse stappie langs die see.

“Baked beans for breakfast” lees Vroukie vermoedelik een of ander spesiale aanbieding wat by Anya’s Mum se restaurant adverteer word.

”Het jy lus vir ‘n brekfissie?” vra Lewies.

“Nee, hulle adverteer ‘n vacancy for a waitress”

Hoorfout, dink Lewies ietwat bekommerd. Die ding gebeur deesdae al hoe meer.

“So wat sé jy van daai Le Creuset kastrol?” vra Vroukie.

“Nee wat, ek sé;ja” antwoord Lewies. Ons het lanklaas ‘n seekoskasserol geëet”

Lewies kan nie verstaan hoekom Vroukie so skelm glimlag nie.

“Hoekom smile jy so skelm Vrouke?” vra Lewies.

“Lewies, dit sal die duurste wees wat jy ooit vir ‘n seekoskasserol sal betaal!”

‘n Insident in blou, con majestuosa tempestuosa

Ek en Vroukie sit hier op die agterstoep, so geselsend oor die Oscar Show, wou aanvanklik nie kyk nie maar loer nou kort-kort, dis baie meer opwindend as die Protea-Chokers se no show. Vroukie sit op die trappie en doen iets aan haar voete, skrop, vyl en begin dan haar toonnaels verf. Dan sien ek dit. Blou. So asof sy die toonnael met ‘n hamer kon raakgeslaan het of dalk die slagoffer kon wees van ‘n kataklismiese besering aan diens, dis immers al tien tone wat betrokke is. ‘n Nadere bekyking bring aan die lig dat sy sowaar besig is om die toonnaels blou te verf, so asof sy ‘n Pikt is wat nou regmaak om die vyand aan te durf. Nee, kwit, dink ek by myselwers, Vroukie is nou besig om uit te haak. Sy oordoen hierdie forever young versugting nou heeltemal. Dis alles die Glam Guru se skuld. Sy is immers ‘n dame in haar senior wordende jare en as sulks moet sy mos ‘n waardige betaamlikheid handhaaf. Hierdie uitspattige bont naels is ‘n verspottigheid waarmee die jonger geslag hulle mee kan besig hou. Rooi, ‘n ouer dame se toonaels moet ‘n stemmige rooi wees om haar statige waardigheid te pas as die mater familias . Onnadenkend spreek ek hierdie gedagtes hardop uit, in wat genoem kan word “n Ligte mistykie”
Voukie sit so met haar een voet in haar hand, in die ander hand is die Cutex kwassie. Sy kyk vir my. Daar is nie ‘n twienkel in haar oog nie, maar wel ‘n baie duidelike boodskap, ‘n boodskap in hoofletters, in vetdruk. Sans serif. Die letters is HKGK. Sy sit my so en kyk. Dan staan sy op en vat my hand. “Kom saam” se sy. Sy lei my na ons slaapkamer toe. Uh huh, dalk het ek verkeerd gelees, dit was dalk tog ‘n twienkel. In die slaapkamer loop sy na my klerekas toe. Sy pluk die deur oop en skep ‘n klompie broeke uit die rak. (Dis definitief HKGK.)
“Wag nou Vroukie, wag nou. Wat maak jy?”
“Ek gaan jou Salvation Army klerekas uitgooi. Dis hoog tyd dat jy bietjie bykom en meer byderwetse klere dra. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie” Net so se sy.
“Fok Vroukie…
“Los die gefokkery Lewies, jy weet ek hou nie daarvan as jy so lelik praat nie”
“Ja maar jy kan mos nie my klere begin uitgooi nie. Daardie is my werksbroeke…”
“Jy werk mos nie meer nie. Jy kan bietjie meer ontspanne aantrek. Dan sal jy ok nie meer so oud lyk nie. Kyk net hier, bruin broek, beige broek, navy broek, bruin broek, beige broek, navy broek so uit die oude doos. “
“Ja maar dis kwaliteit, ek het dit by Woollies gekoop, het my blerriewil R50 stuk gekos .”
“Kwaliteit” snork sy.”Die goed se gatte is blink gesit.”
Nou gryp sy my hemde.
“Kyk hier. Two tone Ventersdorp styl. Kry iets wat jou sal laat jonger lyk”
“Ja maar…”
“En kyk hier, hierdie onderbroeke van jou, die goed is verflenter. Jy sal koue vang as jy die goed dra.”
“Ja maar…”
Sy gooi dit op die hoop klere .
“Ek moet omsien na my belange” se sy.
Nou pluk sy my skoene uit die kas.
“Net nie my grys Grasshoppers nie!”
“Jy het die bleddie goed nog nooit gedra nie! Waarvoor bere jy dit?”
“Dalk kry ek dit eendag nodig, jy weet, as ek oud is en dalk probleme met liddorings het. Ek het dit vir ‘n bargain gekoop by Kara’s”
“Nou gaan koop vir jou iets wat jou minder oud laat lyk. ‘n Paar stapsandale sodat jy kan bybly as ons op die cliff path stap”
Fokkit. Net so se sy. Ek besluit om maar die vrede te bewaar. ‘n Huismoles in hierdie 24/7 situasie kan nogal pynlik wees.
“Kom Lewies.”
‘’Waarheen gaan ons.”
“Dorp toe. En bring jou beursie saam.”