…al die voëltjies sing

Vroeg vanoggend toe ek staan en skeer kwetter en kweel die voëltjies in die tuin uitbundig, so asof hulle hulself uitbaljaar voor die son begin steek.

“Jissie Vroukie” sê ek so tussen die skuimbolle deur. “Hoor net hoe gaan die voëls te kere! Van die klein kwikkies tot die groot hadida’s, almal die ene plesierigheid.”

“Sê my Lewies…”

“Sê wat Vroukie?”

Sy kyk na my. Daar is ‘n twienkel in haar oë.

“Sê my, Grootvoël, hoe plesierig voel jy vanoggend?”

Toe kom ek weer laat by die werk, baie laat.

Lewies misinterpreteer ‘n voorteken van geluk.

Ek en Vroukie sit vanmiddag in die koelte van die stinkhoutboom met ‘n snytjie olive ciabata van Woollies en al die trimmings om ‘n smaaklike broodjie te bou. Lekker rustig, more se werk toe gaan is ver van ons gedagtes. Skielik klap Vroukie woes na haar skouer.

“Wat nou? Wat is dit?” wil ek weet, besorg dat een of ander goggaspesie haar beetgepak het.

 “Bleddie voëltjie het op my getjorts” sê sy vies.

 “Hey, dis ‘n voorteken van geluk” troos ek haar, “maar dan moet jy dit nie afvee voordat die geluk gekom het nie. Die volgende Lotto-trekking is eers Woensdag, so jy sal daai slapskyt voëltjietjorts moet nurse tot dan! Hehehe! Nuwe parfuum! Merde d’alouette!  Mossiemis! “

Sy buk vooroor en vat my servet. Sy vee die tjortsplots driftig af en sit die servet terug in my bord. “Grapgat!”

Ek sien my spitsvondigheid vind nie byval nie en probeer die onderwerp verander.

“Die broodjie is nogal lekker met die hummus,” sê ek.

“Daar is nie hummus op die brood nie. Dis lankal op”

“Ek kon sweer ek proe hummus. Kyk, hier is nog ‘n bietjie op my brood”

Daar is skielik in fladdering in die blare bokant my. Ek kyk op, net betyds om te sien hoe ‘n lyster vir my skewesnawel trek voor hy wegvlieg.