‘n Nuwe jaar met nuwe dinge.

Vaarwel 2011, ‘n jaar van min hoogte- en laagtepunte, ‘n jaar stil soos kalm see wat gekom en gegaan het soos ‘n skadudroom.

 

Ek sien uit na 2012 met afwagting en ‘n tikke benoudheid. Dis die jaar waarin ek en Vroukie twee van die belangrikste besluite in ons lewens gaan uitvoer: ten eerste gaan ons na lang jare se werk uittree, so twee jaar voor verpligte pensioen. Ons het die kat mooi uit die boom gekyk en besluit êrens moet mens besin dat jy nou genoeg vergader het om in blote bestaansvereistes te voorsien, maar dat die lewe ook meer inhou as om net te bestaan en dat lewenskwaliteit ook belangrik is. Tweedens gaan ons sak en pak Hermanus toe verhuis, om nader aan ons kinders en kleinkinders te wees en ook om as’t ware ‘n tweede lewe daar te begin. Ons het reeds ‘n baie beskeie huis daar gekoop en sien met opwinding uit na die regmaak en opknap van die huis en die beplanning  en herontwerp van die tuin. Die plekkie is binne loopafstand van die see en die middedorp, en ons droom van see toe stap en rondslenter in die dorp, om nuwe plekke te ontdek, rond te ry in die Overberg, off the beaten track, en natuurlik om meer te sien van die kinders en die kleintjies. Die gedagte aan oppak en trek, om hierdie huis met 34 jaar se baie lief en min leed te verlaat, goeie vriende agter te laat, dis nou waar die benoudheid inkom. Mense sê jy moenie uit jou ondersteuningsnetwerk padgee nie, hier ter plaatse is myne beperk tot die vrou by Neserhof Drankwinkel wat bereid is om my ses biere op skuld te gee as my beursie by die huis vergeet is.

 

Aan almal wat hier lees, en ook aan die wat nie hier lees nie–voorspeod in 2012! Hêppie-hêppie! Ek klink vanaand so te midde van klappergeknal, hoeters en skreeuende taaiers ‘n glasie op al my blogvriende.

‘n Onbillike voordeel

Gister speel ons boulle op die gras (daai game met die groot ghoens wat die Franse ooms speel). Oupa Felix, 90 jaar, speel saam. Hy het geen sig in sy een oog nie en die ander oog kyk ook maar bedenklik. Teen alle verwagtinge in gooi hy die boulle verbasend akkuraat en wen selfs so nou en dan ‘n game. Sy oudste agterkleinkid Kara kla dat hy eintlik ‘n voordeel het bo ons ander. Sy verduidelik dit so: as sy gooi, moet sy korrel, en as sy korrel moet sy haar een oog toemaak. Oupa Felix hoef nie sy oog toe te maak nie, hy is mos blind in die oog,  hy gooi dus akkurater omdat hy nie hoef te korrel nie.

Beat that logic.

Aan al my mede-bloggers en bloggenote–mag julle ‘n vreugdevolle Kersfees geniet, omring deur geliefdes, en vervul met vrede en welbehae.

Revenge of the Chopper Dog

Hier by ons aan huis het ‘n vreemde verskynsel kop uitgesteek. Ek en Vroukie vertoon ewe skielik en so saam-saam rooi knoppies op die lyf wat die jollie jeuk na ‘n ligte irritasie laat lyk. Ons bespiegel die kant en daai toe, en ‘n verklaring waartoe ek kom word algemeen aanvaar: dis van Vroukie se rondslapery. Ek het mos al hier op my blog my allenigheid beween wanneer sy in opdrag van haar betaalmeesters Pretoria toe moet gaan en dan daar moet oornag.Grand hotelle, sy en haar kollegas word nie gesnoep nie. Wat my laat dink: Die gaste in daardie hotelle kom uit alle uithoeke en agterbuurtes van sonnige Suid-Afrika, dis mos logies dat hulle allerhande goggas kan saamkarwei wat dan die hotelbeddegoed en kamers kan besmet. Hulle klim op Vroukie se bagasie en skop nes hier by ons. Gevolglik word Pest Control die volgende dag ingeroep. Hulle verklaring is ietwat anders: dis wel ‘n gogga, maar nie bed bugs soos ek gediagnoseer het nie–die kliniese voorkoms is die van vlooie. Die pesman besluit om die twee honde aan te keer en te ondersoek. Ligte mistykie. Ten eerste laat Pamela haar nie aankeer nie. Sy kies die hasepad en die pesman kan haar nie vang nie. Dus keer hy die meer goedgelowige Chopper aan. Toe hy Chopper se agterbene oopflêr en hier in sy private krap op soek na vlooie, los ou Chopper ‘n benoude straal hondepie so geel soos Fanta Orange hier oor die ou se hemp en broek.  Ou Chopper word baie vinnig neergesit en die pesman verklaar terwyl hy die piedruppels vies van sy hande afskud “Fokkit! Nee, hy is skoon Oom. Fok!

Nee Oom, hy het nie vlooie nie. Fok!”

Lewies staan pa.

Ek het hierdie storietjie vroëer geblog, 17 Jan 2010. Dis ‘n ou grappie wat ek so bietjie blink gevryf  het.  ‘n Paar dae later kry ek hom in my in box, ek was baie in my noppies, hier is ek, die beskeie Lewies, nou elektronies gepubliseerd! Daarna het die storietjie nog so ‘n keer of twee via die e-pos roete by my uitgekom. Nou die dag gewaar ek hom weer by Silly, en weer eens is ek chuffed. Maar gister toe sien ek hom op ‘n ander blogger se pos, sonder enige erkenning of aanduiding dat dit van êrens gesource is nie. Toe raak ek ietwat moerig–dis mos nou elektroniese plagiaat! As mens êrens ‘n oulike storietijie raakloop en dit wil deel met mede-bloggers sê jy immers “Ek het die volgende in my in box gekry”. Dus. om alle twyfel uit die weg te ruim oor die outentieke outeurskap van “Doodskoot”

plaas ek dit weer. Ek het daai storie geskryf, ek, die uwe Lewies, die nimlike hy. Ek plaas hom met tikfoute en al.

Hier is hy.

http://blogs.litnet.co.za/pasella/doodskoot

Doodskoot

So kort voor die runderpes is r in Namakawaland ‘n oom en antie. Hulle het kinders by dosyne. By die geboorte van die laaste een waarsku die dokter dat die antie se masjienerie nie meer so lekker is nie en dat sy bes moontlik nie nog ‘n geboorte sal oorleef nie. Die oom en antie skrik, want hulle is lief vir mekaar en wil nou nie sommer moedswillig die antie laat dood nie.

Nou slaap hulle op apart op sulke ysterkateltjies, maar die ongedurigheid broei in hulle. Een nag lê die oom wakker en hy hoor die antie se kateltjie kraak en kreun soos sy rondrol. Na ‘n rukkie is dit stil en hy kyk na haar, net om te sien dat sy hom met groot oë beloer. “Jy keek vi my,”sê hy. “Ja,”sê sy,”ek keek vi jou. ” “Nou maar hoekom keek jy vi my?” vra hy. “Ek dink” sê sy.  “Nou maar wat dink jy so innie laatnag?” vra hy. “Ek dink jy moet my maar die doodskoot kom sjee”