‘n 1949 model, gebruik maar nie gehawend nie

Ek het die voertuig waarmee ek my tans begewe op 1 Oktober 1949 gekry. Ja nee, Vrydag sal hy een en sestig jaar oud wees!

Aan die begin het ek maar gesukkel om hom te manuvreer en het kort-kort in hindernisse vasbeweeg. Die kuns om betyds te swenk en te stop het ek eers later bemeester, danksy goeie onderrig. 

 

So op die vooraand van Vrydag betrag ek my voertuig onemosioneel. Daar is ‘n paar stampplekke sigbaar, meesal waar mekkenieks hul werk gedoen het, hoofsaaklik om sonskade te herstel. As jong man het ek nie kon dink dat die son so skadelik kan wees nie, ek was heeltemal ongeërg daaroor. Daarby is die eens rooibruin vinieltop nou grootliks weggeslyt. Wat oor is daarvan is gryserig. Dit is nie ongewoon om die vinieltop te vervang met een van sintetiese viniel nie, maar dit staan my nie aan nie. Ek sal nou nie my voertuig probeer versier met nagemaakte viniel nie! Nee wat, dan kan ek maar netsowel ‘n plastiek lemoentjie aan my voertuig se arial sit! Ek hou nie van windgat nie, dus pryk daar geen bêdgies en bling aan my voertuig nie.

 

Deur die jare heen het daar nie veel verkeerd gegaan met my voertuig nie. Op ‘n stadium was die aanboord computer bietjie laf, maar ‘n mekkeniek het voorgestel dat ek gereeld ‘n brandstofbymiddel toedien, wat nogal help. Ek gooi ook maar ietsie by om die battery flink te hou en om te sorg dat die pype oop bly. Van my tydgenote moes al hul voertuie se batterykabels vervang.

 

My voertuig het nog nooit gerook nie, dus dink ek die vergasser is nog in goeie toestand. Ek het ook deur die jare geleer dat te veel bymiddels by die brandstof ‘n nadelige uitwerking kan hê, veral op die computer wat dan sukkel om sinvolle inligting te gee. Van die begin af was my voertuig se GPS egter nie lekker nie, skoon rigtingbedonnerd!

 

So op die oog af lyk hy darem nie te sleg nie. Danksy ‘n bietjie meer as ongereelde oefenritte steek hy nie sommer kop tussen die knieë by die aanskoue van ‘n steilte nie. Daar is ook geen strammigheid in die CV joints nie, die veerstelsel is ook redelik soepel. 

 

‘n Paar jaar gelede was daar fout by die ekshos, maar ‘n goeie mekkeniek het dit gou reggestel. Ek dink egter die ekshos lol weer.

 

Nee wat, hierdie voertuig van my het my goed gedien deur die jare. Is nou seker nie queen of the parking lot nie, maar daar is darem wragtig groter skedonke op die pad.

 

Met al die jare agter die blad, kan ek egter nie help om soms te wonder nie–waar gaan my voertuig my eendag in die steek laat?

 

 

 

 

Heugelike tyding…

…bron van hartsverblyding! 

 

Ek en Lettertrash is weer in sync, ek kan weer ronddwaal op die blogs, kommentaar lewer, antwoord op kommentaar, selfs ‘n inskrywing pos! Ek kan egter steeds nie fotos plaas nie, ‘n probleem wat ek reeds aan Hanna Hoekom gemeld het (Hanna hoekom kan ek nie fotos plaas nie). Die Insert Image venstertjie gee nie ‘n browse opsie nie. Ek sal maar eksperimenteer met ander maniere. 

 

Hierdie Erfenisdag moet die hondehok moet opgradeer word, hier het intussen nog ‘n hawelose swerweling opgedaag en ‘n holte vir sy voet gevind, ‘n klein brakkie, nog met melktandjies, so tien, twaalf weke oud. G’n siel in die omgewing ken hom nie. Hy en Pamela die werfhond het reeds gebond, en ek sien ou Pammy geniet die samesyn. Dus moet die outjie maar bly. Lyk na ‘n kruising tussen onder andere ‘n miniatuur Doberman en iets oos ‘n Jack Russel of Foksterriër, (of, wie weet, ‘n Great Dane?).  Die brakkie het ‘n moerse lang, swart stert, met ‘n wit kwassie op die punt. As hy sy stertjie swaai, wat hy nogal gereeld en energiek doen, skep die flitsende wit kwassie ‘n stroboskopiese effek wat mens nogal herinner aan ‘n helikopter se rotor. Dus word die nuweling Chopper gedoop. 

 

Nou ja, laat ek lyf carpenter hou. (Fok, my arme duime, en ek het juis tien van hulle!)

 

 

 

?????

Lewies en Hair, beautiful hair.

 

 Bzzzzzz, Bzzzzzz.

 

“Eina fok, Vroukie!”

“Wassit nou Lewies?”

 

“Jy trek my hare. Jy weet, Mollie…”

 

“Jinne Lewies, hier is niks hare om te trek nie. En kry nou end met Mollie, sy is immers ‘n professionele haarkapster. Ek doen dit net om te help dat jy nie soos ‘n willewragtig lyk nie.”

 

Bzzzzz. Bzzzzz.

 

“Eina fok Vroukie!”

 

“Ag nee Lewies. Wassit nou ?”

 

“Jissie, jy ruk en pluk my oor die kant toe en daai kant toe!”

 

“Moet ek nou die hare hier in en op jou ore los?”

 

“Nee, maar wees bietjie meer sagkens. Jy weet, Mollie…”

 

BZZZZZZ BZZZZZ! BZZZZZ!!

 

“Lewies?”

 

“Ja Vroukie?”

 

“Wat tjaarts Mollie jou?”

 

“Jissie Vroukie, deesdae seker maklik R75, 00”

 

“Dis baie geld né”

 

“Jissie Vroukie. Dis ‘n handvol”

 

“Nou wat gaan jy my betaal?”

 

“Nou hoe meen Mevrou nou? Meen Mevrou in chink of in kind”

 

“Mmmm. Wat bied jy aan”

 

“Jissie Vroukie, Mollie druk nooit my kop so teen haar boesem aan nie!”

 

“Special services, Lewies. Wat betaal jy?”

 

Ja’k. So gaan die Sondag toe verby.

 

 

 

 

 

 

 

Kamers van die Hart

“Oupaa?”

“Ja Poplap, wat is dit?”

“Is Oupa lief vir my?”

“Natuurlik Kara! Jy is my sonskynkind. Kom sit hier by my”

“En is Oupa ook lief vir Mia?”

“Ja, ek is lief vir haar, sy is my sterligkind”

“En is Oupa lief vir Mira?”

“Ek is lief vir Mira Luna, sy is my maanligkind”

“En is Oupa lief vir Liam?”

“Ek is lief vir Liam, ja. Hy is my huppelkind”

“Oupaa?”

“Ja Liefie. Wat is dit?”

“Is Oupa ewe lief vir ons almal?”

“Ja Kara. Ek is baie lief vir julle elkeen, ek is nie liewer vir die een as vir die ander nie”

“Oupaa?”

“Ja Liefie?”

“Hoe kan Oupa vir ons almal lief wees?”

“’n Mens se hart het vier kamers. In my hart is daar ‘n kamer vir elkeen van julle”

“Oupaa?”

Ja Poplap?”

“En sê nou Mamma kry nog ‘n baba, sal Oupa vir haar ook lief wees?”

“Ek is seker ek sal. Sy sal my reënkind wees.”

“En sê nou Christo en Hanlie kry nog ‘n baba, sal Oupa ook vir hom lief wees?”

“Ek is seker ek sal. Hy sal my windekind wees”

“Oupaa?”

 “Ja Poppie?”

“Maar dan is ons ses en Oupa se hart het net vier kamers”

“Uhuh. Ja’k. Uhuh”

“Hê Oupa?”

“Uhhmm. Kyk nê, hier is iets wat net Oupas kan doen. Oupas kan kamers aan hul harte aanbou vir nuwe babas in die familie.”

“Regtig Oupa?”

“Regtig, Karakie”

“Oupaa?”

“Ja Sonskynkind?”

“Ek is ook baie lief vir Oupa.”

Lewies, Pamela, Antie Bybie en Chuck Norris


 

Pamela die werfhond flikflooi gisteraand vir ‘n spelery en ek besluit om haar vir ‘n stappie deur die buurt te vat sodat sy die bome kan lees. Sy het as ‘n rondloper hond hier by ons aangekom, erg verwilderd, en ek kon haar nooit oorreed om aan ‘n leiband te loop nie.

 

Sy hardloop en hol en snuffel en snuif met oorgawe, maar toe ons amper tuis is besluit sy om haar merk duidelik op Buurman Nols se gras te maak. Net toe kom sy skoonma, Antie Bybie van Jaarsveld, by die voordeur uit met ‘n skinkbord vol krummels wat sy vir die voëltjies strooi. Toe sy vir Pamela sien swaai sy die skinkbord verwoed en gil “Voert, sie jy, voertsek! Vir wat kak jy op ons lawn!”

 

“Hallo Antie Bybie”, groet ek beleefd en lig my Blou bul hoedjie respekvol.

 

“Dag Lewies” Sy klink nie bly om my te sien nie.

 

“Kuier Antie-hulle bietjie by Nols en Klein Bybie?”

 

“Hoe lykit vir jou, Lewies. As ons hier is dan kuier ons mos. Maar laat ek …”

 

“Ek is seker Nols en Klein Bybie is bly…”

 

“ … jou nou mooi vertel, jou hond…”

 

“…om Antie te sien…”

 

“…kak hier op ons lawn en wie gaan dit optel?”

 

Ek sien deur die skreef in die gordyn vir Nols wat onseker na buite kyk. Dan trek hy die gordyne vinnig toe.

 

Antie Bybie kom staan hier voor my, teen my. Sy plant haar voete in die afgetrapte nagemaakte oranje Crocs wydsbeen. Sy het ‘n voorskoot aan met ‘n Vierkleur motief. Die woorde “Ek vati kaki” is daarop uitgeborduur. Haar degerige arms is ferm in haar sye gevuis. Die skinkbord hang aan haar regterhand.

 

“Maar Antie Bybie, dis mos maar net…”

 

“Maar net wat Lewies? ‘n Hoop honnedrolle in ons jaart!”

 

“Dis reg, Mammie, sê hom! Sê hom” Klein Bybie het ongemerk haar verskyning gemaak. Haar gesig is keurig ingekleur, gepaint by numbers. Haar rooi gekleurde hare lyk soos ‘n varsgespinde spookasem. Haar een hand is op haar heup en die ander hou ‘n siegret fyntjies vas, haar pols opwaarts gebuig.

 

“Ant Bybie, my hond is op Pedigree…”

 

“Ek gee nie om of jou hond perrigree is of nie, hy skyt op ons lawn! Lyk in elk geval vir my na ‘n basterbrak uit die skrêpjaart!”

 

“Nee, Ant Bybie!! Ek meen ek gee my hond Pedigree hondekos, daai wat hulle op TV wys. Dit verteer goed en dan is die hond se maagwerkings droog en reukloos. “

 

“Moel hom, Ouma” Klein Bybie se seuntjie algemeen bekend as Piston het nou ook hier aangesluit. Hy het ‘n swart T shirkie aan met die leuse: “Chuck Norris se moer. Ek is ‘n boer” Sy mullet kuifie staan penorent van opwinding. Agter hom sien ek die gordyne weer op ‘n skrefie oopgaan. Nols en Oom Berend van Jaarsveld loer versigtig daar deur.

 

“Wil jy my nou kom staan en vertel daar is perrigree honnekak en baster honnekak? Lyk ek vir jou of ek onder ‘n kalkoen uitgebroei is?” Antie Bybie se stem raak hoog en haar gesig word rooi.

 

“Dis reg, Mammie, sê hom, sê hom!!” Klein Bybie teug diep aan die siegret.

 

“Moel hom, Ouma!”

 

“Ant Bybie, ek wil net vir jou bewys dat my hond se stront bio-degradeerbaar is, more is daar niks!”

 

“Tel daai stront nou op, dan is daar sommer nou niks.”

 

Ek buk en tel een van die honde drolle op.

 

“Voel hier, Antie Bybie, voel net hier. Pas gepasseer en reeds kurkdroog.” Ek hou die stuk hondemis uit na haar toe. “Toe voel net!” moedig ek haar aan.

 

Antie Bybie retireer ‘n entjie.

 

“Maar is jy nou bedonnerd…”

 

“En g’n slegte reuk nie, Antie Bybie. Ruik net hier!”

 

Ek steek my hand uit en hou die hondedrol onder haar neus. Agter Ant Bybie word die gordyn vinnig toegepluk.

 

“Moel hom Ouma!”

 

 

 

 

Die dokter by ongevalle sê die steke kan oor twee weke uitkom. Sy sê dis die skerp rand van die skinbord wat die diep sny en kwaai bloeding veroorsaak het.