MAJESTUOSO TEMPESTUOSO, OF TE WEL DIE WIND KOM VAN BINNE

Toe Dawid haar fyn handjies in sy forse manshande neem, weet sy hier kom moeilikheid. Haar hart bokspring in haar keel soos paddas op pad na die fontein na die lentereën, haar hart klop soos ‘n hamermeul op die dorsvloer.

“Dawid…nee, ek kan nie nou nie” prewel sy onthuts, haar woorde leunagtig teenoor die emosie wat soos beskuitdeeg in haar binneste opwel, en sy besef: die ongemak wat sy nou ervaar is as gevolg van daai tweede porsie boontjiesop. Maar hoe kon sy dit van die hand wys, stomend, oorrompelend geurig op hierdie koue wintersdag.

“Speel vir my op die klavier. Laat jou lieflike vingers soos somer swaeltjies dartel oor die klawers, maak liefde met my in goddelike musiek, laat my vermurwe in die hemelse note.” Sy stem is skor, rasperig soos skuurpapier.

Sy trek haar hande teensinnig terug. “Dawid, ek moet eers…”

“Nee,” val hy haar bruusk in die rede. “Jy moet niks anders as om my hart weg te voer met die wonderlike vaardigheid van jou vingers, ek meen nou op die klavier” voeg hy haastig by.

“Dawid, maar ek..” haar stemmetjie is klein, klein en benoud soos die van ‘n jong onderwyseres op haar eerste werksdag, net voor langpouse. “Niks g’n gemaar nie, as musiek die voedsel van die liefde is, gee my nog, gee my tot ek oorversadig is”. Sy stem is dramaties, sonoor, lieflik en sterk op haar oor. Sy voel ‘n krieweling in haar. Sy GPS die posisie van die krieweling, senter in die afdalende kolon.

In haar nood besluit sy om ‘n kragtige stuk musiek aan te durf, Aus der sturm und drang der Alpinose hochland, gekomponeer deur die briljante Duitse musiek genie Adolf von Kartoffelen . Musiekaanbieders op RSG vertaal dit as” ‘n Uiters hewige storm in die landelike gebied van die Alpe.”

Toe sy die eerste klawers ligweg betas, voel sy hoe die drukking in haar kolon dramaties toeneem. Sy skuifel benoud rond op die klavierstoeltjie en jaag die tempo aan na molto andante. Maar hoe meer molto sy speel hoe meer andante word die nood. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, haar hande flits soos spieëlbeelde in die son, die klawers dawer freneties, spring soos ‘n quad bike teen die steilte van die magtige cresecendo, molto tempestuoso, tanto molto tempestuoso, tantissimo molto tempestuoso, die sweet slaan op haar aanvallige voorhoof uit, haar Salon Fraai Vroutjie perm hang verlep en slierterig oor haar gesig, haar hande dartel en buitel soos ‘n kudde springbokke in die lenteveld. Sy knyp en skuifel, knyp en skuifel, en dan, na wat na ‘n ewigheid voel, sien sy die oomblik van verligting voor haar soos Moses van ouds die beloofde land klaar en helder aanskou het vanaf die piek van berg Sion, die zenith van die crescendo, die absolute magiese klimaktiese stonde van die virtuose musiekstuk: majestuoso tempestuoso, wat die klank van die uitlating van die kolongasse sal kamoefleer, haar oomblik van redding! Steeds baie fyntjies en vroulik verslap sy die sluitspiere, reguleer die ontlading behendig. ‘n Glimlag ontplooi op haar gelaat, en die musiek tempo neem gaandeweg af, dralend soos stappers teen die helling van die heide.

“Brava! Bravissima”! Dawid se stem is jubilant. “Wonderlik! Wonderskoon! Wunderbar!!

“Dawid, ek moet eers…”

“Nee, nee! Speel dit weer. Wat is die naam van die selestiale musiek ?”

“ Dit het ‘n lang Duitse naam, maar in Afrikaans staan dit bekend as “Die Storm”, maar nou moet ek eers…”

“Speel, speel, gee my mildelike oorvloed! Maar los net daai gedeelte waar die weerlig die lewwetrie raakslaan!”

Le jou eier: Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien….

“Waddehel is hier aan die gang? Waarheen dink jy gaan jy? Is jy nou van jou kop af?” bulder hy.

Sy gesig is rooi en Saar kan die drankwalm van ver af ruik. Moos se woorde van vertroosting raak weg in ‘n woedebui wat in haar opstoot.

“Ek gaan weg! Ek is gatvol vir jou en jou ongeergdheid. Die plaas vergaan van die droogte maar jy gaan sit en suip en ek moet alleen aankarring met alles wat breek! Ek moes jou al lankal verlaat het maar ek het gehoop jy kom tot jou sinne! En om te dink ons wou saam ‘n kind he!”

“Jy kan vergeet van die kind. Die laboratoriumtoetse het gekom. Dis negatief. Daar is nie ‘n kind nie. Jy is net so bar soos hierdie verdomde plaas! Vat jou goed en fokkof as jy dan wil. Dit skeel my niks!”

Moos luister die woordewisseling met ontnugtering aan. Het Braam dan weer begin drink?

“Kom Saar” se hy. “Kom eers saam na my huis toe. Jy kan later met hom praat as hy nugter is”

Braam kyk die donkiekar met Saar daarop agterna.

“Ja fokkof! Weg is julle! Ek wil julle nooit weer sien  nie!”

Hy klim in die lorrie en glimlag. Sy geluk! Hy wou al lankal van Saar ontslae geraak het maar met die hoop dat sy swanger is het hy besluit om hul huwelik nog ‘n kans te gee. En die lotto! Ja die lotto! Tien miljoen Rand en hy is die alleen wenner! Die geld is vandag reeds in sy bankrekening inbetaal. More reel hy met die prokureur om sy testament te verander. Saar erf niks, g’n sent van hom af nie! Hy haal die bottel onder die sitplek uit en sluk lank en gulsig. Dan karring hy die lorrie se aansitter tot hy eindelik vat. “Net more koop ek ‘n nuwe bakkie” dink hy. Hy trek weg dat die klippers spat, meegevoer deur die euforie van drank en sy goeie geluk.

Saar kyk om toe sy die lorrie hoor dreun. Braam moet versigtig wees, dink sy, daar voor in die pad is ‘n groot slaggat. Dan sien sy hoe die lorrie die slaggat tref en met ‘n wilde boksprong die pad verlaat. Die lorrie rol ‘n paar keer om en om voor dit tot stilstand kom. Moos pluk die donkiekar om en por die donkies aan om vinnig na die ongelukstoneel te draf.

Saar buk oor Braam se lewelose liggaam waar dit langs die lorrie le. Sy is verbaas dat sy geen emosie voel nie, geen skok of verwilderde hartseer nie.

“Ja Braam”se sy. “Nou is jy van my ontslae en ek sit met die bankrot plaas. Ek wonder of daar genoeg in jou testament is om my hiervan te verlos sodat ek ‘n nuwe begin elders kan maak”