Klapsoen of windsoen

My ma se familie was soeners, en as klein seuntjie moes ek anties en niggies en kleinniggies voor die voet soengroet, en bewaar jou siel as jy die soen afvee! Pure ongemanierdheid en glad nie geduld nie. Daar was ‘n hele klomp anties in die familie,  vernoem na die stam antie, Johanna. Om onderskeid te tref is die anties dan verder vernoem na die plaas waar hulle gewoon het, sodat die plaasnaam a’t ware hulle van geword het. By menige  familiebyeenkoms het my ma my dikwels opgekommandeer: “Lewiesie, kom groet vir Antie Johanna Langsloot”, of  Antie Johanna Diepsloot, of Antie Johanna Droësloot. So het ek later geleer om al wat rok dra by verjaarsdae, troues of begrafnisse te soengroet. En dat dit die regte en gewaardeerde manier van groet was hoor ek eendag toevallig toe  Antie Johanna Erfdeel vir Antie Johanna Smaldeel sê sonder dat hulle nou weet dat ek binne hoorafstand is “Die Lewiesie is darem ‘n deetlike kind. Hy’t sulke mooi maniere”, waarop Antie Johanna Smaldeel antwoord”Die arme kind is ok nou nie juis’n oilpainting nie. Kry dit seker van sy pa se kant af.”

Later in my volwasse jare kom ek toe agter dat daar ook ‘n ander manier van groet is, naamlik die kontinentale kus, ofte wel die wangsoen of lugsoen. Mens kan dit seker  ook die droë soen noem. Dis nou daai een waar jy die vrou wat gegroet moet word so tuitbek benader en dan op die nippertjie net voor jy kontak maak, draai sy haar wang sodat jy soos ‘n guppie lug hap. Dis egter ‘n groot verleentheid , vir die manlike soener, as die wegdraai ‘n breukdeel van ‘n sekonde te laat plaasvind en jy skielik met ‘n vroulike oorlelletjie in jou mond sit. En Cosmopolitan en Esquire en al daai is verkeerd–die vroulike oorlel is nie ‘n erogene area nie. Inteendeel, die oorlelletjie is niks anders as ‘n stukkie kraakbeen omhul met ‘n harige stukkie vel nie–dit proe nes droë sjemmie.  En nou moet jy sonder om aanstoot te gee van daai oorlelletjie in jou mond ontslae raak. Jy kan byvoorbeeld jou lippe saampers en die lelletjie delikaat en saggies uitspu soos ‘n olyfpit by ‘n deftige onthaal, of jy kan bloot oopbek staan totdat sy wegdraai met oorlelletjie en al.

Nee kyk, ek het nooit kon dink dit sou so moeilik wees om te soengroet nie. Dit was so eenvoudig toe ek nog Lewiesie was.

 

 

 

 

 

 

Hippokrates is jy nog hier?

Dis wat ek wonder as ek terugdink aan ons dogter wat nou die dag ‘n knoppie op haar bo-lip ontdek. Eerste gedagte is dat dit ‘n koorsblaar is. Maar die apteker se salf help nie en die groeiseltjie word groter en lastiger. Dus dokter toe. Nee, erken hy, hy kan nie die groeisel diagnoseer nie maar “dit lyk nie goed nie, dit sal chirurgies verwyder moet word, diep.”  Hy verwys haar na ‘n  plastiese chirurg om die groeiseltjie met wortel en tak te verwyder. Dan sal dit getoets word om die aard daarvan vas te stel. Die plastiese chirurg is dit eens met die GP, die saak lyk nie goed nie. Dringende en aggresiewe optrede is noodsaaklik.  Twee operasies word in die vooruitsig gestel, eerstens word die groeisel verwyder, en dan word die wondletsel herstel met ‘n veloorplanting. Intussen is ek en Vroukie nogal ontsteld. Ons praat nie met mekaar daaroor nie, maar kort-kort laat val een van ons ‘n opmerking wat ons bekommernis verraai.  Sy, ons dogter, besluit om voor die operasie eers by ‘n dermatoloog uit te kom.   Met mooipraat kry sy ‘n indruk-afspraak.  Sommer so oor sy lessenaar diagnoseer hy ‘n vrat en bevestig sy diagnose met ‘n deeglike ondersoek. Die vrat word oppervlakkig verwyder vir laboratorium toetse en verder gevriesbrand. Sy moet oor twee weke gaan vir ‘n opvolg ondersoek en moontlike verdere vriesbrand.

Nou wonder ek, moes die GP haar nie in die eerste plek na ‘n dermatoloog verwys het nie, in plaas van ‘n plastiese chirurg? Is laasgenoemde bevoeg om in hierdie geval ‘n diagnose te maak? Bestaan daar dalk iets soos mediese netwerkbemarking waar ‘n pasient van een dokter na ‘n ander verwys word en een prosedure na die ander gevolg word bloot om finansiele redes, maw om die mediese fonds vir eie gewin te melk? Ek het altyd sulke siniese sienings verwerp, maar na hierdie insident en ander soortgelyke voorvalle waarvan ek bewus is en waar mense wat terminaal siek is nog steeds aan lewensgevaarlike operasies onderwerp word  weet ek nie.

Hippokrates of hipokrisie?