‘n Verrassingsbesoek

Ja, ok, ek het gesê ek is voorlopig klaar met die dinge van ‘n kind, maar toe kom kuier hierdie klein pirnjoffelkie onverwags by ons. Dit is die kleine Mila, die dogtertjie van Vroukie se suster se seun. Sy was sommer gou tuis hier by haar surrogaat oupa en ouma, die koue ten spyt. 

Jinne, hoekom moet die kinders sulke uitheemse name hê? In ons famile is daar nou Mira, Mia en Mila, en dis nou werklik tongknopers vir die uwe as ‘n glasie wyn die tong so bietjie los maak. Dan word Mia Mira en Mira Mia, en nou is hier nog ‘n Mila ok. Waar’s die dae toe die kinders mooi Boerename soos Lewies en Johanna en Susara gedoop is. En as dit nie so gebeur het nie, is die ouers summier onterf. Mmm, ja, ‘n ydele dreigement hier in die Lewieshuishouding, hier is fokol om te erf, net skuld. 

Die kinders het sulke mooi maniere…

Dis nou Mira en Liam. Tannie Emsie Schoemann (sy sê mos “Tannie” is ok) (Die tannie is ok maar die oom is ‘n bliksem), Tannie Emsie sou trots wees op hierdie kinders met hul mooi maniere 

Liam: “Oupa! Oupa!”

“Ja Beesblaas, wat is dit?”

“Oupa, ek het gepoep!”

“Agge nee magtag Liam!”

“Scuse me!”

Mira: “Oupa! Oupa!”

“Ja Poppie, wat is dit?”

“Oupa, ek het geburp!”

“Agge nee magtag, Mira!”

“Pardon.”

En nou is ek voorlopig klaar met die dinge van ‘n kind.