Seënwense

More gaan ons Stanford toe om die Krismisboom-ding te doen. Mia glo nog verbete aan die liewe Kersvader wat geskenke bring vir al wat kind is, ons dink sy twyfel oor die saak maar wil  vir oulaas die opwinding van die fantasie beleef . Haar ousus Kara kyk haar meewarig aan maar bars nie die borrel nie.  Dan bring ons Kersdag  daar deur en kom weer Vrydag terug. Die Kapenaars is Klerksdorp toe na die annerpa en annerma daar-hulle bly op ‘n plaas en ek glo daar word lekker gespeel met die nefies en niggies.

‘n Geseënde Kersfees aan almal wat hier lees, mag jul dag vol vreugde en samesyn met geliefdes wees.

Krismiskos

Na my  lamentasie oor die hoë vleispryse en hoe dit ons Krismisete bedroewend gaan beïnvloed. verheug dit my om julle mee te deel dat ek ‘n slaghuis hier in Hermanus ontdek het wat vleis teen billike pryse verkoop, Xolile’s Chisa Nama Butchery.  Ek koop toe die snit hieronder teen ‘n sakpasprys, pure Christmas Special!

 

DSCF0413

Vroukie gaan nou ‘n sappige rugstringpastei voorberei, klaar ‘n resep uit Dine van Zyl se “Boerekos” nageslaan en die kruie en speserye en goetertjies aangeskaf.  Sal goed afgaan met ‘n cabernet.

Bon appeltiet!

 

Weer aanlyn

My swye die afgelope tyd is te danke aan die feit dat ek en Vroukie ‘n week lank in Ballito gaan kuier het. Dit was aanvanklik bedoel as ‘n kuier saam met Swaerkie en Skoonsus, sou ‘n verrassing vir Skoonsus gewees het, ons sou mekaar “toevallig “ êrens by ‘n restaurant raakgeloop het. Maar toe word Swaerkie gediagnoseer met kolonkanker en hy word inderhaas geopereer. Die vakansieverblyf en vlugkaartjies was reeds betaal en ek en Vroukie besluit toe om maar alleen te gaan. So op die nippertjie dink ons daaraan om vriende uit Klerksdorp te nooi om saam te gaan, en sowaar, daar werk dit uit. Teen daardie tyd is Swaerkie reeds geopereer en sy prognose lyk goed, dus kon ons lekker kuier sonder erge bekommernis oor hom.

In ons afwesigheid het ons aan die huis laat werk, die laaste finale afronding van restoureerwerk wat begin het toe ons die huis in 2012 gekoop het. Op daardie stadium het ons nie daaraan gedink om die plafon in die sitkamer te vervang nie, en aangesien dit so ‘n morsige werk is was ons ook nie lus om te doen nadat ons ingetrek het nie. Dit het dus sin gemaak om die werk te laat doen terwyl ons weg was. Alles het goed uitgewerk, die nuwe plafon is geskiem soos hulle sê en gesonke liggies is ingesit. Baie liggies, seker heeltemal te veel. Ons het ons laat lei deur Mnr Google wat die wyse raad kwytgeraak het: eerder te veel as te min. Nou lyk dit soos ‘n planetarium as die liggies aageskakel is, kompleet met die Groot Beer en die Klein Hond de lot. As Eskom hiervan te hore kom het hulle nog ‘n verskoning vir die duisternis wat  onverwags oor ons toesak. Gelukkig het ons ‘n dompskakelaar, verdompskakelaar? ag, verdomp, ‘n dimmer switch man, ingesit om die fel lig te tem. Daarmee saam het ons ook die vloer laat skuur en vernis , nog ‘n ontwrigtende aktiwiteit, wat ook meegebring het dat daar nie veel moontlikheid was om voor die rekenaar te sit nie. Die bouer het bietjie meer afgebyt as wat hy kon kou en die joppie het lank gedraal—eers gister op die heilige Sabbat is die finale werk gedoen. En nou is ek uiteindelik weer op die lug.