Vir die wat het…

Gistermiddag na werk doen ek en Vroukie ‘n paar aankope vir die naweek. Ons maak ook ‘n draai by ons vriendelike slagter  (lees hier oor hoe vriendelik hy presies is http://blogs.litnet.co.za/pasella/is-oom-n-pensioenaris-oom).

So midde die groetery vertel hy van ‘n nuwe spekwors wat hy maak en gee my twee stukkies om te probeer. Toe ons by die huis kom, wag een van die engele op ons voorstoep. Hy is redelik ontredderd–het die heel dag loop en skropwerk soek, niks gekry nie, en as hy nou na sy huis toe gaan is dit net om die huisbaas by wie hy die shack huur, te vertel dat hy nie die R150, 00 huurgeld vir die maand te kan betaal nie. Die huisbaas het reeds gedreig dat hy hom met sy vrou en twee klein kindertjies uitgooi as hy nie gister betaal nie, winter of te nie. Seun, dit is nou die engel, het ervaring hiervan. Sy bestaan is gepokmerk deur uitsettings aan die einde van die maand, dan moet hy iemand soek wat bereid is om hom en sy gesin vir die nag te huisves. Ek help sover ek kan en hy is hier weg met ‘n dankbaarheid wat my laat verleë voel het.

Later steek ek ‘n vuurtjie aan. Ek skink vir my en Vroukie ‘n glasie cabernet. Die wyn flonker robynrooi in die krsitalglas.

Goeie boeket, maar met ‘n vreemde, bitter smaak.

Op die TV pronk Zuma.

‘n Bron van Vreugde te midde van Ou Testamentiese Pestilensies

So sit ek my en versukkel in my sino-brongiale depressie dat ek ampertjies vergeet om te vertel van die Groot Kuier.  Bloggers sal weet dat niks, maar niks op deeske aarde, ‘n oupa-blogger so opbeur as die kuier saam met sy kleinkinders nie, mmm, ja wel, saam met vrug van sy lendene ook. So midde in my Siekte kom kuier die Kaapse kinders en kleinkinders Mira en Liam. Wanneer het hulle so groot geword? Ek het hulle dan skaars ses maande gelede gesien! Die kuier is ook benut om klein Liam ten doop te bring, in sonde ontvang en gebore. Ai tog. Die dopery was ander oupa en ouma gedrewe, met ‘n lekker kuier en ete daarna. Nou is die outjie nie net amptelik Liam Enso Ferreira Botha nie, maar ook in die anale van Goudkop NG Klerksdorp staan dit so aangeteken. Vir die onligeligte leser, Enso is nie ‘n afkorting van Ensovoorts nie, dit is ook nie ‘n misspelling van Enzo Ferrari nie, dis, soos ek ingelig is, ‘n Zen begrip wat “volkomenheid” simboliseer. Zen in Goudkop NG? Goed dominies het dit nie geweet nie! Nou is dit Ouma se surpraaiskas wat woes uitgepak word, Chopper en Pamela wat moet hol voor die aanslag, lekker baklei oor speelgoed. Jis, en Mira kan ‘n steelhou in die ribbes pomp! En daarna, soete slaap, pure onskuld. In sonde ontvang en gebore? Kak man.

Beterskap in die vooruitsig

Na my vorige lament oor my siekte-toestand kan ek darem nou met dankbaarheid berig dat daar beduidende beterskap ingetree het, na nog ‘n besoek aan die dokter en sy besluit om die anti-biotiese aanslag te verdubbel. Dis nou 1 gram twee keer per dag. Ek is nou nie juis in my noppies hiermee nie, die anti-biotika het ook maar ‘n nadelige uitwerking op die lang duur. Ek is nogal kwesbaar vir candida infeksies, maar dis op hierdie oomblik ‘n worry vir later. Eerste dinge eerste. Die tydjie by die huis het my kans gegee om leeswerk in te haal, en twee boeke wat ek werklik geniet is Die Begunstigde van DJ Winterbach en Deon Meyer se Spoor. Nou krap ek hier in die boekrak rond maar vind nie eintlik iets wat die belangstelling roer nie. Wag bietjie, hier is een, ‘n dikkerige knewel:  Die sosio-ekonomiese toestand van die ongehude Bantoe moeder in die Transkei. Uhm, ja, so siek is ek nou ook nie! Sal maar liewer lees watse nonsies my blogmaters kwytraak!

Streptokokkie en ander kokkie-kornuite

Ek is siek. So siek soos ‘n hond. En nie ‘n pedigree hond nie, nee. ‘n Junkjaarthond op sy laaste, keffende voor die Poorte. Hy kan nie eens sy been lig teen daai eerwaarde pilare nie.

My kop voel of ek hom afgeskroef het en of die lokasie-klonkies bol speel daarmee. My oë dobber in my oogkaste rond soos ping pong balle in ‘n toiletbak. My keel is ‘n krematorium  waarin Streptokokkie en sy kokkie-kornuite ‘n helse vuur stook. As ek sluk voel dit soos vars geslagte varkharslag wat in ‘n vleismeule gemaal word. As ek hoes klap my longe soos ‘n vis op droeë grond. Die Aambeeldkoor  dreun in my buis van Eustachius. Def Leppard speel trom op my hamer en aambeeld. My vel is seer en gevoelig soos ‘n skilpad sonder dop.  Geel. taai Pliobond drup in my keel af. My oë voel soos brood in ‘n toaster. Die dokter het my een kyk gegee en sy kop simpatiek geskud. Die apteker het gesmaail toe hy die voorskrif bekyk.

En boonop voel ek nie lekker nie.

En nou roep ek Dr Sjerrie se hulp in.

‘n Slaaptydstorie vir grootmense

Sommer ‘n skunnige storie:

Jonas moet ‘n sloot grawe maar hy staan so diep ingedagte en tuur die verte in. Die boer vra vir hom: “Jonas, en as jy nou so staan en die verte inkyk?”

“Ek denk, Oubaas”

“Nou wat dink jy?’

“Ek denk by die hoenner”

“Die hoender?”

“Ewêê Oubaas. Ek denk by die hoenner”

“Nou hoe so. Jonas? Hoe dink jy so aan die hoender?’

“Ek denk die hoenner hy eet die pit, hy drenk die water, hy kak maar hy pês nie”

Fluit-fluit!

Finis

Gister was dit die gedenkdiens van Pa Felix, daar in die droewige Kroonstad. Ons was maar ‘n handjievol mense, skaars twee kerkbanke vol. Toe AVBOB se wit lykswa stadig in die straat afry was dit verby, die einde van ‘n leeftyd. Finis. Hoewel ons vrede en rustigheid het met sy afsterwe, was daar tog hartseer, maar geen angels nie. 

Dankie aan al die bloggers wat kommentaar gelewer het op my vorige pos, dankie vir jul medelye en woorde van bemoediging. Ek en Vroukie waardeer dit baie. Medelye beteken inderdaad om saam te voel, en dit maak die las ligter. Vreemd hoe daar so ‘n omgee en ondersteuning kan ontwikkel tussen mense wat mekaar net ken op grond van gesiglose verskynings hier op die blogs. 

Dit is ook eie aan die mens om comic relief te soek in beproewing–so vertel Skoonpa se eertydse buurman van die raad wat Oom Felix hom gegee het om van miere ontslae te raak–jy sit net ‘n vetterige been hier by die agterdeur. Gou-gou sak die miere dan daarop toe. Elke dan en wan skop jy die been so ‘n entjie straat toe, en sommer gou is die miere uit jou jaart en pla hulle nie meer nie!