Die spinnekop kom weer.

 

 

Vrydagmiddag. Dankie tog. Nog ‘n week nader aan aftrede. (Starag Lewies! Watter mylpaal kom na aftrede? Huis Awendgloor?)

 

Die beplanning vir volgende week lyk ok, al begin die week met ‘n Management Meeting om 8:00. Wat kriewel nou weer in Mme Montsenyuane se pentie? Dertien items op die agenda? En net een daarvan op my spesifiek van toepassing? As ek laaglê en niemand hinder nie gaan ek dalk ongemerk deur die ander twaalf. Lae profiel Lewies! Moet nie eens hoes nie!

 

Skielik. “ Ntate!!”

 

“Ja Daniël! O a batla?”

 

“ Dis Fiefie. ‘n Spinnekop het haar gebyt ! Sy lê daar in die staff room”

 

Daniël is die Occupational Health and Safety Representative.

 

Vrydagmiddag. Die First Aider is naweek af. Hierdie krisis is myne. Ok. Wees kalm. Daar is net vier soorte giftige spinnekoppe in Suid–Afrika. (Ek sal weet!) Vind dus die simptome uit en bepaal dan verdere optrede.

 

Fiefie, of te wel Refilwe, sit blekerig in die personeelkamer.

 

“Waar het die spinnekop jou gebyt, Fiefie?”

 

“Daar onder by Inhandiging, Ntate.” Fiefie praat flink Afrikaans. Sy was immers in Schoonspruit Hoërskool.

 

“Nee, Fiefie, ek meen waar op jou lyf. Waar is die bytplek”.

 

Sy trek haar bloes laer af, so ‘n show me your boobs bloes.

 

“Hierso Ntate”

 

Daniël buk belangstellend nader en vat met sy wysvinger aan die vermeende bytplek. Fiefie reageer heftig in Tswana en gee hom ‘n taai klap teen sy kop.

 

“Daniël”, sê ek, “ ek dink nie daai is ‘n spinnekopbyt nie.”

 

“Hoe het die spinnekop gelyk Fiefie?”

 

“Ek het hom nie gesien nie Ntate.”

 

“Nou hoe weet jy ‘n spinnekop het jou gebyt? Het jy gevoel toe iets jou byt?”

 

“Ek het niks gevoel nie, Ntate”

 

“Nou hoekom dink jy ‘n spinnekop het jou gebyt?”

 

“Ek het iets gevoel, Ntate.”

 

“Is dit seer?”

 

“Nee, Ntate”

 

“Voel jy duiselig ? “

 

“Nee Ntate”

 

“Haal jy swaar asem?”

 

“Nee Ntate”

 

“Dalk was dit net ‘n muggie of ‘n klein gogga wat jy op jou lyf gevoel het Fiefie. Maar moet dit ignoreer nie. Sit nog so ‘n rukkie hier en dan kom sê jy vir my hoe jy voel”

 

“Dankie Ntate. Ek voel al klaar beter.”

 

“Mooi so Fiefie. Ek dink jy is ok, maar drink eers ‘n bietjie water voordat jy teruggaan Inhandiging toe”

 

“Dankie Ntate”

 

“Ntate” Dis Daniël.

 

“Ja Daniël? Wat is dit?”

 

“Ntate moet die Pest Control kry”

 

“Hoekom Daniël?”

 

“Dinge raak nou gevaarlik hier. Die spinnekoppe byt die mense”

 

“Ok Daniël. Ek sal reël”

 

“Dankie Ntate”

 

Kom dag van aftrede. Kom spoedig.

 

 

 

 

DINSDAGAAND EN DIE DOOS IS DROOG

 Kurkdroog geskop. Gisteraand was alles jollie patrollie, nog gewigtig in die hand, maar nou is daar niks. Op, heeltemal ge-op. Ek het hom so gekantel, saggies maar met gevoel, maar aikona, nie eens ‘n druppel nie. Toe probeer ek hom opblaas, soos ‘n balloen, maar geen resultaat nie, net my snor wat geniepsig vasgeknyp word. Toe haal ek die blink blaas uit, skud hom, eers liggies, dan al hoe wilder, maar verniet. Die doos is droog, leeg, dolleeg. Ai, ‘n doos rooiwyn is ook nie meer wat hy was nie. 

 

Chopper

So lyk Chopper, die vondelingbrakkie wat so ‘n maand of wat gelede hier by ons ‘n hawe kom soek en gevind het. Hy had ‘n ontsteking in sy een oog en was maer en vuil. Na ‘n goeie skrop, Terra Cottril salf vir die oog  en voeding voorgeskryf deur ons on call veearts, is hy nou windgat kaatjie van die baan. Pamela, ons ander vondelinghond, ontgeld sy spelerige geniepsigheid behoorlik. Dis daai wit kwassie op sy stert wat hom sy naam gegee het. As hy stertswaai, flits die kwassie en die effek herinner mens nogal aan ‘n helikopter se flitsende rotorblaaie. Ons het nooit gedink ons sal eendag so ‘n kriekerige vlermuishond hê nie, maar nou is Chopper al so deel van ons huishouding dat ek rerig nie hoop sy oorspronklike baas kom vorendag nie.

 

Ons on call veearts is die staatsveearts wat so ‘n entjie laer af in die straat bly. Hy bedryf ook ‘n privaatpraktyk en is sover ek weet, die enigste veearts wat house calls maak, teen R70, 00!

Roosmaryn se challenge

 

 

Ek speel graag saam met die Roosmaryn – oproep, die inleidende paragraaf van ‘n gunstelingboek. Hierdie boek het my op die punt van my stoel gehad, net jammer daar was net een bladsy. Die ander bandiete het die res van die boek gerook, onopgevoede wetters. Die dat ek vandag nog ‘n renons in rook het.

 

So het die boek begin:

 

Die ruiter teuel sy ryperd met ‘n ferm hand in. Die raafswart ros rank rysig, Rosinante van ouds, op sy agterpote. Klein klippertjies knetter onder sy hoewe. In die verte blits bliksemskigte bulderende blou-wit flitse. Samuel Slier sit fier op sy perd, kyk skreef-oog na die son wat felle strale stuur. ‘n Spiertjie in sy wang bokspring bronstig, maar Samuel se gedagtes is elders. Hy het so pas ‘n ontstellende boodskap ontvang, Charles MaCrae het nie sy les geleer nie, die lae uitvaagsel beplan opnuut onderduimshede om die Barbertonse goudgrawers koelbloediglik uit die arbeid van hul sweet en swaarkry te ontfutsel. Samuel se bloed nader kookpunt. Hy sal nie toelaat dat die renstou en sy onheilige gebroedsel in hul duiwelse planne slaag nie!

 

Hy kyk met erbarming na die vrou wat handewringend voor hom staan. Hy weet, die afskeid is swaar vir haar, maar hy het ‘n roeping, ‘n lotsbeskikking om bewaker van die swakkes en die onskuldiges te wees. Hy moet veg teen onheil en onderdrukking en uitbuiting!

 

Lana se hart krimp ineen soos ‘n meelsakpantie wat in boerseep gewas is. “Samuel” prewel sy saggies, “wat is dit?”

 

“Ek moet ry, Lana, daar is kak in die Laeveld en ek…

 

En op hierdie noot eindig die oorblywende bladsy.

 

Home alone again

Ek het die afgelope tyd met lui tred hier op die blogs gedwaal, koeitjies en kalfies en ditjies en datjies het my verlei. Boonop is ek weer home alone, met Vroukie wat die keer Johannesburg toe is vir die werk. Sy kom more terug, maar vat sowaar alweer Donderdag die pad Pretoria toe. Sy is saam met kollegas Jhb toe, wou nie op haar eie ry nie, die dat sy nou nie daarvandaan Pretoria toe gaan nie. So is sy darem ook Woensdagaand in onse katelkooi. Ai, ek mis haar. Die stilte is oorverdowend, die allenigheid erg. Selfs nie die twee vondelingbrakke Pamela en Chopper se geselskap troos nie. Die bottel Backsberg smaak kak. Die Witperd smaak kak.Die TV programme is kak. Santa Gamka wat ek nou aan die lees is, is kak. Al wat my opbeur is dat ons die naweek van 22 Oktober ‘n pasella kuier met die kiddies kry, iemand in die aangenaaide familie trou en ons is ook genooi, in die Drakensberge nogal. Onse swaer en skoonsuster, albei al bejaard en onkapabel om so ver alleen te bestuur, gaan saam met ons, hulle is die bruid se oupa en ouma. Nou wat kan lekkerder wees as om met die twee beach babes Kara en Mia daar in die berge te kuier. Holadrie hoe hoe!Holadrie ha ha!

 

Ek sien die Krismis goetertjies blink in Checkers. Een van die dae is dit weer Boney M en oorle Bing Crosby en Little Drummer Boy. Fok. 

 

Aardklop

Gister na ‘n besoek aan Aardklop maak ons ‘n draai by Ziggy se CD shop in Potch. Toe leer ek iets–as ek weer ‘n CD koop, koop ek Jurie Els, The Best Of. Dan weet ek ek koop kak. Ek vind dit nie eers uit op pad huis toe nie. 

Krakeel? Juistemint, krakeel.

My vorige blog Kaapse Kornuit Krakeel het kommentaar van bloggers uitgelok oor die betekenis van “krakeel” wat my die geleentheid gee om te beduie hoekom ek nou juis die woord wou gebruik. Wel, ten eerste oor die Rice Krispie krakerige alliterasie. Dit voel vir my of ek daai woorde fyntjies stukkend byt tussen die onderste en boonste voortande. Lekker! Louter taalplesier!


Maar wat beteken dit. Ek het nie geweet dis ‘n plek nie totdat Faansie hom mooi geposisioneer het. Dadelik is ek nuuskierig, eendag, nie ‘n verre eendag van versugting nie, wil ek keel natmaak in Krakeel met ‘n koue Kasteel. (Praat van alliterasie!) Maar dis ook ‘n werkwoord wat beteken om luidrugtig te raas, met ‘n ietwat ongunstige betekenis van rusie maak, met ander woorde so ‘n naweek sjebien lawaai. Ek het al êrens gelees dat ‘n skrywer verwys na ‘n swerm spreeus wat luiddrugtig krakeel in ‘n vrugteboord. Ongelukkig gee HAT nie die verwysing nie, die woordeboekmakers het seker tee geniet toe die spreeus krakeel. Toe dink ek aan ‘n klompie uitgelate kinders wat jil en lawaai, en ek brei “krakeel” soos ‘n stukkie woordeklei om te pas in wat ek wil sê. Te veel digterlike vryheid? Sê wie? Die woord dra mos die betekenis van “lawaai”, ek het net die ongunstige kwas afgevyl. Siedaar, “krakeel” ! Pure pikante peper!