‘n Insident in die Hemel en Aarde Vallei

Die pad het oop gelê, omsoom deur welige wintergroei, kronkelend deur die vallei. Voor,aan die regterkant, het ‘n klompie mense gestaan, ‘n kind tussen hulle wat begin waai. Die volgende oomblik ‘n hond wat aan die linkerkant van die pad uit die ruie plantegroei voor die kar inhardloop. Ek kan nie rem of uitswaai nie, ‘n Harde slag en in die truspieeltjie die hond wat van die skouer van die pad aftuimel. Eers sowat ‘n kilometrer verder kan ek met veiligheid omdraai. Die hond lê in die gras, sy baas streel oor haar lyf. “Ek het haar grootgemaak vandat sy ‘n puppy was, Meneer” Ek voel geen moerigheid om teen die man uit te vaar omdat hy toelaat dat ‘n hond los loop op ‘n besige pad nie. ‘n Klein seuntjie huil hartseer, snotterige traantjies die skok sigbaar op sy gesig. Vroukie vee af met tissues en vryf die kartelhaartjies. “Is die hond dood?” “Lyk so Meneer,” Daar is geen bloed of derms of getjank nie. Die hond le doodstil, langs haar kop ‘n diep sny. “Ons sal haar kom haal as ons terugkom, Meneer, en haar by die huis gaan begrawe” “Kan ek julle ‘n lift gee?” Nee, hulle beduie na ‘n werkerhuise daar naby. “Ons is op pad soontoe.” Ek krap in my beursie en gee die man R100, 00.”Ek weet dis min troos, maar koop iets lekkers vir die laaitie, dalk laat dit hom beter voel” “Dankie Meneer, Meneer moenie sleg voel nie, dit was ‘n ongeluk”.

Een banana koek, twee banana koek, drie!

Gister kry ek snuf in die neus, wil vaagweg bekend aandoen.

“Lewies!”

“Wassit Vroukie?”

“Het jy lus vir ‘n snytjie piesangbrood?”

So, dit was die snuf!

“Gedog ek ruik iets brand”

“Is darem nie so erg nie. Ek het die brood net te gou uit die pannetjie gehaal toe breek ‘n stukkie af”

“Maak nie saak nie. As mens nie koek gewoond is nie smaak enigie flop lekker”.

Woep!

“Eina fok Vroukie man!! Daai bleddie houtlepel slat bleddie seer!”

Woep! Woep!

 

Vadersdag 2014


Hierie Vadersdag was ‘n lekker Vadersdag vir die uwe. Al die kinders en kleinkinders was hier te lande, 10 siele saamgebondel in onse huisie. Vroukie wat die onthoukook ding doen dat die gravy spat, kleinkinders wat pinkies draai vir roomys en sjokolade en ander lekker verrassings daar in die sweetie jar. Geskenke ook gekry, wat ek aanvanklik, tot die kleintjies se gejil, geidentifiseer het as ‘n rok blyk toe ‘n voorkoot te wees. Mmm, ek wonder wat Vroukie se aandeel hierin was. En die? Dis dan ‘n kopdoek!! “Nee Oupa, dis ‘n buff soos wat hulle op Survivor gedra het!!”
Nou ja, ek lyk nou nie soos Corne Krige as ek dit opsit nie, eerder soos ‘n sushi chef by ‘n straatkeffie.

Die duur swanesang van Samsung

In my vorige inskrywing vertel ek so ongeërg van die poeperige donderweer hier in die Kaap van Storms. Ek is mos ‘n hoëveldse klong, daar waar die donderweer slat laat die vlaktes antwoord gee en die kruitreuk in die lug hang. Daar hoor jy eers die slag en dan kom die blits. Daar praat hulle van ‘n bliksemdigtheid so dig soos die langbeensteke in Die Voorligter se hekelpatroon van die Biddende Hande. Ek ken van donderweer, en ek skrik nie vir  hierdie Kaapse brabbeldonder nie. Na die storm daal  die stilte neer, ‘n stilte wat die Samsung TV stel ook eerbiedig. Blinde sambok, die TV is poer in sy moer. PC bord uitgeslaat, Oom Lewies, meen Vidivox se reddingspan.”En ‘n PC bord vir hierdie  model is baie skaars, Oom Lewies , en baie duur, dis beter om ‘n nuwe TV te koop. Ons gee ‘n brief en dan betaal die insurance”

Gevolglik bestudeer ek die fynskrif van die versekeringskontrak, en daar staan dit, en nie eens in fynskrif nie, “Elektroniese toerusting: Geen dekking geselekteer” Aag wat, ek wou in elk geval ‘n ander TV gehad het, so ‘n grote wat teen die muur gemonteer is, met spiekerkies voor en agter en ‘n sub woofer en surround sound, soos in ‘n regte baaiskoup. En ‘n usherette wat pop corn en Coke  aandra en wat skalks smaail.

En toe koop ek maar weer ‘n Samsung TV, maar met ‘n sound bar wat die spul drade uitskakel. Sonder ‘n usherette. Met dekking vir elektroniese toerusting. En Vroukie doen die skalkse smaail.

 

Weerverslag

Ek glo oor gans Suid-Afrika word daar vandag oor die weer gesels–agter die koue front vertel die een die ander hoe koud dit is en voor die front waarsku elkander mekaar oor die naderende koue. Hier in Hermanus in is ons tans midde in die front–dis koud, dit reën, die noord-wester gier. Die honde stink na nat hond, hulle lê lui en tevrede voor die vuur.  Hier was selfs pieperige hael en poeperige donderweer. Laasnag het die wind ‘n yslike bietoubos uit die grond in die parkie oorkant ons huis uitgeskeur en dit tot in die straat gewaai. So pas het Overstrand se lorrie hier gestop en die werkers het dit opgelaai, tesame met die bloekomtolletjies wat die dreine verstop. Viva DA! So a la die voorbeeldige voorbeeld van die wyse maagde is die wyn voorraad hier ten huise aangevul, genoeg droë hout is langs die kaggelstofie opgestapel en ‘n dik ertjiesop brou in die slow cooker. Op die koffietafel lê ‘n paar biblioteekboeke en tydskrifte. Leeker, man, leeker.

En hier oorkant die berg is 800 mense haweloos nadat hul kaias afgebreek is.

Ai fok, ween droewe land, ween.