Applous

Ek dink laas wat mense vir my handegeklap het was met my aanneming en voorstelling. Tot vandag. Laatoggend stap ek met die twee honde, ons roete lei ons by ‘n oop stuk grond verby waar daar juis op daardie oomblik’n honde-opleidingsklas aan die gang is. Die leerder-honde is baie nuuskierig oor Chopper en Pamela en storm balhorig nader (hulle is seker nog in die R-klas). Net toe hulle base, twee neus-in-die-lug dames, hulle kom haal, besluit ou Pamela om haar sit te sit. Baie duidelik. Die neuse in die lug kry sulke vies, geaffronteerde kreukels en die een se vir my in Queen’s English “Sir, you must take your poo with you” Must, nogal. Toe ek antwoord “Its not my poo, Lady, its the dog’s” word die kyk nog vuiler en sy draai wipgat om. Maar in my sak is ‘n plastieksak vir sulke geleenthede en toe ek die aanstootgewende honde-poo mooi in die sak het ek, roep ek na die dames terwyl ek die sak triomfantelik in die lug hou ” Look here ladies, poo on the go!” Waaroop ‘n waarderende handeklap van die res van die klas losbars.

Advertisements