Moonlight and Roses

 

“Lewies ?”

 

“Ja Vroukie, wassit?”

 

“Weet jy watse dag dit vandag is?”

 

“Ja, natuurlik, dis Saterdag, anders sou ek nie nou nog in die kooi gele het nie” (lees ‘n kappie)

 

“Nee man, dis nie net Saterdag nie, dis ‘n spesiale dag”

 

Verjaar sy vandag? Verjaar ek vandag? Hitler sou gister verjaar het, maar ek is seker dis nie wat sy bedoel nie.

 

“Nee, Vroukie, gee ‘n leidraad jong.”

 

“Dink terug, nege en dertig jaar gelede”

 

Nege en dertig jaar gelede? Gits, dis diep in die geskiedenis, skuins voor die uitbreek van die builepes. Maar dan: lux in tenebris! Lig in die duister! Hetdaghet overall!

 

“Jis Vroukie!! Die herdenking van…

 

“…ONS TROUDAG!!”

 

“Toe daai orrel die troumars so dreun, en jy en jou pa kom in die gang afgestap, en jy smile vir my, toe voel ek soos ‘n koning.”

 

“Dit was die lekkerste dag van my lewe”

 

“En nou, ‘n leeftyd later, is jy nog net so mooi. Bietjie voller van lyf miskien…”

 

Vroukie ruk haar nek.

 

“Wat bedoel jy?”

 

Die magic oomblik dreig op die randjie van ‘n helse afgrond. Helse, soos in daai warm plek van swael en vlamme.

 

“Ek bedoel nie letterlik voller van lyf nie, dis figuurlik, ja, jy sien dis ‘n figuurlike lyf”

 

“Waddehel (oh oh, weer daai warm een) is ‘n figuurlike lyf?”

 

“Nee kyk man, jy sien Vroukie, ‘n figuurlike lyf is figuurlik. Dis nie letterlik nie. Ja, nie letterlik nie, sien jy?”

 

“Nee ek sien nie. Vol van lyf beteken vet”

 

“Nee, nee” (iemand help tog! Muse, deus ex machina, enigiemand!!) Nee, ek bedoel die moederlyf, ja die moederlyf. Jy is voller van moederlyf, voller van moederhart, daar is nou soveel meer mense wat vir jou lief is, vir wie jy lief is, ons kinders, ons skoonkinders, ons kleinkinders. Jy sien dis hoe ek dit bedoel, figuurlik”

 

“Mmmm, ok. Ag dis te sweet, al moes jy ook bleddie hard dink om daar uit te kom. Amper het jy die mood bederf”

 

“Watse mood is jy in Vroukie?”

 

Sy kyk na my. Daar is ‘n twienkel in haar oog.

 

“Na nege en dertig jaar behoort jy mos te weet”

 

En ek het.

 

 

 

 

 

Die Goue Knippie

Lank, lank, lank gelede sit Lewies een aand voor die rekenaar.

“Lewies!” roep Vroukie.

“Ja Vroukie?”

“My kas se deur is stukkend, kom kyk bietjie”

“Jis Vroukie, ” sê Lewies, “ek is nou besig jong, ek sal later kom kyk” Lewies vermoed iets wat DIY impliseer.

“Waarmee??” verneem Vroukie.

“Ek is besig op die rekenaar”

“Om te wat? Met die bog op jou blog?”

Eish. Kolskoot.

“Oukei Vroukie, ek kom kyk gou”

Lewies betrag die deur nadenkend. Dan sê hy verlig.

“Ek sien nie fout met die deur nie.”

“Nee man, kyk die deur bly nie toe as ek dit toemaak nie. Lyk my die hakie daarbo is af. Kyk”

Lewies kyk. Inderdaad, die hakie is af

“Inderdaad, die hakie is af” is Lewies se slotsom.

“Ek sal more een koop en die deur regmaak”

“Ag, jy is ‘n sweetie pie!”

Lewies smaail ingenome.

Lank, lank gelede sit Lewies een aand voor die rekenaar.

“Lewies!!” roep Vroukie.

“Ja Vroukie?”

“Wanneer gaan jy my kas se deur regmaak?”

“Jou kas se deur?” wonder Lewies

“Ja, my kas se deur!” Lewies en Vroukie is agt en dertig jaar getroud en daar is ‘n vae ondertoon in haar stem wat hy hy nie vertrou nie.

“O, jy meen die hakie wat gebreek het!”

“Dis presies daai kas wat ek meen!!!” Vroukie praat in uitroeptekens.

Lewies besef: Hier kan nou huismoles kom. Hy neem sy toevlug tot die filosofiese berusting van Salomo; ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.

“Oukei, Vroukie” sê hy, “ek sal more die hakie koop en die kas se deur regmaak.”

Lank gelede sit Lewies een aand voor die rekanaar.

“Lewies!!!” roep Vroukie.

Lewies vermoed ‘n ongeduldigheid in haar stem.

“Ja Liefie?” probeer hy die troebelrigheid suiwer.

“Vergeet van Liefie! Fokkit Lewies, wanneer maak jy my kas se deur reg?”

“Jinne Vroukie, ek was die afgelope tyd baie besig…”

“…met wat? Met rondlê op die blogs en jouself vermaak met bogstories? Luister…”

“…nee, nee Vroukie, daar is darem ander dinge ook…”

“…jy moet net sê as jy nie…”

“…nee, nee Voukie, moet nou nie…”

” .. die blerrie deur wil…”

“…so wees nie…”

“…regmaak nie dan kry ek iemand om dit te doen en die rekening is vir jou sak”

Lewies kry nie ‘n woord in te midde van die tirade nie en blaas die aftog.

“Oukei Vroukie, oukei” sê hy vertroostend.

“En moenie my kom blerrie patronize nie !!!” Weer die uitroeptekens

Die dag daarna gaan Lewies na die hardeware winkel. Hy het nooit besef dis so moeilk om te beduie dat hy ‘n hakie vir ‘n ingeboude kas se deur wil hê nie. Uiteindelik roep die verkoopsman ‘n werker nader wat besig is om die vloer te vee.

“Thabo,weet jy wat die meneer wil hê?”

“Die meneer soek ‘n catch vir deur” antwoord  Thabo terwyl hy ongesteurd verder vee.

Dis toe verdag maklik om die catch terug te sit. Lewies kan nie glo niks breek nie of hy slaan  nie sy vinger raak met die hamer nie of die skroewedraaier gly en kloof sy pols oop nie. Een twee drie en Bob is jou oom.

“Kyk Vroukie,” sê hy triomfantelik toe Vroukie by die huis kom. Hy voel soos Noag toe hy die ark aanmekaar getimmer het. “Kyk net, ek het ‘n nuwe knippie ingesit en nou werk die deur piekfyn”

“Mmmm, ‘n goue knippie nogal”

“Net die beste vir jou!”

“Ag Lewies, hoe kan ek dankie sê?”

“Wel, dalk sal die Bybelse manier werk. Jy weet, ‘n oog vir ‘n oog” Lewies het ‘n slinkse smaail op sy gesig.

“Jy meen ‘n knippie vir ‘n knippie?” Daar is ‘n twienkel in Vroukie se oog.

“Net so, en dalk twee vir ‘n goue een?”

“Lewies!!”