Die laaste Sondag…

…in die Wes-Transvaal. Vanoggend pak ons nog ‘n boks of twee met gebruiksgoed waarsonder ons nie kon nie, daar is nog enkeles oor wat more gepak sal word. Net die bitter nodige word uitgehou. Die treklorrie kom Dinsdag, en volgens beplanning ry ons Woensdag Hermanus toe en sal die lorrie Donderdag daar aankom. Met die moleste in De Doorns en Villiersdorp besluit ons om Oudtshoorn om te ry, die R62, maar die keer ry ons om die bestemming te bereik, en tyd om te vergaap aan die natuurskoon van die roete sal daar nie wees nie. Die twee brakke is ook ‘n kwessie, Ons sal hulle kalmeerstroop voer en hoop hulle is rustig vir die duur van die rit–hulle is nie karry gewoond nie en veral die sensitiewe Pamela gaan ‘n moeilike reisgenoot wees. Dinsdagaand slaap ons op uitnodiging van die bure langsaan by hulle, Ons was aanvanklik baie braaf en het gedink ons slaap sommer op ‘n opblaasmatras in ons eie huis, maar die vriendelike uitnodiging is ‘n baie beter opsie. Dan is dit Woensdag dou voor dag in die pad val, die laaste skof van die verwesenliking van ‘n droom. Ek sal seker ‘n tyd lank van die lug af wees totdat ‘n internetkonneksie in Hermanus gevestig is. Hoop die blog-ding werk ongestoord, ek weet nie wat die impak van verandering van e-pos adres sal wees nie. Dus liewe blogvriende–wederom totdat ek my voete gevind het in Hermanus.

Lewies signing off, vir eers!

 

 

Weerlig slaan nie twee maal op dieselfde plek nie, ‘n kort relaas oor die voorbereiding vir die trek Hermanus toe

 Hierdie huis staan op sy kop, dit lyk asof hier ‘n butengewone bliksemaktiwiteit plaasgevind het en asof die hemelskigte ‘n paar voltreffers hier geplant het. Bokse (72 op hierdie stadium) staan die huis vol, die kaste is ontruim asof die inwoners inderhaas voor die Maja of ‘n ander apokalips gevlug het. Die gesketter van buff tape wat afgerol word versteur die andersinds vreedsame omgewing. Lewies en sy Vroukie pak boks na boks, gooi uit vir Julia, Abel, Seun, Hospice. Boeke wat reed 34 winters op die boerak oorleef het gaan na die tweedhandse book shop, mahala.  ‘n Propperse houtkas, custom made to fit the purpose, word vir die twee werfhonde gemaak om die lang pad Kaap toe aan te pak. Hoe die rit gaan verloop is nogals ‘n bron van bekommernis–nie een is gewoond om in ‘n kar te ry nie, Chopper sal regkom, maar die sensitiewe Pamela is ‘n ander saak. Sal hulle maar half benewel hou vir die duur van die reis en probeer aanstoot sonder om oor te slaap soos ons gewoonlik doen. Vroukie se Corolla is gister verkoop–sal ons werklik twee voertuie daar nodig hê?  Saans is ons twee poot-uit, maar ons liewe vriende wil nog ‘n keer afskeid neem, specials by die restaurante, braai by ou kennisse wat nou, hier op die allerlaaste, vriende word. Tussendeur probeer ek Seun help om ‘n ID te kry, dis ‘n helske gesukkel, maar dit lyk my aanhouer gaan wen. Seun kort egter gereeld ‘n skop onner die jack om aan te hou aanhou. Dit lyk darem of ek suksesvol ‘n werk vir hom georganize het, hy moet Vrydag aanmeld, soort van op appro. As dit uitwerk is dit ‘n groot worry minder, vir my en natuurlik vir hom.

Die treklorrie is vir die 22 ste Januarie bespreek, ons raak benoud, gaan die tyd genoeg wees om klaar te pak?