Ant Truia se koek

Die Kokkedoor en Koekedoor gedoente laat my dink aan my Ant Truia van toet, ‘n baasbakster in die kontrei wat gereeld pryse gewen het met haar koek op al wat ‘n skou is. Gereeld en elke jaar is’n rooi roset op Ant Truia se koek gesteek met “Kampioenkoek” daarop in kreatiewe kalligrafie geinskribeer. Ten spyte van aanslae uit VLU en sustersvereniging geledere het Ant Truia se koek op elke koekskou en koekkompetisie die rooi roset verower.
Die hoogtepunt van die jaar se koekkompetisies was natuurlik die landbouskou, waar niemand anders nie as die burgemeester in eie persoon die rooi roset op die koek aansteek. Dit was vir Ant Truia die allerhoogtepunt van haar koekbedrywigheid as haar koek as die wenkoek aangekondig word, en as die burgemester haar koek met die rooi roset steek, het ‘n rosige blos in haar nek opgeslaan, haar asem het weggeslaan en haar bors het op en af gedein. Sy het gelukwensinge ontvang met ‘n uitasem “Dankie” en haar oë skalks neergeslaan. Die ander deelnemers het haar jaloers en met wrewel betrag en onder mekaar die tekortkominge van Ant Truia se koek bespreek. “Te klam” sou een opmerk “Te droog” was ‘n ander se giftige bevinding “Te krummelrig” het Ant Dorie van Jaarsveld gereeld gemurmureer. Maar verniet, Ant Truia se koek is jaar na jaar as bobaas koek aangewys. Na afloop van so ‘n koekskou het die plaaslike koerant op die voorblad verkondig “Ant Truia se koek wen weer!” met ‘n foto van haar koek daarby, eers in sepia, toe in swart en wit en later in kleur. Sy het gebaai in die glorie van haar bekendheid.
Die geheim van haar wenkoek het sy dig bewaar, haar koek was immers haar paspoort tot glorie. Sy is met daai geheim die ewigheid in, en op haar begrafnis het die dominee daarvan melding gemaak, maar ook die gemeente getroos met die versekering dat “Ant Truia nou die engele met haar koek trakteer.”

Lewies se Moedersdag

Kom piekniek saam by die see, is die uitnodiging van die Stanforders. So vir Moedersdag ontwille. Braai gaan daar gebraai word, sommer so op die gasbottel. Vroukie maak slaaie uit die boek uit en ons koop ‘n vars brood by ‘n artisan bakery. Ek sal poeding voorsien, sê ek vir Vroukie.

Ons kom te lande by ‘n afgeleë strand, net ons daar. Te lekker. Kara en Mia is baie nuuskierig oor Oupa se tool box wat saamgekom het.

“Hoekom bring jy ‘n toolbox saam op ‘n piekniek Oupa?”

“Ek sal julle twee leidrade gee,”sê ek.”Dink aan twee soorte kos. Die een eet mens met ‘n lepel. Wat is dit?”

“Pap!”

“Nee, raai weer!”

“Roomys!”

“Nee, dink aan iets wat mens in die winter eet”

“Sop!”

“Dis reg, maar in Engels.”

“Soup!”

“OK, nou het julle een leidraad gekry. Die ander een is iets wat mens met ‘n vurk of met stokkies kan eet”

“Sushi!”

“Nee!”

“Sosaties!”

“Nee. Die Japannese is baie lief daarvoor.”

“Rys!”

“Dis reg! Maar in Engels.”

“Rice?”

“Dis hy. Sê die twee nou vinnig saam”

“Soup. Rice”

“Nee, sê dit soos een word.”

“Souprice?”

“Dis hy! Soepraais!”

“Ag Oupa! Wat is in die tool box?”

“Gee my ‘n drukkie, dan kan julle kyk”

Dis die vinnigste twee drukkies wat ek nog van die twee af gekry het.

“Ok, wat sien julle?”

“‘n Blikke koejawels, ‘n box custard en ‘n boksie Smarties”

“Ja! Dis Oupa Lewies se hooper scooper sooper pooper koejawel poeding! Kampioen piekniekpoeding!”

En soos die Engelse sê, “The proof of the pudding is in the eating thereof”En proof was daar genoeg!

Troetelwoordjies

Nog in die euforie van die herdenking van ons 42 ste huweliksjaar en terwyl die “Ketieng ketang” van die huweliksklokke hier in my hart vibreer, voel ek so ‘n guitige geit om my wederhelfte met ‘n klappie op die boud en ‘n ietwat riskante woordjie van vertedering te begroet. Eish!”Hiert jou! Vettie boemstieks” het nie die ding gedoen nie.

Die Jawoord

Toe ek haar vra
Toe se sy ja
“Maar vra vir ma”
Ek vra
vir ma
en ma se ja
“Maar vra vir pa”
Ek vra
vir pa
pa se uhm en pa se aa
maar dan, hoera
se pa ook ja!

Die lawwe rympie het ek vantevore geblog, maar ek blog dit weer om saam te speel met Scrapydtwo se Toeka Tokkel 20, Ouers vra.