Silwer hare tussen goud.

Vrydagoggend toe ek staan en skeer kom Vroukie die badkamer binne. “Onthou nou, Skapie(!), ek gaan vanmiddag na werk my hare laat kleur. Ek sal eers later by die huis wees”

“Ok, ek sal intussen vir ons iets aanslaan om te eet, en ‘n lekker bottel shiraz by Checkers optel”

“ Dis dierbaar van jou. Jy is so ‘n sweetie pie!”

Positiewe geluide daai! Ek moet die yster smee terwyl hy warm is. Dalk iets kwytraak van hoeveel ek van vroumensdinge weet? Net om te wys dat ek omgee?

“Weet jy Liefie, ek sien ‘n advertensie in een van die tydskrifte in die toilet dat Jane se Moer ‘n nuwe produk op die mark het, ‘n haarkleursel wat spesifiek ontwerp is vir die ouer vrou om grys hare weg te steek. Dit hou glo langer as die gewone, tot tien weke. Dalk moet jy dit probeer, dan hoef jy nie jou hare so dikwels laat kleur nie.”

Die kyk in haar oë is kil soos die winterwind oor die knersvlakte, daai wind wat ‘n boklammer hier onder sy ma se blad laat verkluim. Die ysigheid sak soos ‘n onheilsgevoel uit ‘n Stephen King horror novel oor my toe.

“Jy is darem slim so vroeg in die oggend” Haar woorde sak soos swart ryp op my toe.

“Jy het nou raat vir my grys hare, is daar nie dalk iets vir jou bles nie?”

Vandag is ek weer betyds by die werk. En nog ‘n lang naweek lê voor.

Die boer en sy roer

Ek sal nooit weer uitstel nie.

Gisteroggend gaan ek na die SADP se vuurwapentak om gou ‘n vuurwapenlisensie te hernu. Daar tref ek ‘n leërskare prokrastinators aan, elkeen lekker dikbek vir homself. Maar na so ‘n uur in die tou gesels ons lekker. Kom daar toe so ‘n polisiemeisie en sê ons moet ‘n gedeelte invul waar verwysings van familie en vriende gevra word, min van ons het dit raakgesien omdat dit in die aansoekvorm onder ‘n gedeelte is wat die coppers eintlik moet invul. Vir ‘n oomblik kan nie een van ons aan ‘n vriend of ‘n familielid dink om op te gee nie, maar synde dat ons nou al so lekker kuier ag ons ons buurmanne in die tou as vriende en selfs as verlangse neefs en nigggies en so ruil ons vinnig familie uit. My “neef” is ‘n ou van sewentig, en toe ons nou saam in ‘n groot vetrek beland waar die vorms getjek word, vingerafdrukke geneem word en die betaling (R70 per vuurwapen en R70 vir ‘n vaardigheidsertifikaat) gedoen word, roep die polisiemeisie van flussies verbaas uit toe sy die ou se aansoeke vir sewe vuurwapens tjek: “My magtag Oom, hierdie is dan ‘n blerrie masjiengeweer!! daar is nie ‘n manieeer dat jy ‘n lisensie vir hom gaan kry nie!”

Na so twee ure is die storie toe afgehandel. Ek het nog twee ou gewere wat ek moet inhandig vir vernietiging. Ek sal dit Maandag doen, daar is nog tyd tot Dinsdag.

Ek het julle mos gesê

Ek het Vrydag so geteef en geteem oor oa die feit dat Vroukie se werk van haar verwag om vandag 17:00 ‘n vergadering by te woon. Nou ja, getrou aan haar aard is sy so skuins na 16:00 hier weg, haar werksplek is net om die draai, om haar rekenaar op te stel ens. Sy bel netnou om te sê hulle sal nog lank besig wees. Ek het my voorgeneem om my poppe in die pram te hou, maar fokkit mense, die een is darem bietjie dik vir ‘n daalder.

Cheers, Rian

 Ek sien in Rapport dat Rian van Heerden bietjie moeilikheid opgetel het by Ofm. Die vent irriteer die hel uit my uit met sy arrogansie en sy slapgat gebruik van Afrikaans. Hoop hy verkas spoedig.

vaderlike raad

 So dink ek laasnag, met Insomnia en Colitis as ongewensde bedmaats, terug aan ‘n gesegde van my pa, lank reeds gestorwe: If you can’t fight them, fuck them. En toe voel ek sommer ok.

Ek kry gister ‘n omsendbrief van ABSA, onderteken deur ‘n direkteur van Digitale Kanale. Net so!
Ek kry sommer ‘n kramp in die anale kanaal. (O gaats, ek sit al klaar met colitis, ek sal daai kramp maar uitstel vir later!)

Mag julle almal die naweek en sy dinge geniet!

Gatvol verby

Ad nauseam, Latyn, vertaal in Engels as to the point of producing disgust, en in moedertaal, o soetste taal as tot kotsenstoe gatvol. Dis hoe ek voel oor die ouens met wie ek saam werk, daai ouens wat sê
“Fok us” maar ongelukkig bedoel “focus” of “virus” as hulle bedoel “various”.
Daai fokken mense wat maak dat ek die job wat ek eens geniet het verpes, wat die speelveld en die reëls en prosedures en vormpies op die ingewing van die oomblik verander sonder om dit te kommunikeer, met die gevolg dat ek nie ‘n fokken clue het van hoe om my job te doen nie en die poephol in die storie is, daai ouens wat net mooi fokol van my job weet maar vir my wil vertel hoe om dit te doen, wat die wiel oor en oor ontwerp, elke keer meer opgefok as die vorige, wat die cliches soos geel gastro braaksel uitkots.

Maar Vroukie het die clincher, die organisasie waar sy haar brood verdien belê ‘n fokken vergadering vir 17:00 op Sondagmiddag!! Kan jy dit glo? Het die mense g’n fokken family life nie!?

En dan voel mens skuldig omdat jy kla, want in hierdie kak ekonomiese tye het ek as witman oor vyftig ‘n goeie werk.

(Skies vir al die fokke as dit iemand aanstoot gee. Ek gaan nou ‘n glas rooiwyn drink)

Koud is die windjie en skraal

 

Vrydagoggend

Ek kom by die badkamer uit en tref Vroukie voor die spieël in die slaapkamer aan. Sy staan met haar rug na die spieël en loer oor haar regterskouer. “Skapie (!), dink jy my boude lyk groot in die skirt?” en sy fler die skirt met die mooi groot blompatroon oop.

Alarmsirenes weergalm en rooiligte flikker in my brein soos JZ se kavalkade op spoed op die N3 in KwaZulu-Natal. Ek het êrens gelees, (Huisgenoot, Readers’ Digest?) dat hierdie strikvraag nommer een is. Hierdie vraag het nie ‘n ja of nee antwoord nie—benader hom onverskillig en jou naweek , en volgens Anna Malan in Rooi Rose, dalk ook jou huwelik, is poer in sy moer. Ek dink naarstiglik aan ‘n antwoord, en dan, soos dageraad in dorre woestyn, skiet ‘n onfeilbare antwoord my binne. Heuglike ingewing!

“Weet jy, Lieflammertjie (!), ek lees in een van die tydskrifte wat in toilet lê dat ‘n mens liewer ‘n fyn motief moet kies om die effek van groot boude te neutraliseer en nie ‘n groot motief soos van jou skirt nie. Dit beklemtoon groot boude”

Ek kyk afwagtend na haar om haar kommentaar op hierdie stukkie wysheid te hoor. Ek is seker min mans weet dit, hierdie kennis sit my in die klas van ouens wat sent ken, soos Channel Nr 5 en Poison. Gesofistikeerd.

Haar gelaat is egter stroef. Haar lippe beweeg asof sy na woorde soek. As sy praat, weet ek dat sy die woorde wat sy wou sê, wel gehad het, maar dat sy na meer onskuldige eufemismes buite die F register gesoek het as die woordkeuses wat spontaan aangebied is.

Haar stem is kil soos die winterwind, ysig soos die poolwind wat oor die ysvlaktes gier en die ysbere laat tjank. Ek voel hoe die bloed in my alveoli, bronchioli en canneloni vries. My byniere kickstart rukkerig soos ‘n ou plaastrekker onder ‘n bloekomboom en die adrenalien pirts in my bloedsroom in soos die middelstroom van ‘n ou man met ‘n vergrote prostaat. Veg of vlug, maar veg is nie ‘n opsie nie.

“Jy kan jou blerrie (ja blerrie, nie fokken nie) slimmigheid vir jouself hou. As jy dink my boude is groot sê verdomp so. Moenie kom met jou blerrie stront wat jy in die blerrie Huisgenoot lees nie!!”

En toe is ek heel betyds by die werk. Gaan ‘n lang naweek wees. Ek dink ek moet gaan visvang.