Die aartappelboer

Ek is nie ‘n Jesus freak nie, en het nog altyd van kleintyd af moeilik vrede gemaak met die dogma van die kerk. Angus Buchan is vir my ‘n fenomeen soos die Amerikaanse en deesdae Nigeriese evangeliste. Dis natuurlik ‘n stelling wat my oopmaak vir die religieuse fundamentaliste se vermakerigheid :” Ons sal sien as Jesus kom wat met jou sal gebeur!” Come to Jesus or go to hell. Ek hou nie van Buchan se slegs mans styl nie, ek hou nie van die alleenreg wat hy op Jesus kleim nie, ek hou nie van die manier waarop hy sy boodskap aanbied nie (toegegee, op laasgenoemde is ek hoorsê aangewese op beriggewing en TV nuus berigte). Die feit dat hy tydens sy onlangse Mighty Men (sic) byeenkoms/show? ingekonk het agv ooreising maak dat ek al hoe minder vat aan sy uitsprake kry. 
Aldus Rapport het hy nog pushups op die verhoog gedoen tydens sy preek. (Ek hoop werklik dit is valse beriggewing).
 Nietemin, ek staan verstom dat 200 000 + mans opruk na sy evangelisasie veldtog, dis vir my bemoedigend dat soveel mense hulle self Christene noem. dalk maak dit êrens ‘n verskil in hierdie geweldgeteisterde land van ons. Daarby sluit ek ook huislike geweld, padwoede en plein ongeskiktheid in. Mag die 200 000 uitleef wat hulle daar gehoor het.
Dis my beskeie mening. Daar is seker meer as 200 000 wat van my sal verskil.  

Anniversary

 

Die anniversary viering het toe ietwat anders afgeloop as wat ek beplan het. Ek was van plan om so ‘n half uurtjie voor tjaila tyd gou blomme en ‘n geskenkie te gaan koop, maar dit was so ‘n bedonnerde dag by die werk dat ek net by die blommekopery kon uitkom. Ek moes die hele ding seker beter beplan het, ek het immers ses en dertig jaar gehad om dit te doen! Ek en Vroukie is egter nie baie gepla oor geskenkies en goetertjies nie en ek sal wel opmaak en haar by geen besondere geleentheid verras met iets (voor die volgende ses en dertigste herdenking).

Ek het twee moerske bosse blomme gekoop, gerwe, as jy die omvang beduie raak jy met jou vingertoppe aanmekaar en beduie met jou handpalms na buite. Net voordat Vroukie by die huis kom van die werk af het ek die blomme in ‘n ou verweerde wit enemmel emmer gerangskik en dit op ‘n krullerige ysterstaander staangemaak. Nogal mooi dink ek, van alle pretensie gestroop, so Franse plattelands, provencaal, soos in Garden and Home. Vroukie was heel in haar noppies. (Mmm, positiewe vibes, Lewies, bestuur die saak nou net reg en bingo, oom Bob’s your uncle!)

Sy had self ‘n dag met uitdagings by die werk en na bietjie dink oor uiteet (nie by die Spur nie!) besluit ons om tuis te bly en self iets aanmekaar te slaan. So sit ons toe daar om die kombuistafel met ‘n glasie rooiwyn in die hand en Pamela, die werfhond hier by ons voete en dwaal-droom down memory lane. En ek dink, as ek nou gepaste geluide van waardering maak, kan ek net big time score. “ Jy weet Vroukie, gedurende die ses en dertig jaar van ons huwelik het jy my maar min kak gegee” (nee, ek sê dit nie, ek dink dit net!) Maar ek het ‘n les geleer nadat ek my bek al ‘n paar verby gepraat het, en dit kom toe uit as “Jy weet Vroukie, gedurende die ses en dertig jaar van ons huwelik het ek net liefde, vreugde en plesier van jou ontvang” Sy kyk na my en daar is ‘n twienkel in haar oog, en toe…

Nee magtag, ek kan mos nie alles vertel nie!

(Skies vir die kwaliteit van die foto!)

Afskeid en verlange

‘n Jaar gelede hierdie tyd het ek by my ma se sterfbed gesit en haar hand vasgehou. Eintlik moes ek nie hartseer wees nie, dit was haar tyd om te gaan, die liggaam deur ouderdom en siekte opgebruik, nie meer geskik om in hierdie wêreld te funksioneer nie. Tog, toe sy gaan, het ek gehuil. Oor ‘n tyd wat verby is, oor herinneringe, oor spyt?

Here comes the bride…

Ek en Vroukie is more ses en dertig jaar getroud, met mekaar. Ek wil graag vir haar blomme koop, maar ek is bang dat ek dit dan elke ses en dertig jaar moet doen. Ek dink ek vat haar more-aand Spur toe, daar is ‘n special, koop een en betaal vir twee.

Nostalgie

Om geen besondere red nie dink ek netnou terug aan ou Garzouzie se winkel in Kroonstad waar ek grootgeword het. Die ou het altyd met sy gebrekkige Engels gesê “I am so glad because you are so happy”.  Een dag het ek die ou verkeerd verstaan. Hy vra my “In what standard are you?” Met sy snaakse aksent en my boertjie Engels, ek was so tien jaar oud, hoor ek hy sê “I’ll thunder you” Ek het gehol dat my kniekoppe klap.
Antie Stapie (natuurlik Stapenberg) het in die winkel gewerk. mens bel haar en gee jou bestelling. Geduldig skryf sy elke item neer terwyl die sigaretrook dwarrel, en nie baie lank daarna nie kom lewer die boy dit af met sy fiets. Ek onthou kondensmelk het 18c gekos.
Toe kom die OK en Checkers en ou Garzouzie se winkel maak toe.

Zig-zag

Hier op die heilge Sabbatsoggend sit Vroukie voor die stikmasjien aan die gordyne maak, wat my laat dink aan die beskrywing van ‘n zig zag naaimasjien–dis ‘n dronk hoer op ‘n baaisiekel. 

Watwo Oupa!

So staan ek vanoggend voor die spieël en skeer. Ek mymer verwonderd oor die geboorte van ons eerste kleinseun, die vierde kleinkind. So ‘n wasigheid kom oor my oë, soos ‘n werfhoender wat sy oë van onder af knip. “Aag fok ” sê ek aangedaan. Die skeerseepborreltjies spat teen die spieël by die plofklank. Vroukie kom juis toe by die badkamer in en vra “Hoekom praat jy so lelik? Dis nog vroeg in die oggend. “

Mans kom van Mars en as jy jou safte kant wys dink mense dalk jy is ‘n moffie.

“Demmit (lekker neutraal né, niks swetsery nie), hoe brand die bleddie skeerseep my oë. Nee. ek dink sommer hoe mens by die mylpale van die lewe verbygaan, hier is ek nou al vir die vierde keer oupa, die ouderdom blaas in my beplooide nek. Een van die dae is ek ‘n pensionaris wat Woensdae afslag kry by Game. Fok,” glip dit uit voor ek kan keer.

“Maar dis mos lekker om oupa te wees,” sê sy. ” Jy sê altyd so. En buitendien, Skapie (!), jy is ‘n lekker oupa, vol lewe” Haar stem is ryk en sensueel, soos rum wat in glas geskommel word, verleidelik en beswymend. Die laaang naweek is verby!

En toe kom ek weer laat by die werk.