Die sirkel van tyd

In die sirkels van tyd bly die spel dieselfde

Maar gedurende die game blaas die fluitjie kort-kort

vir ‘n speler om die veld te verlaat

sonder verduideliking of askies

Die spelers verstaan nie altyd die toepassing van die reels nie

Soms blaas die fluitjie lank

oorpynseer lank

en soms sommer net so piert

Die fluitjie blaas vir ou spelers en vir nuwe spelers

Sommige is al moeg gespeel, krank na kniee

Die littekens van die snymes ‘n kaart van hul lewe

Die nuwes wil nog speel,

Die game is hoeka nie verby nie

Maar as die fluitjie blaas moet jy af

Skielik is die game plan opgefok

En die res van die span moet nuwe planne maak

Planne wat nie altyd uitwerk nie

Daar is geen bekerseremonie nie

Net die game.

En hoe was jou jaar?

Jy vra hoe was my jaar

Zuma Zupta en Brexit het jou moer gestrip

Roer daarby Eskom Telkom en SABC

En die Bokke for good measure

Wel, ek kon my kinders omhels

My kleinkinders teen my vasdruk

My vrou se warmte voel in die klein ure van die nag

My spore le in die sand langs die see

In die berge van Fernkloof

Op die klippiestrand van Agulhas

Ek kon elke dag met my honde stap

Die duiwe voer in die jaart

Hoor hoe hulle roep “Sit ‘n bietjie soontoe! Sit ‘n bietjie soontoe!”

Ek het twaalf volmane belewe, een nogal ‘n supermoon

Ek het voor ‘n kaggelvuur teen die Swart Suidoos geskuil

Gekyk hoe die winterreen teen die ruite trane maak

Ek het met ou vriende gekuier, vriende van ver

Ek het met nuwe vriende ’n glasie geklink

En met wildvreemdes op straat praatjies gemaak

Ek het die fynbos sien blom, die canolalande by Caledon

Ek het die branders  gesien  breek in springgety

En die wolke oor die see by Walkerbaai

Nee wat, dit was ‘n goeie jaar.

 

‘n Kersgeskenk vir die kleintjies

Vir die paar bloglesers wat nog getrou hier lees, en hopelik ook vir ‘n paar wat dalk toevallig hier mag verby drentel, plaas ek hierdie storie om saam met die kleinkinders of klein kinders  te lees. Dis Lewies se triek om die familie vir ‘n paar minute bymekaar te bring! Hoop dit werk!

Hier is hy:

Vat die pad Golikat!

Barnabas Barnard die skeepskok aan boord van die skip Die Mooie Mathilda is briesend.

“Muise! Muise!” roep hy terwyl hy sy hande in die lug gooi. “Hier is alweer muise in die kombuis! Kyk hoe knibbel hulle aan die vrugte en die neute! My koeke en my erte vir vanmiddag se tee op die dek is vol muisspoortjies en muisdrolletjies! Ek moet dit alles in die see gooi! Ek moet al die harde werk oordoen! As hierdie skip vanaand in die hawe van Mombassa aankom kry ek ‘n kat om die muise reg te sien. Nie sommer ‘n hierjy kat nie, nee,  ‘n groot, gemene muisvreter kat wat al die muise sal vang en opvreet sodat daar g’n muis op die skip oorbly nie!”

Dit is middernag toe Die Mooie Mathilda in die hawe van Mombassa vasmeer. Barnabas Barnard gaan so gou as wat hy kan aan wal en begin soek na ‘n kat. Daar is baie katte op die hawe, maar hulle lyk nie kwaai en wreedaardig genoeg na Barnabas Barnard se sin nie. Uiteindelik sien hy ‘n yslike groot pikswart kat tussen ‘n klomp bokse en kratte. Die kat is juis besig om ‘n muis te bekruip. Banabas Botha sien sommer dadelik hierdie kat is die kat wat hy wil he. Net voordat die kat die muis kan bespring gryp Barbnabas Botha hom aan die nek en boender hom by ‘n streepsak in.

Die kat miaauw en blaas en spartel maar Barnabas Barnard woel hom stewig in die sak vas. “Kom saam , Kietsie” se hy. “Ek vat jou na die katparadys waar dit wemel van lekker ver uitgevrete muise. Daar kan jy na hartelus muise vang.”

Die kat grom vies toe hy hoor Barnabas Barnard noem hom “Kietsie” sy naam is Golikat, g’n Kietsie nie! Hy is die skurfste, grofste, goorste, grootste, moordlustigste, bloedlustigste wreedaardigste, bullebakkerigste skoorsoekerigste bakleierigste opfoeterigste boelibakkat in Mombassa.

En hy nou gaan op die Mooie Mathilda kom bly om die muise een vir een te vang te op te vreet!

Sommer daardie selfde oggend begin dinge vir die muise verander. Golikat vang links en regs onder hulle. Hulle moet die heeltyd oppas vir hom. Nes hulle dink hulle gaan kombuis toe om iets te eet, staan Golikat vierspoor voor hulle, reg om ‘n muis te vang. Selfs in die nag is hulle nie veilig nie, want Golikat slaap baie min, en omdat hy pikswart is, sien hulle hom skaars in die donker.

Die muise begin maer word, en veral die klein muisies begin baie swaar kry. Hulle is net vel en been, hulle lyk soos stokkiesprentjies.

Oom Skarrie, die oudste van die muise, besef dat hulle ‘n plan moet maak anders gaan hulle almal dood van die honger. Een aand sluip hy saggies op sy tone kombuis toe. Net een van die kombuisligte brand nog. Oom Skarrie loer die kant toe en dan loer hy daai kant toe. Daar le Golikat op ‘n kombuisstoel en slaap. (Maar ek het mos vir julle gese Golikat slaap baie min, hy het Oom Skarrie al lankal gesien en maak net of hy slaap. Hy is uitgeslape, die Golikat!)

Net toe Oom Skarrie regmaak om teen die tafel se poot op te hardloop, vlieg Golikat op en spring tot hier reg voor Oom Skarrie. Hy raas en blaas en kwispel sy stert. Sy naels flits soos skerp messe. Arme Oom Skarrie skrik so groot hy kan nie roer nie. Sy kop se “Hol Skarrie! Hol!” maar sy bene hoor niks. Hulle staan stokstyf geskrik. Dan klap Golikat vir Oom Skarrie dat hy daaar trek. Oom Skarrie skuif oor die vloer en nog voor hy kan orent kom is Golikat weer daar. Dan klap hy weer vir Oom Skarrie met die ander poot en Oom Skarrie trek sommer doer. Golikat spring met so ‘n vaart op Oom Skarrie af dat hy skoon verby oom Skarrie gly. Dit gee vir Oom Skarrie kans om onder Golikat se pote uit te kom. Dan gryp hy Golikat se stert en met ‘n seemansknoop wat net die ou seevaarders ken, knoop hy Golikat se stert blitsvinnig aan die kombuistafel se poot vas.

Die ander muise het intussen nadergekom toe hulle die lawaai hoor en bang om die kombuisdeur se kosyn geloer. Maar toe hulle sien dat Oom Skarrie vir Golikat uitoorle, spring hulle  op die tafel en begin lag en dans. Barnabas Barnard  het reeds die bestanddele vir die volgende oggend se ontbyt op die tafel uitgesit. ‘n Bak meel, ‘n bak suiker en ‘n bak met eiers. Francoise, wat al op ‘n Franse skip om die wereld geseil het, rol een van die eiers uit die bak. Die ander muise storm nader om te help en hulle lig die eier oor die tafel se rand. Die eier val en breek op Golikat se kop.

“Touche touche, le chat soufflé!” skreeu Francoise en gou neem die ander muise die kreet op.

(Miskien se mense dit eintlik anders, maar in hierdie storie se ons Toesjei toesjei le sja soeflei. En dit beteken ” Dis raak! Dis raak! Dis ‘n katkoek wat ons maak!”)

”Touche touche le chat soufflé” sing die muise elke keer as ‘n eier op Golikat breek. Dan keer hulle die bak met meel en die bak met suiker op Golikat om. Hy spring en spartel en ruk en rem, en die eier en meel en suiker klits al dieper in sy pels in.

Skielik verskyn die skeepskok Barnabas Barnard in die kombuisdeur. Hy gil verwoed toe hy die lawaai hoor en die gemors sien.

“Golikat! Wat gaan hier aan? Jy hou partytjie met die muise pleks dat jy hulle vang!”

Hy storm nader en mik ‘n wilde skop na Golikat, maar sy voet gly op die glibberige gebreekte eiers en hy skaats op ‘n rivier van eiergeel op die naat van sy rug tot teen die rak waarin die messe en vurke gebere word. Agthonderd agt en tagtig messe, agt honderd agt en tagtig vurke, agt honded agt en tagtig eetlepels en agt honderd sewe en tagtig teelepels reen kletterend op hom neer.

“Golikat! ”skreeu hy so hard dat die laaste teelepel wat nog op die rand van die rak huiwer, so “plienk!” op sy kop val.

Barnabas Barnard is woedend. Hy sukkel en spartel om uit die gladde eiergemors op die vloer orent te kom. Hoe meer hy sukkel, hoe kwater word hy en hoe meer raas hy. Toe hy uiteindelik weer op sy voete is, storm hy na Golikat en mik weer ‘n skop na hom, Weer gly sy voet onder hom uit, Die keer skaats hy tot teen die rak waar die breekgoed gebere word. Agt honderd agt en tagtig  borde, agt honderd agt en tagtig kleinborde, agt honderd  sewe en tagtig kleinborde reen kletterend op hom neer.

“Golikat!” skreeu hy so hard dat die rak tril en die laaste klein bordjie wat nog op die rand van die rak huiwer so “ploenk” op sy kop val.

Nou is BarnabasBarnard eers briesend.  Hy sukkel gly-gly orent en skreeu op Golikat.

“Watse soort kat is jy? Hou partytjie met die muise! Waar het jy al van so-iets gehoor?”

Maar nou is Golikat self behoorlik die hoenders in. Hy gluur met sy goudgeel oe na BarnabasBarnard.  Hy is so kwaad hy kan slange vang.

“Hier is g’n slange aan boord nie!” gil Barnabas Barnard asof hy Golikat se gedagtes kan lees.

“Hier is muise, muise! Jy moet die muise vang!”

Die glibberige rou eier het nou in Golikat se hare ingewerk en die knoop in sy stert glip los toe hy weer daaraan pluk.  Hy kyk vies na Barnabas Barnard en lig sy bo-lip om sy tande snouend te wys.

“Golikat,” se Barnabas Barnard , “more as ons anker gooi in Southampton, is jy van hierdie skip af.”  Sy stem is kalm, maar dreigend. Dan skreeu hy weer terwyl sy gesig bloedrooi word “Verstaan jy my!”

Die volgende oggend vroeg kom die skip in Southampton aan. Die muise staan opgewonde op die skeepsreling om Golikat te sien vertrek. Hulle hou mekaar se hande vas sodat hulle stewig op die reling staan. Dan kom Golikat teen die loopplank af. Hy lyk te naar. Die eier het intussen hard geword in sy hare en dit staan in sulke geel stekels op sy swart pels. Hier en daar kon hy dit darem al afwas, maar dit gaan nog lank duur voor hy heeltemal skoon is. Vir ‘n kat is dit ‘n verskriklike vernedering om so slonsig te lyk. Hy sluip vinnig en skaam tot op die kaai waar hy omdraai en sy tande vir die muise flits.

“Touche touche le chat soufflé” sit Francoise die spotliedjie in. Die ander muise val dadelik saam met haar in.

“Good riddance ya lily  livered coward!” skreeu Billiybob wat in Liverpool aan boord gekom het.

“Auf wedersein you kartoffel” skreeu Willybrandt wat in Bremen aan boord gekom het.

“Hamba wena !” skreeu Siya wat in Durban aan boord gekom het.

“Weg is djy! Onth thoek djou nie hiethonie!” skreeu Mavis wat in Kaapstad aan boord gekom het.

Die muise spring so opgewonde op en af op die reling dat Bartolomeus wat op die een punt staan sy balans verloor en val. Hy trek die hele string muise af en hulle swaai oor die kaai. Hulle gil verskrik maar dan roep Oom Skarrie “Moenie worry nie, ek het julle! Klou net vas aan mekaar!” Hy staan op die ander punt van die ry muise met sy een arm stewig om ‘n  groot skroef op die reling geanker.

Nou jil die string muise soos hulle oor die kaai swaai

Touche touche le chat soufflé!

Golikat kyk benoud op toe die muise hier reg oor hom swaai. Hy gee twee, drie bokspronge en verdwyn dan tussen ‘n klomp kratte op die kaai in.

Van die passasiers het intussen uit op die dek gekom. Hulle staan en bewonder die skouspel van die string swaaiende muise. Hulle “ooh” en “aah”  en “oohlala “in ekstase. Jy hoor net kameras klik soos hulle hierdie besondere toneel vasle.

Dan kom die skeepskaptein Zonkie Zeeman ook daaraan, vergesel deur sy luitenant Stefanus Swanepoel.

“”Pragtig! Pragtig!”  roep hy,” So besonders! Uniek! Gaan haal die skeepskok” beveel hy sy luitenant.

As Barnabas Barnard sy verskyning maak, se die kaptein: “Skeepskok, sorg van vandag af dat die muise elke dag kos het om te eet. Kyk net daardie skouspel, hulle is ‘n aanwins vir ons skip. Geen ander skip kan sy passasiers op so iets trakteer nie”

Barnabas Barnard is nie gelukkig met hierdie opdrag nie, maar hy het al geleer dat mens nie kaptein  Zonkie Zeeman teegaan nie.

“Goed Kaptein” brom hy en stap terug kombuis toe.

In die kombuis, waar die gemors al opgeruim is, steek hy vas en mik ‘n allemintige skop na die tafel. Maar onder sy skoen sit nog eier vas, en sy voet glip onder hom uit. Hy slaan neer en val met sy kop teen die rak waarin die messegoed gebere word.

Agthonderd agt en tagtig messe, agt honderd agt en tagtig vurke, agt honderd  agt en tagtig eetlepels en agt honderd agt en tagtig teelepels reen kletterend op hom neer.

Mediese status: ‘n opdatering

Daardie vermaarde droefgeestige digter van ouds, Eugene Marais, het voordat hy die donker stroom ingewaad het tot die slotsom gekom dat daar in elke roos ‘n dowwe blaar is, in die soetste wyn ‘n druppel gal. Wel, vir sy postume edifikasie kan ek nog een byvoeg, elke kabel het ‘n kinkel. Gister voel ek perdfris en honkie donkie na die twee spuite wat in my kranke sisteem ingepomp is en die eerste inname van die voorgeskrewe medisyne, sommer lus vir die lewe. Ja nee, ek kon skerts oor die snotterige skunnighede waartoe sommige van my lesers hier en op FB gedryf is, veral die  wat verband getrek het met pot snot. Vandag is my mediese kondisie van snot na pot. Dis die kinkel in die kabel–anti-biotika maak alles vrek. Flora en fauna van die menslike sisteem, gone with the wind (is dit ‘n pun?) ten spyte van inname van Lactobacillicus en Bifido bacterium en Streptococcus verpak in Probiflora Adult Intensive (now listen carefully, soos vermaan deur niemand anders as ons geagte pres. nie) intensive nogal, Rescue. Maar snot produksie is gestaak en nou het ek tyd om daar in die kleinste kamertjie die Hermanus Times te skrutiniseer.

Somersnot

Hier net duskant die doodlyn van 2016 tekkel ‘n robuuste verkoue my dat die snot spat. Lidi de Waal skryf in een van haar gediggies die lewe het haar al baie snotklappe gegee, maar dis oukei, sy het nog baie snot oor. Ek daarenteen voel nie so baie happy met my voorraad snot wat onophoudelik geproduseer word nie. Voor jy kan se “mes”, of dan “snot”,  is ek deur ‘n pak van daai drielaagmansnesies (ek is seker dit word so gespel op Beter Afrikaans) Net een snuit en daai snesie ontplof in ‘n snesiesproei wat mens laat dink aan ‘n donderwolk op die Vrystaatse vlaktes. Daarby pyn my hele lyf, as ek hoes klink soos die skrikmaak back track in ‘n horror movie. Boonop voel ek nie lekker nie. Toe gaan ek vanoggend sommer vroeg dokter toe.  Hy besluit op aggresiewe behandeling: twee inspuitings (ja, twee!) en die gewone handvol pille vir elke verwante gebeurlikheid en ook ‘n  hoesstroop. Nadat hy die tweede spuit toegedien het laat hoor hy met so ‘n sardoniese glimlaggie “Daai laaste een is magnesium. Dit gaan so ‘n bietjie brand. ” Bietjie van onderbelemtoning. Nou moet ek gaan sit as ek aan die hoes gaan, anders steier ek rond soos Pinocchio wat die moon walk doen.  Dink aan my in my uur van ongemak en pyn, Liewe Leser.

(Terloops, die wat nie Lidi de Waal se ongekunstelde gediggies en kleurvolle sketse ken nie, kyk haar op Facebook en koop haar boek Die Kleur van Woorde as Kersgeskenk vir jouself)

 

Nagedagte

Hierdie jaar, 2016 nC, staan met een voet op ‘n piesangskil. Dis net  a step to the left and a jump to the right en hy is moer toe, history. En wat ‘n geskiedenis laat hy nie na nie! Bokke, Zuptas, Zuma…een treurmare na die ander.  Maar die goeters wat werklik saak maak het hy in oorvloed hier na onse holte vir die voet gebring—liefde, vrede en vreugde. Dus, te moer met die bokke(sic, kleinletter, ja) , te moer met die zuptas, te moer met zuma. Hulle sal verbygaan, maar die herinnering aan die mooi oomblikke van hierdie jaar is kosbare kleinnode wat nooit sal vergaan nie.

Voete

Jy moet jou voete oppas

het my pa altyd gese

gekrokte voete is ‘n neukery

het my pa altyd gese

ek het sy raad gevolg

my voete opgepas

lig getrap, fyn getrap

soms in die kak getrap

(darem nie diep kak nie)

gedans en gehol

op my voete gedink

‘n leeftyd lank

nou sit ek langs die see

skop my skoene uit

my voete is cool

ek steek my kierie in die sand

ek het hom nie nodig nie

ek staan op my eie voete.