In ‘n staat van Emeritaat

In ‘n staat van Emeritaat.

Nee kyk, hierdie staat van emeritaat groei op my soos muf op ou brood. My hartklop pols in ritme met Mantovani se Moon River, my bloeddruk is so af ek voel hom skaars. My brein se Alpha ritmes is amnioties kalm. Die psigiater het die dosis Fukitol halveer. Ek kom nou die dag agter dat ek nie meer my horlosie dra nie. Gevoelente is nou my horlosie. As ek voel dis nou tyd vir brekfis dan toast ek vir ons ‘n broodjie, as ek voel dis nou tyd vir ‘n koppie tee dan skink Vroukie hom al in ‘n krullerige koppietjie met pienk rosies, as ek voel dis nou tyd vir ‘n wyntjie dan maak ek so, en as daai ander gevoelente sigselwers presenteer, julle weet mos, daai een, dan worrie ek nie oor ‘n laatkommery by die werk nie. Sedert ons hier in Hermanus bly het ek nog nie ‘n middelvinger teen ‘n mede-padgebruiker gelig nie, en daai woord, wat is dit tog nou weer, nee fokkit, kannie onthou nie, maar daai woord het nog nie weer oor my lippe gekom nie. Ek kyk Pasella en Kwela en her-heruitsendings van Mollie en Wors en Orkney Snork Nie sonder om kort-kort te sê “Wat ‘n pot kak”. As dit so aangaan kyk ek een van die dae heruitsendings van TV 2 nuus met Riaan Cruywagen.  Ek skel nie meer op rugby skeidsregters nie.  Dit gaan so goed met my dat die Cheetahs ewe skielik een game na die ander wen. gen.

Is dit dalk iets in die water?

 

Advertisements