Volspoed op veertig

Ek en Vroukie het verlede Sondag ons veertigste troudag herdenk, ja, liewe leser, veertig jaar, net so lank as wat Moses en sy troepe in die woestyn geswerf het. Maar anders as daai ongelukkige siele het ons nie ons Kanaan eers na veertig jaar bereik nie. Dit was uit die staanspoor duidelik dat ons vir die heilige eg, met mekaar, bestem is. Hulle sê die eerste veertig jaar is die moeilikste, daarna is dit maklik. Maar sê nou net een van die twee partye verwissel die tydelike met die ewige na een en veertig jaar, dan het hulle mos net een jaar van huweliksgeluk beleef! Nee wat, ‘n mens moet maar werk aan die huwelik, en nie so ‘n Gods-water -oor-Gods-akker benadering openbaar en dan hoop alles sal uitwerk nie. So is die ou lewe mos, wat jy saai sal jy maai, wat jy insit sal uitkry. Dankie Vroukie, vir veertig jaar se maatwees, liefwees, sterkwees. Met jou aan my sy sien ek kans vir die lewensmylpale wat verskuil in die pad vorentoe lê.