Jy weet, Insomnia, jy’s ‘n slet
Spring sommer met elkeen in die bed
En as ek se Uit!
Pruil jy jou lippies in ‘n tuit
En se, ek kom weer, ek sal jou wed.

Hier’s hy weer…

Hier’s hy weer hier’s hy weer
Die snotsiekte voor my deur.
Ja Liewe Leser, pestilensie en ellende staan geil hier in onse woning. Die keer is dit ‘n double whammy, soos Esme Euvrard se Punch, the Two Fisted One van toet. Kadoef kadaf. Ek en my genote in die eg slagoffers van die booswig-bakterie. Ons hoes ‘n duet, eers val ek in met ‘n roggelende bariton, dan neem sy die melodie op met ‘n onsekere falsetto. Ons ervaar erge ongemak as ons praat, dus praat ons net die allernodige. Rus en vree op ‘n vreemde manier, g’n niks van ” Dink jy nie ‘n mens moet…” of dergelike opflikkeringe van vroulike kreatiwiteit wat gewoonlik impliseer dat ek die leer, die boor, die verlengkoord, die korrekte grootte boorpunt, die korrekte grootte muurproppies, die korrekte grootte skroewe, ‘n hamer, ‘n skroewedraaier, ‘n stoflap en die skoppie en besem ten eerste moet opspoor, die huis indra, korrek gebruik en dan weer moet terugdra na die garage, en die keer op hul behoorlike plekke bere. ‘n Plek vir elke ding en elke ding op sy plek. En ek wens ek kan hierdie blerrie snotsiekte ook vir eens en altyd op sy plek sit.