Sy

Sy, ja sy wat my lewensmaat van veertig jaar is, sy wat die moeder van ons kinders is en die ouma van ons kleinkinders, sy wat medepligtig was dat ek laat by die werk opgedaag het, ja sy, sy bekruip my soos die pes wat bedags wandel, soos ‘n dief in die nag, terwyl ek in gedagtes versonke voor die rekenaar sit, terwyl ek nie een van die 7 biljoen mense op hierdie Moeder Aarde henner nie. Sy bekruip my met ‘n partytjiefluitjie, bekruip my van agter en blaas die ding hier skuins agter my oor. Ek skrik my eers moer toe toe die pienk papiertong verby my flits, en toe skrik ek my weer terug van moer af  toe die skel  geskal my ore laat tuit. My bloed briek sidderend  tot stilstand in my are, my hart bokspring soos ‘n bulkalf in die lente, my mond raak stofdroog, ‘n paar swetswoorde presenteer sigselwers.

“Vroukie, ek sweer ek sal jou terugkry, ek sweer dit op die graf van Arnoldus Pannevis. Ek sal jou terugkry”

 En nou, nou die ultimate blooming cheek, sy kom vorentoe, vat my wange in ‘n knypgreep tussen haar duime en voorvingers en sê in so ‘n koetsjie-koetsjie stemmetjie: “Het hy geskrikkies? Groot geskrikkies? Amper dood geskrikkies?”

 “Fok, Vroukie, dis nie iets om oor te spot nie. Natuurlik het ek geblerrieskrik. Enige normale mens sou. Jy sluip dan hier van agter af en blaas daai blerrie fluitjie in my oor. “

 Sy kyk na my met so ‘n skelm soort van smaail. Ek kan sweer daar is ‘n twienkel in haar oog.

 “Nou hoe groot het jy geskrik Lewies? Heeltemal onkapabel, of net so effentjies? “

 Ek voel hoe my skrik sak.  “Ons sal moet uitvind Vroukie. En ek weet net van een manier.”

 Gelukkig werk ek nie meer nie, anders was ek weer laat.

 

 

Overbergse toeval

Hoe toevallig kan dinge nie verloop nie.  Hier in Hermanus in is dit amper gebruiklik dat mense jou sal vra of jy ‘n local is. Dan sê jy ja, maar ek is nog ‘n inkommer, pas hier beland. Dit maak dan die pad oop vir ‘n uitvraery van ‘n ander wêreld, vanwaar kom jy? Ken jy dalk vir so en so? En dan is daar blye verbasing as daar wel ‘n gemeenskaplike kennis is. So ontmoet ons iemand hier en na ‘n kuier of twee kom dit uit dat sy en Vroukie in dieselfe skool op Kroonstad was, weliswaar nie op dieselfde tyd nie maar tussen hulle onthou hulle ‘n klomp skoolmaats en onderwysers , en wat nou werkilik toevallig is aan die storie is dat die persoon se broer getroud is met die meisie wat veertig jaar gelede ons strooimeisie was!

‘n Groter toevalligheid, eintlik ‘n bietjie eerie, gebeur een Saterdagoggend toe ek en Vroukie by die kontreimark rondflenter. Vroukie sien haar eerste, ‘n ou bekende uit Klerksdorp se dae, wat nege jaar gelede saam met haar kinders Amerika toe ge-emigreer het. Vroukie se verbaasde uitroep het my amper hoendervleis gegee, sien sy ‘n spook helder oordag?  Haar broer lê op sterwe in Stellenbosch, verduidelik  sy, en sy het hom vir oulaas kom besoek.  Sy kuier vir die naweek by vriende in Hermanus, en vlieg weer die Maandag terug Amerika toe.  Dink nou net watter permutasies moes gejel het sodat  ons mekaar op daai spesifieke oomblik moes raakloop.

 

 

Mymerend op dese Vrydagagtermiddag

Ek vind dit die afgelope tyd moeilik om ‘n onderwerp te kry om oor te skryf. As ek teruglees op my inskrywings sien ek dat dit die afgelope jaar veel te doen gehad het met my aftrede en ons verhuising na Hermanus en die nuwe lewe hier. Maar dis nou verby en daar moet seker iets anders wees waaroor ek kan skryf. Maar soek en dink en kopkrap soos ek wil, ek kry niks. Nada, ziggolo, fokkol. Toe dink ek die “fokkol”, is darem maar ‘n lekker woord (dis nou vir my), en nie soseer “fokkol” nie as “fok”.  Dis nou ‘n woord wat my bemoerde gemoed kan ontlaai soos wat ‘n weerligafleier ‘n bliksemskig onskadelik stel. Maar dan moet mens hom mening sê, en bedoel, anders is hy nie meer verbale noodhulp vir moerigheid nie maar net nog ‘n skollie swetswoord. Kyk,as mens hom nou sê, so in slow motion, dan byt jy eers met die voortande op die onderlip as jy die frikatief “f” vorm. Dink nou aan byt, tande en frikatief (friksie, friction) en daar het jy drie kagtige elemente van aggressie. Nou vorm die lippe “o”, en as jy jouselwers sou betrag in die spieël as die lippe so gerond is, lyk dit asof daar na die aanvanklike aggressie nou ‘n oomblik van besinning is, so asof jy nadink of jy die woordbom werklik wil gooi, want as hy gegooi is, is hy gegooi, die koeël is deur die kerk. Dan: triomfantelik en gee nie ‘n duiwel om nie, die klapknal van die slot “k”. Kyk nou net die agressie element wat na vore kom: klap, soos in oorveeg, taai klap, skote wat klap, en knal, weer eens skote wat knal, en slot, die einde, tot hiertoe en nie verder nie. Pure vuur, die klein woordjie, moet hom nie op sy verslete baadjie takseer nie!