Die kuns om die regte knoppie te druk

Vanoggend vroegerig se kant.

“Jis Lewies, jy weet, ek kan nie glo ons het al die jare gesukkel met die staal garagedeure nie. Dis soveel makliker en geriefliker met die elektriese deure”

“Was ‘n moerske uitgawe, maar die moeite werd. Dis net jammer die knoppies op die remote is so sensitief. Soms as ek die remote in my sak bêre druk ek per ongeluk die knoppie, dan gaan die deur oop sonder dat ek daarvan weet. As mens nie daarop let nie kan die deur die hele nag oopstaan”

“Jy maar net fyn oplet en seker maak jy druk die regte knoppie, Lewis”

“Vroukie…”

“Wassit Lewies?”

“Sê my bietjie, druk ek jou regte knoppie?”

“Hoe meen jy nou?”

“Jy weet mos, dink jy ek .. jy weet..?”

“Jy meen of jy my regte knoppie druk?” Daar is ‘n twienkel in haar oë.

“Ja, dis hy, net so”

“Ek weet nie jong, jy sal maar moet druk dat ek kan sien”

Ek dink dit was die regte een.

En ek werk nie Saterdae nie!

(Ek wonder nou oor die geraaptes–druk hulle ook knoppies?)

Nelson slaap saam

Vanoggend vroeg.

“Biedeldiebiep!Boedeldieboep!Biepbiepboepboep!!”

Die hoetertjie van die elektroniese wekker op my bedkassie groet die oggenstond met vermakerige vrolikheid. Ek vee die slaap uit my oë en die kwyl van my ken af. Goeie more Suid-Afrika!! ‘n Nuwe dag lê en wink, ryp om gepluk te word! Carpe diem!

Langs my snork Vroukie liggies en musikaal, so op die deuntjie van ‘n FAK liedjie, dalk Afrikaners is Plesierig, nie die Karen Zoid weergawe nie, eerder soos op ‘n CSV kamp by Mazelspoort. Ek skud haar liggies.

“Opstaantyd, Vroukie”

Sy draai om. “Murf”, prewel sy. “Brhmm.”

“En ‘n goeie more vir jou ook! Het jy lekker geslaap?”

Sy lig haar kop effens.

“Brrff wzzh zhx”

“Wat sê jy Vroukie?”

“Ek sê, ja, ek het lekker geslaap, dankie, Behalwe vir die helfte van die nag wat jy my in ‘n Nelson beetgehad het.”

“Ai Vroukie man, askies, maar dis vir my baie lekker om so styf by jou te lê”

“Hoe meen jy nou Lewies? Dis opstaantyd. Ons moet gaan werk. Dis nie nou tyd vir vrypraatjies nie.”

“Jissie Vroukie. Ek meen net dis lekker as ek jou stryf teen my kan vashou.”

“Jy meen soos in ‘n Nelson?”
“Ja, net so”

“So?”, demonstreer sy.

“Ja, net so”

En toe kom ek weer laat by die werk.

 

Gelukkige Moedersdag, Vroukie!

My liefielekker my lekkerlief

Jy’t toenterjaar my hart gedief

My allerlief my hart se wens

My lewensmaat my andermens

Toe ek jou sien toe weet ek klaar

Ons tesaam ‘n lewenspaar

Hiervandaan tot anderjaar!

Die troumars, en daarna

Twee spruite maak jou ma

Jy het “Ek is honger Ma!

Ek wil piepie Ma!

Waar’s my skoene Ma!”

Met liefde versorg en verdra

In jou nageslag is ingebrand

Die stempel van jou moedersband

Prima piekfyn pure ma!

En vir al die blogma’s-‘n gelukkige Moedersdag! Mag julle bederf word deur die vrugte van jul lendene!