Die naaimasjien

‘n Eenakter in ‘n kort bedryf

Personae dramatis

Lewies, pasgeworde vier en sestigjarige emeritus

Vroukie, vroutjie van Lewies, emerita in die fleur van haar senior jare

Lewies en Vroukie sit by ‘n tafeltjie in ‘n opelug restaurant neffens die seefront in Hermanus. Hulle teug aan ‘n verkilde wit wyntjie. (Cabernet sauvignon blanc, ‘n ondeunde wyntjie met ‘n parmantige boeket en dralende nasmake van aspersies, gekneusde fynbos, appelkoos, enigiets behalwe blerrie druiwe)

‘n Bakkie met ‘n advertensie ” Overberg Sewing Machine Centre” kom verby. (Dis ‘n ietwat faktap wit Nissan 1400 bakkie, maar enige ander bakkie sal ook doen). ‘n Man wat op die oog af lyk of hy weet van sewing machines is aan die stuur.

Vroukie: “Dit herinner my. Daar is fout met my masjien. Ek moet dit invat dat die man daarna kan kyk. Wat is dit nou Lewies? Wat smaail jy so skelm?”

Lewies: “Jy meen jy wil hê die man moet na jou naaimasjien kyk?”

Vroukie (Ietwat verontwaardig) “Lewies!!”

Finis.