‘n Interaktiewe behandeling van enkele geriatriese degenerasie simptome, of te wel ‘n Paar trieks om die naderende ouderdom hok te slaan

Dit werk so:

Stel jou voor Lewies en sy genote in die eg, Vroukie, stap vanaf  die parkeerterrein na die mall. Hulle is so ‘n ent weg. Dan:

Vroukie “Lewies, trek in jou maag! Kyk hoe breed is jou hemp se strepe!  Jy lyk soos ‘n ou man met ‘n boeppens”

Lewies voldoen aan die versoek (Versoek?)

‘n Paar tree vorentoe.

“Lewies! Trek op jou broek! Kyk waar hang sy gat! Jy lyk soos ‘n ou man!”

Sonder kapittel of teepraat gee Lewies gehoor.

Nog ‘n paar tree vorentoe (Hulle is nou al amper in Checkers)

“Lewies!Moenie so met jou hande agter jou rug loop soos ‘n ou man nie!”

Weer eens maak Lewies so.

Binne Checkers.

“Lewies! Moenie so oor die trollie leun soos ‘n ou antie met ‘n rug probleem nie!”

Lewies stribbel nie tee nie. Na 46 jaar se getroude lewe weet hy wanneer teestribbeling futiel sal wees.

Maar Vroukie bekamp nie net die uiterlike simptome van die naderende senior jare wat Lewies bekruip nie. Sy tree ook voorbehoedend op teen innerlike aftakeling, om daai gaudeamus igitur gevoel wat die vlam van vergete jonkheid laat gloei, weer aan te blaas.

Hulle sit op die strand. Lewies maak of hy lees. Dan se Vroukie. “Lewies, kyk hier skuins agter jou . Daar le ‘n girlkie wat enige jong man se hart sal roer.”

Lewies stribbel nie tee nie. Gaudeamus igitur!