Klop-klop

 

Welkom welkom 2016! Maak jou tuis hier op my lewenswerf. Alhoewel ek weet dat jy geen uitnodiging nodig het nie, jy wag al immers sedert die Big Bang vir hierdie oomblik. Ek hoop ek en jy sal dieselfde aangename verhouding hê as wat ek sedert 1949 met jou voorgangers gehad het. Goeie ouens gewees, hier en daar een wat soms sy gatkant vir my gewys het, maar rerig nie iets om oor opgewonde te raak nie. 1973 was ‘n besondere gawe ou, tydens sy termyn het ek en Vroukie plegtig ewige trou voor die gemeente gesweer, en vandag staan ons nog saam, gesement in tyd as’t ware. In 1975 is ons eersteling gebore, vandag ‘n vrou met haar eie gesin, en in 1978 ons tweedeling, vandag ‘n voorsiener vir sy familie. Ek het met benouiing uitgesien na 2013, toe ons sak en pak met honderd bokse en twee bedewelmde honde Hermanus toe getrek het, dit was ‘n keerpunt in ons lewe, en ten goede so. So jy sien, 2016, die afgelope 66 jaar het julle ouens my goed behandel, jy moet nou nie uit die kraal spring en amok maak nie. Gee ons liefde en vrede en goeie gesondheid, dis al wat ek vra, en, as dit nou nie voorbarig is nie, kan jy nie asseblief ‘n plan maak met Zuma nie? En wat van die Springbokke? Kan hulle nie maar hier in jou termyn weer ‘n slag die volk trots maak nie?

Ek sien uit na ons verbintenis, al drie honderd ses en sestig dae daarvan. Ek wil op elkeen van daai dae die lewe beleef, die geringe dingetjies raaksien en geniet en waardeer. Carpe diem, soos hulle sê, elke liewe een van hulle.

 

 

Gegroet, geseend

So midde in die geskarrel en gewarrel in die Kersgety wil ek graag aan almal wat hier lees ‘n Geseende Kersfees toewens, vry van die klater wat die ware betekenis van vrede op aarde omfloers.

En sommer ‘n lekker Nuwe Jaar ook, nie die een wat op 1 Januarie met ‘n helske geskal en geknal aangekondig word nie, maar die een wat oor 366 dae strek , en sommer daarna ook, tot aan die einde van dae. Mag al die slegte goeters van die verlede agter ‘n dikke deur weggesluit word, vir altyd en altyd, so diep weg dat dit nie eens in nagmerriedrome sal ontsnap nie,  en mag net goeie goeters in die Nuwe Jaar op jou spoor bly,natsnoet  op jou hakke soos ‘n troue hond.

Heppie heppie!

‘n Dag in die lewe van Lewies Mymer

“Jiesaaja Vroukie! Het jy gesien wat kos hierie blerrie brokkoli! R30! En dan is blerrie sleg daarby!!”

“Moenie so praat van kos nie, Lewies. Brokkoli is gesond.”

” Ja, maar dis nie lekker nie. Nie eens ‘n tyrannosaurus rex sal dit eet nie”

“Tyrannosaurus rex was ‘n vleisvreter. Natuurlik sal hy nie brokkoli eet nie.”

“Aikona, dis nou net waar jy verkeerd is. Hulle was eers grasveters maar die brokkoli was so sleg dat hulle ander diere begin verskeur en verslind het.”

“Wel, dis wat vanaand op die tafel is. Brokkoli of niks”

“Jy meen brokkoli of fokkoli”

“Netso, Lewies, neto”

“Weet jy wat Vroukie?”

“Nee, wat Lewies?”

“Ek dink ek is gereinkarneer”

“Gereinkarneer? Hoe meen jy nou?”

” Kyk, om met jou huis te hou verg Job se geduld. So ek dink ek is ou Job in lewende gereinkarneerde lywe”

“Ja Lewies. Ek reken ook jy is gereinkarneer, maar nie as Job nie”

“Nou wie dan?”

“Kootjie Emmer, die koning van kakpraat”