Karwagte!

Waar vervies ‘n karwag homself vandag liederlooslik vir my! Hy staan hier by Checkers, en bied sy dienste aan. Nee dis reg, sê ek, altyd bereid om werkskepping aan te moedig. Die ou het ‘n oogklap oor die een oog, lyk soos ‘n Boere-seerower. Ek en Vroukie vaar Checkers in en koop wat gekoop moet word vir die naweek. Toe ons weer by die kar kom, staan die mannetjie daar, paraat, as’t ware op aandag, sy een oog pligsgetrou op ons kar.Toe gee ek hom R20, en sy oog begin spring. “Dankie, Meester” sê hy “mense gee my gewoonlik nie soveel nie.” “Nee wag eers” antwoord ek” jy moet my R10 kleingeld gee, jy doen halwe werk, jy het mos net een oog.”

Seerower se voet! Die mannetjie vloek soos ‘n matroos!

‘n Lewwetrie en die komende Huisgenootskouspel in Technicolor.

In my vorige bloginskrywing het ek vertel van die lang en lekker pad wat ek en Vroukie saamgeloop het sedert ons op 21 April 1973 in die heilige eg verbind is. Baie dankie aan almal wat gelukwensende kommentaar gelewer het. Ja, ons het die Paasnaweek gekies sodat ons ‘n lekker lang honeymoon kon geniet. En ons het. Trouens, ek vermoed dis daar waar my geneigdheid tot laatkommery by die werk sy beslag gekry het!

So dink ek aan die komende huweliksbevestiging van die britse royalty. Fok, net toe die sprokieshuwelik van die jong prins se britse vaar en moerder, die gehoer en gerumoer van hul bedenklike huwelikslewe, die kluitklap op haar kis, die ou prins se ongebreidelde liefde vir ’n anner merrie, ja net toe al hierdie Huisgenoottreffers in die vergetelheid begin versink, slaan hierdie nuwe sprokiesfenomeen in Hollywoodse Technicolor en Widescreen soos ‘n griepepidemie in die winter uit. Ek glo Huisgenoot se redaksie jubel “Hallelujah! Prys die prins van groot- brittanje! Nou kan ons die volk weer voer!”

Ek lees egter dat die britse vorstehuis ‘n bedenklikheid koester oor die jonge dame se proletariese opvoeding. Sy kom naamlik uit ‘n ouerhuis waar die gesinslede ‘n lewwetrie ‘n toilet noem en nie ‘n lewwetrie soos dit in koninklike geselskap hoort nie. Sweerlik omdat sy waarskynlik nie die voorreg had om in Latyn onderrig te word nie, dan sou sy mos geweet het ‘n lewwetrie is “lavatorium” in daai antieke taal, letterlik ‘n plek waar jy jou was. (Sy sou ook geweet het dat as sy ‘n Corgi-brak Caesar wil noem, jy Caesar Caesar spel en nie Ceasar nie)

En nou le die langnaweek stuiptrekkend voor my. Daar moet nog ‘n paar gesiggies ingeboet word vandag, ‘n paar kleiner joppies in en om die huis wag. Die regpak van die garage wag ook, maar hy kan maar wag!

 

 

 

 

 

LANG PAD


Toe hulle by die mylpaal langs die pad kom, gaan hulle staan. Hulle draai om en kyk terug na die pad wat hulle gevolg het, van daar ver waar dit in ‘n groen lentewoud begin, hoe die bome gaandeweg ryp-groen word in ‘n somerskleed. Die pad is mooi, slegs enkele knikke, geen afdraai-of kruispaaie nie. Twee groot olyfbome staan langs die pad, met vier klein olyfboomspruite daarnaas.


Die man en die vrou kyk na mekaar, en draai dan om na die pad vorentoe. Die blare van die bome begin herfserig verkleur, die pad raak deinserig, asof ‘n miswolk tussen die bome dwarrel. Ver vorentoe staan twee Januspopuliere, kille winterskelette in die mistigheid. Die sig is bedrieglik, is die bome nader as wat dit lyk?


Soos uit een mond sê hulle vir mekaar “Kom”. Hy steek sy hand uit na haar, haar greep is sterk en ferm. Hul tred is vas, sonder weifeling. Op die mylsteen is uitgebeitel: 38, en daaronder, 21 April 1973.

 

Oor ‘n trol, Marie biskits en Paasfees.

‘n Geloofwaardige kolleg vertel vandag hierdie storie wat sy by ‘n vriendin gehoor het wat dit weer by’n ander vriendin gehoor het.

Vir die waarheid. Die heilige waarheid. Cross my heart soort van.

 

Die vriendin het ‘n vriendin wat ‘n Down sindroom seun het, hy is nou al ‘n groot kêrel, ook fisiek groot gebou. Hy bly in ‘n tuinwoonstel in hul erf, met eie toegang na die straat.

 

Die aand toe almal al ter ruste is, bel die seun sy ma. Sy moet kom kyk, hy het ‘n trol gevang. Sy ken sy verbeeldingsvlugte en is reeds half aan die slaap. Sy sal more kom kyk, beloof sy. Later bel hy weer. Die trol is honger, hoe nou gemaak. Gee hom koekies en melk, trolle hou daarvan, is Ma se raad. Veral Marie biskits sal deug.

 

Vroeg die volgende oggend, nog voor die hadidas begin skel, bel die outjie weer. Sy ma moet nou na die trol kom kyk, die trol begin nou moeilik raak. Ter wille van die vrede staan sy toe maar op, trek haar Woollies slippers en haar kamerjas aan en stap na die seun se woonstel. Hy maak die deur op ‘n kiertjie oop, net sy neus steek uit toe hy met haar praat.Hy is bang die trol ontsnap, hy hou juis die deur gesluit en die sleutel in sy sak om te verhinder dat die trol wegkom. Sy glip vinnig die woonstel binne en hy druk die deur agter haar toe. En hier voor haar staan die trol, ‘n dwerg, ‘n kort mens, netjies geklee maar effens verkreukeld. Hy is ‘n Jehovah getuie, en hier kort voor Paasfees deur tot deur hulle om almal na hule kerk se Nagmaalsfees te nooi. Toe klop hy aan die verkeerde deur, en die jong man gryp hom vas en pluk hom die woonstel in waar hy die hele nag moes deurbring. Boonop wou die jong man hom nie met rus laat nie, en het hom die hele nag uitgevra oor sy lewe as ‘n trol, waar hy bly, wat hy eet, watter speletjies hy speel, waar is trol maatjies? En kan hy nou asseblief verskoon word, hy is uitgeput, en sy mede Jehovas is nou al seker baie bekommerd oor hom.

Ruilhandel

Vanoggend vroegerig. Ek staan en skeer.

 

“Lewies!”

 

“Washit Vroukie?” My tong is in my kies geprop sodat ek die laaste hardnekkige stoppels kan afskraap.

 

“Het jy gister onthou van die griepinspuiting?”

 

Vroukie het ‘n griepvaksiene by die apteek gekoop, ek moes net ‘n nurs kry wat die spuitwerk kon doen. Die nurs by die apteek het haar beduie hoe sy dit self kan doen, maar ek is lugtig om proefkonyn te speel vir so ‘n do-it-yourself joppie. Vroukie kan dalk haar onkundigheid misbruik om my terug te betaal vir ‘n lank vergete “onreg”.

 

“Ja, ek het een van die susters by gemeenskapgesondheid gevra om my te spuit. Dit het nogal goed gewerk, sy het ‘n lift dorp toe gesoek om haar kar by die garage te kry. So kon ons mekaar help.”

 

Verbeel ek my of hoor ek vir Vroukie snork-lag? So effe gedemp, maar dis beslis ‘n lag. Dan bars sy hard en onfatsoenlik uit van die lag.

 

“Nou wassit nou met jou?” vra ek, failing to catch the joke.

 

“Jy meen dit was ‘n ruiltransaksie.”

 

“Hoe kom jy daarby uit?”

 

‘n Stekie vir ‘n rytjie!”

 

“Hene Vroukie, jy het ‘n evil mind!”

 

“Wil jy weet presies hoe evil my  mind rêrig kan wees, Lewies?” Haar stem is skalks en onnutsig, daar is ‘n twienkel in haar oë.

 

Reg geraai, toe kom ek weer laat by die werk.

 

 

 

 

 

Oor ditjies en datjies, van die os op die jas en die tiet op die tepel.

My langerige afwesigheid hier op die blogs is te danke aan ‘n week vakansie wat ek en Vroukie daar by die see in Umhlanga deurgebring het. Lekker weer gehad, lekker gesee en geswem, gemall en gefliek (Black Swan en True Grit), geëet en gedrink (matig!)en gelees (Landskap met Diere en Willem Poprok).

Gewoonlik vat ons die pad deur die Vrystaat, oor Kroonstad om gou dag te sê vir Skoonpa en dan oor Bethlehem en die Oliviershoekpas. Daai pad was gewees. Dus besluit ons om oor Parys, Sasol, Heilbron en Frankfort te ry en dan by Villiers by die N3 aan te sluit. Ons dag ons ry vroegoggend deur die kosmoslandskappe, stop êrens om brandstof in te neem en te piepie en eet dan ons padkosbroodjies, vars kaasrolletjies met ham, mozzarella, dun skyfies komkommer en ‘n smeersel mosterd. Twee onvoorsiene en onverwagte gebeure versuur egter die idilliese vooruitsig. Ten eerste is die pad netso faktap soos die een wat ons wil vermy, met baie en lang ry en stoppe, en g’n aanvaarbare plek om die broodjie te eet nie. Gevolglik, toe ons nou begin hongerig uitsien na ‘n snack, knibbel ons die broodjie so in die ry, en hier spring ontnugtering nommer twee soos ‘n plattelandse spietkop met ‘n wit handskoen voor ons op: Vroukie het skaars die eerste hap gevat of sy voel iets in haar mond, wat by nadere ondersoek ‘n moerse groot stuk glas blyk te wees. Nou ja, die ontdekking het ons aptyt nogal gedemp en die ander broodjies is baie versigtig geëet. (Checkers broodjies).

Een dag ry ons Durban toe om te sien hoe lyk die stomping ground van ons jong jare se kuiers daar. Ek kon nie glo daai eens vibrant plek lyk nou so nie. Op die strandfront is daar wel pogings tot instandhouding en opgradering, maar net om die hoek in Weststraat is die verval en agteruitgang baie duidelik. Teen ‘n muur lê ‘n swart man, slapend of uitgepass (of sterwend dalk?) ‘n Polisieman wat daar verby loop gee die ou ‘n stewige skop in die ribbes, en toe hy swetsend omrol, stap die polisieman tevrede verder, ten minste is die ou nie dood nie en spring hy ‘n helse lot admin vry.

Op pad terug na die kar stop ‘n ander ou ‘n traktaatjie/pamfletterige papier in my hand. Die kruks van die ellelange stuk is dat die wêreld op 21 Mei 2011 sal vergaan. Repent, the end is naai!

Terug by die huis vind ons met dankkbaarheid huis, haard en honde behoue, danksy buurman Nic se pligsgetroue toesig en opsig, en Abel die tuinman se handewerk.

En nou is dit alles net ‘n aangename herinnering, wat veral teen die einde van die maand as die kredietkaartrekening kom, weer in die gedagtes herleef sal word: Angelo’s Restaurant, Cinema Nouveau, Exclusive Books, Woolies, Spar, Umhlanga Liquors (O gaats!).