Eens verlore maar nou geredde

My blog was een van die wat vermis geraak het met die oorgang na Lettertrash, maar nou is ek weer op vaste grond en aanlyn. Ek sukkel nog ietwat om my pad te vind op die nuwe terrein. Een van die nuwighede wat vir my kostelik is is die caveat by die kommentaarvenstertjie: Geen vuil taal. Oulik. Ek hoop dit stuit die trolle in hul spore, soos wat Jamiekagimmer maagwerk stop. Ek het nie vanaand iets om kwyt te raak nie, Sondagaand is nie my gunsteling tyd van die week nie. In die verte van die skemering hoor ek die swart hond tjank.
Vade retro, canis niger!

Oupa?

En daar is ons gaste weg, die huis terug na normaal. Al wat bly is die herinneringe en die vrae.

Kara (ses jaar):

“Oupa, wie het vir God gemaak?”

“Oupa, as God lief is vir mense hoekom laat hy hulle verdrink?”

” Oupa, word hoenders ook doodgeskiet soos bokke?” (Na aanleiding van haar besluit om nooit weer vleis te eet nie nadat sy ‘n “jagter” se bakkie met bokkarkasse gesien het)

“Oupa, ek en Kyla het mekaar geken voor ons gebore is en besluit ons sal eendag beste maatjies wees”

Iets om oor na te dink as die skemer daal.

Inval van die Visvoete

Onse huis is oorgeneem deur die Kaapse kinders en die twee beach babes–soveel van ‘n plesierige chaos was daar lanklaas onder ons dak. Poppe en klere waar jy trap, kindertjies, net twee maar dit voel asof hulle om elke hoek en draai verskyn,  ons huis het weer lewe, dis asof die vier mure saam lag en  onthou van jare terug toe dit die ma en haar boet was wat die huis se are laat pomp het van lewe. Dis een vreugde hier in die Lewies-huishouding, ook om opnuut te ontdek dat ek die kleintjies se verspottigheid kan verdra sonder om ou man suurgat te raak. Ja man, dis lekker  om weer die kind in jouself te ontdek.

Koue voete warm liefde, my voet

 

Vanogged toe ek opstaan, hoor ek die Barracuda in die swembad klaaglik gor. Ek is nie lus om te help nie, want dis ysig koud in die helder maanlig. Maar ek moet, anders kan die motor skade opdoen. Dit voel of ek my hande in yswater insteek, en na ‘n ruk is die probleem opgelos. Met die terugkom slag na die slaapkamer toe is Vroukie reeds besig om aan te trek. Sy staan met haar rug na my en hop op die regterbeen terwyl sy skop-skop met die linkerbeen om haar voet deur die broekspyp te kry. Sy is totaal onbewus van my, en dadelik identifiseer ek ‘n geleentheid vir vrolikheid. Ek sluip vinnig nader en met een beweging steek ek my koue hande onder haar bloes in en vat haar so lekker vas, net hier onder die kortrib, terwyl ek hartlik in haar oor gil: “Surpraais!”.

Voordat jy kan sê “Drie…vyf…vier…nege!” rank Vroukie met plofkrag wat ou Victor Matfield haar sal beny boontoe. So in die sprong draai sy om, a la Jackie Chan in een of ander cheap karate-movie. Sy vat grond soos ‘n katwyfie wat gevaar sien, hare op die rug gerys, stert gepof, naels uit, die vlymskerp tande snouend ontbloot. Dan kom die peperwoorde—dit rol alfabeties oor haar lieflike lippe, sinonieme, antonieme, homonieme, keurige, kragtige krutaal. Ek staan verwonderd. Fok, Vroukie, waar leer jy die woorde?, dink ek afgunstig. Ek ken dit nie eens nie! Vir ‘n oomblik oorweeg ek om ‘n spitsvondige vergelyking te maak tussen die spoed waarmee haar adrenalien inskop en die brandstofinspuitnig van ‘n resieskar, maar dan skakel my oerbrein waarskuwend aan met ‘n bokspringende sinaps: “Lewies, jy het kak, groot kak, moenie nog meer maak nie”.

Te midde hiervan gee Pamela die werfhond ‘n tjank en sluip met die stert tussen die bene uit die kamer uit—haar chassis sleep op die grond en toe sy by die deur uitgaan, kyk sy om met sulke Pluto oë.

Dis weer ‘n kil naweek wat voorlê. koud en troosteloos soos die witgerypde kruis op die graf van ‘n gevalle Engelse soldaat daar in die Tugelavallei.

Toe ek by die werk kom, brand die straatligte nog.

Sommer stories

Ek sit vandag by die huis met so ‘n baster verkoue, nie baie erg nie en goed onderdruk met Linctagon Forte, Linctagon C, 1000 mg Vit C en Viral Choice. Of dit te danke aan die medikasies is dat ek nie so morsig siek geword het weet ek nie, maar ek hou vol om dit te drink in die geloof dat dit tog help.

Al voel ek so effe skuldig dat ek nie by die werk is nie, geniet ek dit om deur die blogs te blaai en op datum te kom met die ou gunstelinge en die minder bekendes vir my.  Pamela die werfhond lê hier by my voete in kaniene kameraderie, hier is meer as genoeg leesgoed om my besig te hou en g’n telefoon wat lui  of ontydige besoekers wat my kantoor binnekom nie. Wyk Calvyn, ek geniet dit!

Ek lees Boerseun se grappie oor die streakers in die ouetehuis en dit laat my dink aan die een:

Die drie ou manne sit op die stoep van die ouetehuis in die sonnetjie, Daar kom so ‘n mooi jong meisie verby.
Oubaas nommer een sê: “Jissie, ek sal graag haar handjie wil vashou”
Nommer twee sê : “Nee wat, ek sal haar graag ‘n soentjie wil gee”
Nommer drie se begeerte is ” Ek sal haar graag wil…wat is daai ander lekker ding wat ons altyd gedoen het?”

In dieselfde ouetehuis is ‘n ou oom en tante wat mekaar se geselskap begin aangenaam vind. Smiddae na ete gaan sit hulle in die tuin en handjies vashou. Eendag vra die oom of die tante nie haar hand voor by sy broek sal insit nie. Sy maak so, en so sit hulle middag na middag. Toe kom daar ‘n ander tante in die tehuis inwoon, en die oom en tante nommer een se vriendskap rafel uit. Eendag loop sy so alleen in die tuin en daar sien sy die oom en die nuwe inwoner sit, sy nogal met haar hand in die oom se broek. Toe kan sy dit nie meer hou nie. “Wat het daai teef wat ek nie het nie?!” skreeu sy.
“Parkinsons” antwoord die oom.

Dan het julle seker al gehoor van die twee tantes wat streak in die ouetehuis se eetsaal. “Wie is dit?” vra een oom vir sy maat. “Weet nie, maar hul rokke moet gestryk word!”

nuus bonanza

 En daar kry ons wonderlike nuus so oor die naweek–onse Kaapse kinders kom kuier. Die stof uit doerie geweste is skaars afgewas na ons kuier daar by hulle of hulle besluit om hier te kom kuier. Ons skoonseun se ouers woon ook hier in Klerksdorp, hulle is taamlik bejaard, en die kuier is eintlik om hul ontwil. Nietemin, ons is heel in ons noppies. Vroukie trap die revs in die rooi met al die voorbereidings, bed maak en bed opmaak, plek maak in die kaste, speelgoed en leesgoed uithaal. Dis ‘n hele bedrywigheid hier in ons huishouding, maar ons doen dit met liefde en groot afwagting.

Die moeilikheid met Lewies

 

Vanoggend se morestond had voorwaar goud in die mond. Lekker naweek wat voorlê, die weerman sê 18 grade hier in Klerksdorp, amper ‘n hittegolf na die week se bibberkoue. Ek en Vroukie brekfis lekker in die nuwe Wimpy hier naby ons. Ons kyk mekaar so diep in die oë oor die bacon en sunny side up eiers. Ons gesels oor ons kinders, ons kleinkinders, ons aftreeplanne. Selfs dit lyk nie meer so skrikaanjaend in ons gemoedelike gemeensaamheid nie. Ons gelukkige en tevrede samesyn is die perfekte voorspel (!) vir die res van ‘n heuglike naweek.

Dis voor die moeilikheid begin het.

Ons loop hand aan hand kar toe. Ek is seker die verbygangers kan ons huweliksgeluk aanvoel-twee mense op pad na die senior jare, nog steeds handjiesvashouerig. Ek laai Vroukie by Salon du Maison de Phillipe et Michael af, ons soengroet soos in Casablanca. Ek onderdruk ‘n jeugdige drang om die taaiers te laat tjank toe ek wegtrek.

So ‘n uur of wat later bel sy. Salon du Maison de Phillipe et Michael het sy werk gedoen, ek kan haar kom haal. Op pad daarheen besef ek ek sal nou gepaste geluide van bewondering moet maak. Nee maar dis reg, ek kan dit doen, ek is goed daarmee, ek het dit al baie gedoen. Ek kan oe en aa as dit moet.

Daar staan sy, die hare kreatief gerangskik in ‘n nuwe styl, blink en styf gespuit. As ek maar net haar gesiguitdrukking en lyftaal gelees het.

“ My hene Vroukie” sê ek uitgelate, “ Jy lyk nou mos nes Mevrou Dominee by die Nederduits Gereformeerde Sinode Bal, all dressed up and no place to go! Ek dog jy gaan na Salon de wat en de wat toe, nou sien ek jy was by Creative Hair!”

Vroukie se lippies trek so ‘n dun streep in haar gelaat. Sy gee my ‘n kyk wat die ryp op die Vrystaatse grasvlaktes sal laat smelt. “Baie bliep snaaks” sê sy. “Jy is ‘n regte grapgat vandag. Kyk hoe lyk my blerrie hare, en nou maak jy nog bliepen grappies daaroor!’

Dis waar die moeilikheid begin het.

En dis blerrie koud so alleen in die hartjie van die winter.

Ja, joune ok!

 Daar in die Kaap sien ek hierdie grafitto op die mure: “Jou ma se epos”. Glo die handewerk van ‘n disleksiese bergie.

Met die terugkom slaap ons in Victoria Wes oor. Ek stop by die bottelstoor vir ‘n ietsie teen die koue. Daar is ‘n oompie besig om die assistent, ‘n jong meisie, aggresief te treiter, tot sy vir kom sê: “Kry jou ry” Pront snou hy haar toe: “Jou ma se gat” “Jou ma s’n ook”, antwoord sy.  Nou is die ou erg gekrenk “Jy moenie so van my ma praat nie!”