Blikke, koeke en koekblikke

 

 

 

“Jeeeslaaik Vroukie, wat maak jy met al die blikkies en botteltjies hier in die kas? Spaar jy vir die oudag? As ons eendag daar in Huis Westergloor sit kan jy jem kook vir die ouetehuis se basaar ter stywing van fondse en dit in die botteltjies verkoop”

 

“Grapgat. Mens kry nogal so af en toe ‘n botteltjie nodig om iets in te bêre”

 

“En kyk al hierdie koekblikke. Waarom bêre jy dit? Of gaan jy koek bak  met ons vyftigste troudag?”

 

“Ek bêre dit want mens kan dit nodig kry. Mens hoef ook nie net koek daarin te sit nie”

 

“Kyk net hierdie een met die blonde dogtertjie en die spaniels. Lyk soos die HNP se verkiesingsplakkaat daar in die sestigs: Stem HNP vir haar onthalwe. Bly blank my volk. Ek dink sy trek nou al seker ouderdomspensioen. Wat is die? Ek sweer dis koekkrummels van ons troukoek”

 

“Jy is baie witty vanaand Lewies. Die blikke pla jou nie, los die goed. Ek sal dit weggooi as ons nie meer nut daarvoor het nie”

 

“Onthou jy nog daai troukoek van ons? So ‘n witgepleisterde graf—lyk moer smart op die tafel en op die troufotos maar as jy die bleddie ding eet slaan ‘n sooibrand jou soos die vlamme van ‘n veldbrand. Troukoek, koue hoenderboudjies en warm sjampanje, die main ingredients van ‘n Boeretroue”

 

“En soenerige ooms en ‘n vuilbek seremoniemeester.”

 

“Tant Koek se Hoenderhaan en Kinders by Dosyne”

 

“Ons troue was darem nie so nie, Lewies, dit was lekker. Ek wens ons kon dit weer doen, ek sal selfs weer met jou trou”.

 

 Haar stemtoon is tergerig. Sy kom nader en vat my gesig tussen haar hande. Sy soen my so mwha-mwha op my bles. Haar stem is donker en ondeund. “En buitendien, jy was nog nooit onwillig vir daai troukoek nie!” Die “daai” is gelaai met suggestie, ek hoor die twienkel in haar stem. “Nie waar nie Skapie?” fluister sy in my oor. Skielik klink dit of die Hormoonse Tabernakelkoor die Aambeeldliedjieding in my kop aanhef,  die hamer en aambeeld slaan so four time, dit  klink of daai outjie van Noot vir Noot ‘n toeval agter die dromme kry, die stiebeuel ritteltit asof ‘n steeks donkie met hom bokspring.

 

“Vroukie jong, die braaivleisvuur gaan uitbrand en…”

 

“En wat dan? Dan maak jy ‘n ander een”

 

En toe band die vuur uit,

 

( maar gelukkig het ek gister ‘n sak selonsboshout langs die pad gekoop, en kon ek die vuur weer opstaart)

 

Nee man, nie selonsbos nie, sekelbos!

24 thoughts on “Blikke, koeke en koekblikke”

Leave a reply to loudavisi Cancel reply