Klapsoen of windsoen

My ma se familie was soeners, en as klein seuntjie moes ek anties en niggies en kleinniggies voor die voet soengroet, en bewaar jou siel as jy die soen afvee! Pure ongemanierdheid en glad nie geduld nie. Daar was ‘n hele klomp anties in die familie,  vernoem na die stam antie, Johanna. Om onderskeid te tref is die anties dan verder vernoem na die plaas waar hulle gewoon het, sodat die plaasnaam a’t ware hulle van geword het. By menige  familiebyeenkoms het my ma my dikwels opgekommandeer: “Lewiesie, kom groet vir Antie Johanna Langsloot”, of  Antie Johanna Diepsloot, of Antie Johanna Droësloot. So het ek later geleer om al wat rok dra by verjaarsdae, troues of begrafnisse te soengroet. En dat dit die regte en gewaardeerde manier van groet was hoor ek eendag toevallig toe  Antie Johanna Erfdeel vir Antie Johanna Smaldeel sê sonder dat hulle nou weet dat ek binne hoorafstand is “Die Lewiesie is darem ‘n deetlike kind. Hy’t sulke mooi maniere”, waarop Antie Johanna Smaldeel antwoord”Die arme kind is ok nou nie juis’n oilpainting nie. Kry dit seker van sy pa se kant af.”

Later in my volwasse jare kom ek toe agter dat daar ook ‘n ander manier van groet is, naamlik die kontinentale kus, ofte wel die wangsoen of lugsoen. Mens kan dit seker  ook die droë soen noem. Dis nou daai een waar jy die vrou wat gegroet moet word so tuitbek benader en dan op die nippertjie net voor jy kontak maak, draai sy haar wang sodat jy soos ‘n guppie lug hap. Dis egter ‘n groot verleentheid , vir die manlike soener, as die wegdraai ‘n breukdeel van ‘n sekonde te laat plaasvind en jy skielik met ‘n vroulike oorlelletjie in jou mond sit. En Cosmopolitan en Esquire en al daai is verkeerd–die vroulike oorlel is nie ‘n erogene area nie. Inteendeel, die oorlelletjie is niks anders as ‘n stukkie kraakbeen omhul met ‘n harige stukkie vel nie–dit proe nes droë sjemmie.  En nou moet jy sonder om aanstoot te gee van daai oorlelletjie in jou mond ontslae raak. Jy kan byvoorbeeld jou lippe saampers en die lelletjie delikaat en saggies uitspu soos ‘n olyfpit by ‘n deftige onthaal, of jy kan bloot oopbek staan totdat sy wegdraai met oorlelletjie en al.

Nee kyk, ek het nooit kon dink dit sou so moeilik wees om te soengroet nie. Dit was so eenvoudig toe ek nog Lewiesie was.

 

 

 

 

 

 

33 thoughts on “Klapsoen of windsoen”

  1. Hehe,Lewies op sy stukke!Ek het in ‘n famlilie ingetrou,waar die tantes jou in so ‘n kopklem vasvat en jou dan vier tot vyfkeer naderpluk en met elke pluk ‘n pik op jou lippe neerplak…iets ysliks!😁😝

  2. Oeg, ek onthou daai soene en ek is ook gedwing om ‘n “deetlike” kind te wees, met my pa die hoofouderling en so aan! Deesdae vermy ek baie beleefd om hand te skud ook – al daai kieme en wie weet of mense hulle hande was wanneer hulle … Moving on. Ek gee net so ‘n Rooi Indiaan saluut met ‘n vriendelike glimlag en behou my afstand.

    1. Toe ek nog gewerk het moes ek die three step handshake dosyne keer per dag doen. Touch my blood, se hulle dan, en hoe kon mens weier? Ek had so ‘n tjoepie waterlose seep in my laai vir noodhulp na die groetery. (Een dag toe bied ek ‘n vroulike besoeker daavan aan toe sy kla haar hande is vuil, seker KFC, toe se sy ” It stinks nice!”)

      1. Bwahaha. Ek weet van daai handshake – ons het in Absa Campus gewerk; vyf toringblokke vol mense, ingepak soos sardientjies. Hulle higiëne was egter op ‘n hoë standaard en ons het die sanitzing soap in al die badkamers gehad (nie die soort wat lekker stink nie, maar dit was baie effektief). Ek het tot vandag toe nog die gewoonte om deure oop te druk met my elmbook, want dis een deel van my liggaam wat nooit in my mond beland nie.

  3. Ons familie het nie gesoen nie, en min kontak met ander mense gehad. Ek was al groot tiener toe ontmoet ons neefs en niggies wat ons nie geken het nie. Die klomp het almal so vreeslik gesoen en ek was geskok maar later die aand toe susters en broers mekaar nag soen toe gaan ek amper dood soos ek gril maar vir hulle was dit dood normale gedrag.

  4. vuurklip het ‘n broertjie dood aan daardie gesoenery – veral as dit minder bekende bekendes is.

    vuurklip mik naarstiglik na die windsoen metode.

    Die klapsoen is beperk tot net één huisgenoot.

  5. EK het ‘n rou knoffel byderhand gehou en as daar ‘n tannie is wat ‘n see-bek soen gee (Haar lippe is natter as ‘n oseean van speeksel) het ek skelm ‘n paar happe knoffel gevat sodat my asem na dit ruik. Sekere tannies het toe geleer om my uit te los, maar nie almal nie.

  6. En ek het my nou oopbek sit en verwonder. Ek is ook met soen grootgemaak en het al geleer om my mond mooi ongesiens af te vee. Goeie maniere of nie!

  7. Ek is ook nie ‘n soener nie. Op die vasteland, waar ons ons nou bevind, is dit behoorlik, ‘n nee-nee en is mense ongemaklik as dit in die openbaar gedoen word. Soen op die mond, is net vir jou vrou/man of die een met wie jy in’n verhouding is, wat my 100% pas.

  8. Ek gril steeds by die dink aan stoppelsnor/baard ooms en kwylbektantes se soene en as gevolg windsoen behendig in die lug.

  9. Ooooë… v… ve… vere!!
    Nou’t ek lekker gelag! Al daai anties en soene en slote! Dit laat my toe wonder of daar ‘n antie diepsloot was?
    Ja… toe ek en jy Koosie en Lewiesie was, was dinge veel eenvoudiger!! 😉
    Dankie 😛

Leave a reply to HesterLeyNel Cancel reply