In die land van die blindes en op plekke van onthou

 
Ek was in die week vir twee dae in Mafikeng by ‘n workshop waar daar ook ‘n klompie blindes en gesiggestremdes was. Dit was opvallend hoe hulle saamgestaan het en mekaar gehelp het. Die van hulle wat darem bietjie sig het het vol vertroue die res onder die vlerk geneem. Op ‘n deernisvolle manier was dit nogal snaaks om te sien hoe Eenoog voorloop en deur sy makkers gevolg word, so in enkel gelid, die een met die hand op die ou voor hom se skouer.

Dit het my laat dink aan oorle Oom Coenraad, my ouma se broer, wat glo deur ‘n rinkhals in sy linker oog gespoeg is en toe blind geword het. Ons kleintjies was skytbang vir die oom wat ons met die wit oog aangegluur het. By die familiefeeste het Oom Coenraad so met sy elmboë langs sy bord kos gesit en almal aangemoedig “Eet, kêrels, eet daar is nog baie” terwyl die sous hier langs sy kiewe afdribbel.

By een so ‘n byeenkoms vra my ouma vir Nant, een van die nefies, “Wil jou nog iets hê?” waarop hy, reeds moeg geëet, antwoord “Vleith Ouma,vleith”

Nou onlangs kuier ons by ons nuutste swaer en soonsuster op hul plaas. Hy is enige kind se droom oupa, want “Nee” vir die kleinkinders bestaan nie in sy woordeskat nie. By die geleentheid sit ons op die stoep. Daar is ‘n tafel met allerhande lekkernye, broodjies, kaas, biltong en wat nog. Die jongste kleinkind, ‘n laatie van so om en by twee, pak lekker in. Sy ma en ouma probeer keer, maar die oupa sê net “Los die kind, hy groei, hy moet eet”

Toe die outjie nog ‘n stukkie kaas probeer inprop, staan hy hier by my, en ek kon sweer ek sien hoe lê die kos reeds kant aan wal hier in sy keelgat. Die volgende oomblik, sonder enige waarskuwing, kots hy geluidloos dog skouspelagtig. Konsternasie. Oupa word pront uitgekak, Ouma storm vir ‘n lap, Ma raap die laatie op, hy lyk doodverbaas oor die ding wat hy nou reggekry het. In die harwar sluip Lendelam, die mank plaashond, opportunisties nader en met ‘n paar happe en lekke maak hy skoon. Toe lyk dit of almal wil saam kots en arme Lendelam kry ‘n skop onder die gat. Daarmee is die party toe in sy moer.

Aan al die moeders en oumas, ag sommer vir die moeders en oumas to be ook, mag julle ‘n memorabele Moedersdag beleef! Vroukie het ‘n pakkie uit die Kaap gekry, met allerhande lekker en interessante dinge, en natuurlik kunswerke van die twee beach babes. Maar ek is nie jaloers nie, Vadersdag kom.( Moedersdag is mos nege maande na Vadersdag!)

18 thoughts on “In die land van die blindes en op plekke van onthou”

  1. daggggggg lewies. ‘harwar’ is steeds een van die mooiste Afrikaanse woorde. Letterlik in my kop

  2. Hi Bloues, snaakse woord daai, ek hou ook van harlaboerla, maar dit klink so bietjie opstêrs, of mens wil afshow.

  3. Hi Lewies, wat is nou weer daai gesegde soort soek soort? of so iets? Ons kinders het saam ‘n huis gedeel:-))

  4. Ons sal maar sien van die Vadersdag Miesies Lee, as ek nou net nie weer my voet in my mond sit nie!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s