So is die lewe in Hermanus

Ek was bitter lank laas op die blogs bedrywig, ek sou nooit kon glo dat  die intrekkery in ‘n nuwe huis mens so besig kan hou nie. Hier is gedurig een of ander gewerskaf aan die gang. Op die oomblik is ons besig om die tuinmuur te herstel en hoër te maak sodat die die twee honde, Pamela en Chopper vrylik in die hele erf kan beweeg. Van stap met die honde is daar nie sprake nie, Pamela het as ‘n uiters getraumatiseerde hond by ons aangekom, omtrent vyf, ses jaar gelede, en ten spyte van herhaalde pogings kon ek haar nooit aan ‘n leiband gewoond maak nie. Ek het ‘n paar keer met die twee in die parkie oorkant ons huis gaan stap sonder leibande, maar die laaste keer kies Pamela al snuffelend koers na Main Road met sy hewige verkeer, horende doof. Op die nippertjie, op die randsteen van Main Road, draai sy terug. Toe besluit ek nooit weer nie, dan maar liewer beperk tot die erf.

Ons bure aan beide kante het baie moeite gedoen om ons te laat tuis voel. Hulle is ook afgetredenes en woon al lank in Hermanus. Die een klomp het ons saamgenooi na die Hermanus Afrikaanse Kultuur en Ontspanningsklub, waar Wilna Snyman oor haar lewe gesels het. By die geleenteheid is daar ‘n beroep op die jonger garde gedoen om by die vereniging aan te sluit, “mens van so sestig jaar “! By daardie byeenkoms word ons voorgestel aan ‘n klomp mense, almal afgetree, die een was ‘n proffie, daai een hoog op in die Reserwebank, die een dit en daai een dat. Voorwaar ‘n uitgelese klomp mense.

Die tuinmakery lol, die tuin het vir ongeveer twee jaar braak gelê. Ons begin stadigaan leer van die verskillende plante wat hier aard. Nou dat die tuin nategelei word peul daar allerhande lelies uit. Hoewel tuinmaak nie ‘n dringende prioriteit is nie, wil ons darem ‘n area hê waar ons buite kan ontspan.

Gaandeweg kom alles bymekaar, en word ons huis al hoe meer ‘n haard. Tussen al die gewoel deur maak ons tyd om natuurskoonh van die omgewing te geniet en om al die lekker kuierplekkies te ontdek. Vroukie het ‘n stresfaktuur in een voet opgedoen wat verhinder dat ons lank en ver kan stap soos wat ons van gedroom het. Dis ‘n hardnekkige besering wat nie wil bes gee nie, ondanks fisioterapie en twee besoeke aan’n ortopeed. Hulle skryf rus voor, maar hoe rus mens nou ‘n voet as daar so baie dinge is wat gedoen moet word?

 

 

Advertisements

25 thoughts on “So is die lewe in Hermanus”

  1. Aha lekker om die emeritus te sien! Interessant om te sien dat julle nou ook hoog op is. Ek is bly dit gaan goed.

    *fluister* ‘rus’ beteken dat die emeritus die werk moet doen en die voet op ‘n stapel kussings moet rus!

  2. Ek het slegte nuus vir vroulief – daardie ding is geneig om weer en weer terug te kom as dit eers begin het. (hoop egter ek is in haar geval heel verkeerd!)
    Geniet die nuwe lewensomstandighede!

  3. Ek is bly julle is so besig, maar julle moet darem kans gee om oor die skok te kom. Jy plant nie ‘n boom oor en dan groei hy sommer net nie hy moet eers ‘n rukkie laag lê sodat die wortels kan gewoond raak………Luister na die dokter hy is reg………

    1. Jy is so reg Monica, maar mens wil mos hê alles moet nou reg wees. Oorblyfsel van die rat race waaruit ons ontsnap het.

  4. Hi ons was in jou dorp gister. Nadat ons (uiteindelik na ‘n halfuur) parkering gekry het en toe NIE besluit het om onverrigter sake terug te draai Kleinmond toe nie, het ons besluit dit lyk na ‘n lekker plek (-;

    1. Parkeerplek is ‘n probleem hier. Gelukkig is ons huis binne maklike stapafstand van die middedorp, dis te sê as jy nie ‘n voetprobleem het nie!

  5. Dis great Lewies
    Klink of julle al deel is van die gemeenskap…van boekklub tot whale watchers…hehehe

    Geniet dit tenvolle

    1. Ja dit is, Perdebytjie, en as ek die nuus sien oor wat nou in ons ou dorp aan die gang is, kon die tweede lewe ook nie later gekom het nie!

  6. Bly dat julle so goed gevestig het. Jammer van die besering. Gelukkig hoef jy nou nie weer laat te kom vir die werk nie, maar dalk laat vir afsprake met die hôgere mense.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s