Sommer strooi en ander verstrooisels

Taai man, taai. Taaier as ‘n Firestone All Terrain taaier. Dis nou die Beef Potjiekos vleis wat ek hier by Food Lovers’ Market gekoop het. Die twee werfhonde Pamela en Chopper het ruim oorskiet gekry, en nou sit hulle met sulke hangbekke, sweerlik verstuite kakebeen. Maar ek moes die groter prentjie gesien het, daai vleis was teen R59, 99 per kilo netjies uitgestal in die rak langs die getrimde fillet teen meer as R200, 00 per kilo. Dan moet jy mos nou weet jy koop bedenklike kwaliteit. Maar goodness, met die feesseisoen op hande is die vleispryse besig om die hemel in te skiet. Vroukie sê ons moet die Krismisete kreatief herbeplan, die tradisionele vleisbraai gaan nie werk nie . Bid jou aan, R200, 00 per kilo, sommer netso, sonder blik of bloos. Ek kan goed onthou toenterjare, in MY dae, soos die ou ooms in die familie altyd gesê het, het rump steak R3, 00 per kilo gekos daar by Cigler se slaghuis in Bethlehem waar ons ons getroude samesyn begin het. As ons nou rerig uitspattig wou wees koop ons fillet teen R3, 30. Vroukie had so ‘n lekker resep waar jy die fillet steak in skywe sny en dit in rooiwyn laat marineer. Dan braai jy dit in botter. Eenvoudig, selfs ek kon dit met sukses voorberei, en baie lekker. Dan bly daar nog rooiwyn oor vir die drink. Ons woonstelhuur was R35, 00 per maand, toe word dit onverwags opgeskuif na R36, 00. Dit kon ons darem bekostig, ek het immers R300, 00 per maand verdien en Vroukie R150, 00.

Kyk, die dierelewe hier in Hermanus in is vreemd vir my. Slakke ken ek, maar die variëteit wat ons hier aantref verstom my. Hulle is reusagtig groot, jy kan hulle hoor as hulle oor die gras seil, seil, nie kruip nie. En hulle vreet soos ‘n swerm sprinkane nie kan dink om te doen nie. Vandag het jy blomme, more is daar net gate. En die spinnekoppe! Ek word nou die nag wakker van so ‘n benoudigheid op my bors, dag dis ‘n dreigende hartaanval, toe is dit al die tyd ’n spinnekop wat op my bors kom nesskop. Toe ek hom verjaag voel ek hoe sy voete op my trap. En ek het nogal onder ‘n kombers gele^.

Nou die dag loop ek met die honde in die begraafplaas. Daar gewaar ek ‘n slang wat oor een van die grafte seil. ‘n Knewel. Hy seil oor ‘n dubbelgraf, sy kopkant is al oor die graf toe is die stertkant nog nie eens op die graf nie.Ek het groter vir die bleddie slang geskrik as wat ek vir ‘n spook sou skrik.

Ek het darem ‘n oplossing vir honde se vernietigende gatgrawery gekry. Ek kry toe mos hierdie blink ingewing: ek plant Venus Flytraps in die beddings, en as die honde dit in die beddings waag dan byt die blomme hulle! Snags hoor jy net honde tjank soos daai Flytraps hul tande inslaan. Maar g’n gegrawery meer nie.

Tja’k, so leer mens die trieks van die lewe.

30 thoughts on “Sommer strooi en ander verstrooisels”

  1. Daardie salarisse ..klink so bekend – onthou ons het ‘n Datsun 1200GX gery, volgemaak met R4,00 petrol – aangepas by klein salaris, was dit ook maar duur. Ek kan nie my salaris onthou, ek het nogal gedink dit was baie..ai toggie.

  2. Ons eerste agterkwart het R30.00 gekos…’n hele vrieskas vol vleis!
    Lekker lag ek vir daai flaaitreps…help dit teen honde se gehurk ook?

      1. Haha!Dis uitstekend…wat van pampoenpitte,tamaties en bone?Dan kry jy sommer ‘n gratis groentetuin sonder om ‘n vinger,of is dit nou ‘n bol? te lig!

  3. My 1955 Fiat 500 se tenk was vol met 50c.

    Ons Great White Hunter grawe kruipmolletjies uit wat sy dan dood vermoor – maar sy’s niks bang vir flaaitreps nie.

  4. Jy moet nou nog kennis maak met ons skerpioene, streepmuisies , ystervarke ens. En daar waar jy bly is mos bobbejane ook wat soms daardie R200 se steaks uit jou yskas gaan kom uithaal.

  5. Hier waar ons is, sukkel ons met daardie spinnekoppe se drade wat hulle in die nag oor die pad span. Die motorfietsryers, moet sulke geboë staal bo-oor hulle sit om daardie drade af te keer, anders is dit soos staaldraad wat oor die pad gespan is en kan erge beserings veroorsaak. Ons eet deesdae net tong en stert van die bees, vir die res is ons tanne tè stomp. Daardie snitte is gelukkig hier goedkoopq

    1. Jis, daai spinnekoppe laat my dink aan die wat Die Swart Luiperd in Braam le Roux se boeke mee te doen gekry het, hulle was so groot soos ‘n Foxterrier brakkie en die spinnedraad so dik soos ‘n man se duim!

  6. Laat jy mou nou huil en dan lag en dan weer huil, dis seker waar die spreekwoord vandaan kom; ‘n lag met ‘n traan….

  7. Hiehiehie! Oulik geskryf! Al wat hierdie skryfstukkie nou kort is ‘n foto-kie van of die vleis, of van die slakkie of die slang in begrafplaas. Gebruik sommer jou selfoon? Dan was dit ‘n volmaakte storie. Lekerrr gelees! Dankie.

  8. hahahaha Lewies…ek gaan vir my ook van daai flytraps kry

    Ja mensig vleis is duur en as jy goedkoop pad gaan is taai donkie seker op die menu

      1. Rooi Boet Hy was ROOI en later toe Alfa uit die land ontrek het het ek klein ROOI een gery…. sug maar baie geleer … rooi is dalk windgat maar nooit weer nie want jy sien elke liewe merkie

        1. Ek het ‘n rooi Fiat 124S gehad,, ook lekker windgat. Namate ek ouer geword het het die kleure van my karre ook meer besadig geraak, die afgelope klompie jare net wit. Maar demmit, daai rooi jare was lekker!

  9. Die pryse het definitief skerp gestyg in die afgelope twee maande. As ons vleis koop kies ons maar altyd die beste al is dit die duurste want ‘n mense mors net geld op die “winskopies”.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s