Le jou eier: As ek maar liewer nie…

Ja ja, ek weet daai uitdaging is nou al verby sy sell by date en van die rakke verwyder. Weer reenerig en koud hier in die Overberg, nou krap ek maar in vergange se skrywes en kom op die een af. Ok, hier gaat hy:

O DIE PYNGEDAGTE

Dis jou skuld Bacchus

Dat ek vandag

In die kak is.

 

Wrang, o wrang die vrugte van die wingerd, en bitter, ja bitterder as gal die wroeging van spyt en selfverwyt, en beskamend die verleentheid van roekelose oordaad. O! Dat ek my stem verhef het teen Vroukie! ‘n Skandelike smetvlek! O! Wou dat Zeus my eerder bliksem met ‘n skitterskig vanaf Olympus, of dat ek weggeraap word na die droewige Hades van  die weggeraaptes, of dat ek die swart buitenste duisternis ingewerp word, om vir ewig eensaam deur die Ewige te wentel saam met Sojoesj Ses,  eer ek my stem verhef het teen Vroukie!

En toe doen ek wat ek dink ‘n man moet doen as hy in die kak is. Ek sit my beste voet voor. Ek vra hartlik en inniglik ekskuus. Ek maak oggendkoffie en lewer dit af. Ek maak brekfis, weliswaar net muesli en jogurt en melk, maar darem. Ek haal ewe farmaseuties haar vitamiene tablette vir die dag uit, sommer ‘n dubbeldosis, en ook allerhande profilaktiese medikasies. Ek sit ‘n skoon glas met water daar neer vir die drinkslag. Ek maak die bed op, alleen. Ek vou haar pajamas netjies op en bêre dit onder haar kopkussing. Ek sit tandepasta op haar tandeborsel. Ek borsel nie my tande met haar borsel nie. Ek tel die tydskrifte in die toilet op. Ek vee die toiletbak se rand af en laat die deksel sak. Ek haal die leë toiletrolletjie af en sit ‘n nuwe een in. Ek tel my klere van die vloer af op en gooi dit in die wasmandjie. Ek sit die wasmandjie se deksel terug.  Ek maak die garage se deur oop. Ek sit haar laptop in die kattebak. Ek probeer haar koebaai soen. Die aand skink ek vir haar ‘n glasie van my ses jaar en ‘n maand oue KWV, daai wat ek verlede jaar as 5 jaar oue KWV vir my verjaarsdag gekry het. Met vier stukkies ys en ‘n katspoegie water. Ek weerstaan wyslik die versoeking om vir my ‘n dubbel te gooi.

Sy sit in die woonkamer voor die TV toe ek dit afgee. Sy sit op my plek. Sy swaai die remote soos ‘n septer. ”Bring vir my ‘n stukkie sjokolade, “ sê sy.  Sonder asseblief. “Twee blokkies”. Sy kyk vir my. “Tjik Tjik” tjik sy soos daai merrie in die Toyota advertensie. Chopper kyk op van waar hy op die matjie voor die TV lê. Hy trek sy stert, wat gewoonlik soos ‘n  windpomp waai in die noordewind, tussen sy bene in. Sy ore hang soos verlepte pampoenblare in ‘n hittegolf. Hy sluip soos ‘n amoeba by die deur uit. Pamela spring regop, haar ore gespits. Sy kyk my reg in die oë. Ek sweer daar is ‘n smaail op haar brakgesig. Chicks stick together.  “En dan kom sit jy hier by my en kyk TV, “ vervolg Vroukie. “Maar Vroukie, dis dan Pasella. Jy weet ek kan nie daai idiotiese gegrinnik van die aanbieders hanteer nie”

“Ek weet,” sê sy. “Kom sit” Ek gaan sit. Op haar plek. Pamela slaan met ‘n tevrede plof neer. Chopper loer versigteig om die kosyn.

Slapenstyd vra ek, “Vroukie, is jy nog kwaad vir my? Ek weet ek het my soos ‘n otter gedra maar jy kan seker nie altyd vir my kwaad bly nie.”

“Nee Lewies, ek is nie meer vir jou kwaad nie .”

“Nou waarom martel jy my met Pasella?”

“Want ek kan.”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

17 thoughts on “Le jou eier: As ek maar liewer nie…”

  1. Want ek kan. Whahaha. Klassiek! Skitterend. O en van skitterend geskryf – ek hou daarvan as jy my woordeskat so uitbrei. Skitterskig. Ek het nooit geweet wat ‘n skig is nie – nou weet ek dansy Lewies en my (per ongeluk) gesteelde Pharos.

        1. Haha, goeie beskrywing. Ek vermoed ek gebruik so nou en dan ‘n woord of uitdrukking wat die jonger geslag laat frons, maar gewoonlik kan jy (soos met ontfutselde) die oorsprong kry in die Nederlandse woordeboek – go Google!

  2. Kyk nou net hoe wonderlik het jy herstel wat jy so opge…mors het, Lewies. En natuurlik het jy so voortgedoen, al die regte dinge bly doen wat ñ liefdevolle man vir sy vroukie doen? Jy is voorwaar ñ voorslag vir ñ man. ñ Goeie voorbeeld.☺

Leave a reply to katrina Cancel reply